Topmatrieks: ‘Die mens is gebore om uit te staan’

Gunter van der Walt

Gunter van der Walt

Hy glo ’n mens is gebore om uit te staan en daarom kan hy nie sien hoekom hy moet probeer inpas nie.

Met dié lewensbeskouing het Gunter van der Walt van die Hoërskool Bothaville in die Vrystaat sewe onderskeidings gekry. Sy vakke was Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe en besigheidstudies.

Hy gaan vanjaar BSc chemiese biochemie aan die Noordwes-Universiteit (Pukke) studeer. Hy beplan om uiteindelik op forensiese wetenskappe te konsentreer of iets in die biochemiese bedryf te doen.

Gunter skryf sy sukses toe aan die ondersteuning van sy ouers, selftrots, selfdissipline en ’n dryfkrag om te presteer. Albert Einstein is sy grootste rolmodel omdat hy slim en kreatief was en “buite die boks kon dink”.

“Hy het my geïnspireer om alles om my te bevraagteken en voortdurend nuwe dinge te leer.” Gunter het regdeur sy hoërskoolloopbaan ’n gemiddeld van bo 90% gehandhaaf.

Hy het aan redenaarskompetisies deelgeneem en was drie jaar die wenner. Tydens ’n provinsiale Afrikaans-olimpiade verlede jaar het hy onder die top 20 geëindig.

Gunter se talente hou ook nie by akademie op nie. Hy speel kitaar, skryf self musiek en hou van poesië, rekenaars en om rugby te speel. Gunter beskou homself as geesdriftig en toegewyd. “Ek glo nie daarin om dinge half te doen nie. Ek is baie gebalanseerd en spandeer ewe veel tyd aan akademie, sport, kuns en my vriendekring. Ek is sagmoedig en die mense in my lewe is vir my baie belangrik.”

Gunter is die seun van Pine en Sonja van der Walt. Hy het ook ’n sussie, Sanet, wat vanjaar in gr. 8 is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.