Topmatrieks: Francél styg bo omstandighede uit

Francél Geyer

Francél Geyer

Francél Geyer van die Hoërskool Pietersburg in Limpopo het ondanks ʼn groot terugslag in haar matriekjaar steeds daarin geslaag om akademies te presteer.

Haar ma, Susan, is skielik aan ʼn hartaanval oorlede. “Ek onthou dit soos gister. Dit het op 25 Julie gebeur, kort voor die rekordeksamen. Ek het langs haar in die bed gelê toe sy skielik ʼn hartaanval gekry het. Sy was maar 50 jaar oud.”

Francél spog met sewe onderskeidings. Sy het A’s gekry in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp, lewenswetenskappe en lewensoriëntering.

“Ek wou presteer. My ma het altyd in my talente geglo en dat ek my potensiaal moet bereik. Sy het van kleins af vir my opsommings gemaak en my altyd ondersteun. Sy sal altyd my rolmodel bly.”

Francél gaan vanjaar tandheelkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer. “Ek wou nog altyd ʼn tandarts word. Ek het gereeld in vakansietyd by ʼn praktyk gaan werk. Ek het dit baie geniet.”

Haar gunstelingvak was wiskunde. Haar pa, Louis, is ʼn siviele ingenieur en het haar met moeilike vakke soos wiskunde en fisika gehelp. “Ek het die beste in wiskunde gedoen. Ek hou van syfers.”

Sy het van gr.8 af erekleure in akademie ontvang. Francél het ook hokkie gespeel en aan redenaarskompetisies deelgeneem.

Haar raad aan toekomstige matrieks: “Let op in die klas en werk ou vraestelle uit.”

Francél se lewensfilosofie sluit aan by haar ervarings.

Lewe elke dag voluit, want dit kan binne sekondes van jou af weggevat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Corlia van den Worm ·

Baie geluk Francél! Voorspoed en baie sterkte met jou toekomsplanne!
Weet sommer jy gaan nog ver kom in die lewe en ‘n groot sukses van jou studies maak. Drukkie vir jou x

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.