Topmatrieks: Kultuurdier gaan medies studeer

Nina du Toit

Nina du Toit

Nina du Toit beskryf haarself as ʼn kultuurdier wat vir enigiets kans sien.

Dié slimkop van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria spog met agt onderskeidings in die matriekeindeksamen. Sy het A’s in Afrikaans, Engels, Frans, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, besigheidstudies en lewensoriëntering.

Nina was van gr. 10 af deel van haar skool se redenaarspan. Dié span is voormalige wenners van die Van Huyssteen-oratorsfees. Sy het ook aan debat en drama deelgeneem en het netbal en swem geniet.

Nina gaan vanjaar medies aan die Universiteit van Pretoria studeer. “Ek het al in gr. 9 besluit dat ek medies wil studeer en hard gewerk om keuring daarvoor te kry.”

Haar pa, dr. Francois du Toit, is ʼn lektor by Unisa en haar rolmodel. “Hy het nooit ophou studeer nie en ek het baie respek daarvoor.”

Op skool was haar gunstelingvakke wiskunde en Frans. “My Franse-onderwyseres is ook vir my ʼn rolmodel. Sy het al die wêreld gesien en soveel lewenswyshede met haar leerders gedeel.”

Nina skryf haar sukses toe aan ʼn wye algemene kennis en ʼn goeie balans tussen akademie en ontspanning. “Ek het verskriklik baie gelees. Gesonde belangstellings hou jou algemene kennis skerp.” Sy lees graag speurverhale en geniet Dan Brown se boeke.

Nina se raad aan toekomstige matrieks:

Dit is nie jou foute nie, maar die manier hoe jy daarop reageer wat saak maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.