Topmatrieks: Helgard volg Einstein se advies

Helgard Brink

Helgard Brink

“Moenie probeer om ʼn suksesvolle man te word nie, maar eerder ʼn man van waarde.” Helgard Brink, verlede jaar se onderhoofseun van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, leef volgens dié woorde van Albert Einstein.

Die slimkop het agt onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal. Hy het A’s in Afrikaans, Engels, Frans, wiskunde, fisiese wetenskappe, ekonomie, inligtingstegnologie en lewensoriëntering gekry.

Helgard gaan vanjaar BCom Rekeningkunde by die Universiteit van Pretoria studeer. “Ek sal graag my eie besigheid wil begin as ‘n finansiële raadgewer.”

Helgard is verlede jaar aangewys as Gauteng-Noord se belowendste hokkieskeidsregter. “Ek het op die ouderdom van 12 jaar as skeidsregter begin blaas. Daar was geleentheid vir die kursus en ek het dit aangegryp.”

Sy skool het hom as kultuurseun van die jaar aangewys. “Ek was koorhoofseun, en kaptein van die eerste hokkiespan.”

Sy gunstelingvakke was Frans en wetenskap. “Beide hierdie onderwysers het die hele klas by die les betrek. Ek het ook altyd uitgesien na Frans. Dit was ʼn buitegewone vak waar jy net die taal kon aanleer.”

“Ek het altyd in die klas opgelet, sodat ek die werk kon verstaan, en dan net herhaal.”

Die geheim van sy sukses is:

Vind altyd ʼn manier om alledaagse dinge op ʼn ander manier aan te pak, soos om jou tande met jou ander hand te borsel.

Sy pa, Neels, is sy rolmodel omdat hy alles wat hy doen op ʼn eerlike manier aanpak. “Hy hanteer ander mense altyd opreg en dit maak dat ek na hom opkyk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.