Topmatrieks: Liefde vir diere roep Marzelle

Marzelle Fourie

Marzelle Fourie

Sy is lief vir die buitelewe en wil graag eendag met wild werk.

Om dié rede gaan Marzelle Fourie van die Oranje Meisieskool in Bloemfontein vanjaar veeartsenykunde by Tukkies studeer.

Sy het agt onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal. Sy spog met A’s in Afrikaans, Engels, Duits, wiskunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, rekeningkunde en lewensoriëntering.

Volgens Marzelle sien sy baie uit na haar studies en die uitdagings wat haar toekomstige beroep gaan bied.

“Ek is baie lief vir die buitelewe en fotografie, perdry en fietsry is my stokperdjies. Ek is ook ’n regte boekwurm en dol oor ’n goeie speurverhaal.”

Marzelle glo daarin dat mens elke geleentheid in die lewe met albei hande moet aangryp omdat daar dalk nie weer so ’n kans sal kom nie. Sy glo ook dat mens op God moet vertrou omdat Hy weet wat die beste vir jou is.

Haar akademiese sukses skryf sy dan ook aan God se genade toe. “Ek het ook hard gewerk en vir elke toets voluit geleer al het dit nie punte getel nie.”

Haar rolmodel is haar oorlede pa, Bertie, ’n boer.

Hy het my nooit vertel wat harde werk is nie, maar deur sy optrede het ek gesien wat dit is.

Marzelle meen haar swakste en beste eienskap is dat sy ietwat van ’n perfeksionis is en alles na die beste van haar vermoë wil doen. “Soms vergeet ek dat almal om my nie ook so is nie.”

Sy het ook op ander terreine op skool uitgeblink en was onder meer deel van die junior Springbok-baanskietspan, lid van die Suid-Vrystaat atletiekspan, lid van die VCSV-bestuur en van die leerlingraad. Sy het ook netbal en tennis gespeel.

Marzelle se ma, Marisa, is ’n rekenmeester en sy het ’n jonger boetie, Divan, wat vanjaar in gr. 7 is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mirinda van Schoor ·

Mooi so Marzelle! Sien jou een van die dae op Onderstepoort! Hou aan met jou harde werk! Dis ‘n moelike kursus, maar absoluut die moeite werd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.