Topmatrieks: Oestyd bring sewe goue A’s vir Stephan

Stephan Brink

Stephan Brink

“Ek kom van ʼn boeregemeenskap, maar ek skrik nie vir die stad nie.” Só sê Stephan Brink, verlede jaar se onderhoofseun van die Hoërskool Bothaville in die Vrystaat, wat sewe onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal het.

Hy gaan vanjaar medies aan die Universiteit van Pretoria studeer. Stephan het onderskeidings in Afrikaans, Engels, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, wiskunde en lewensoriëntering behaal.

“Ek sien uit daarna om medies te studeer. Dis deel van my persoonlikheid om mense te wil help.”

Biologie en wiskunde was sy gunstelingvakke aangesien hy dit baie interessant gevind het. Stephan was die dux-leerling van sy skool en het van gr.8 tot gr.12 die eerste posisie in sy klas gehandhaaf. Hy het ook rugby en krieket gespeel.

Stephan geniet dit om klavier te speel en het sy Trinity Guildhall gr. 7-klaviereksamen met lof geslaag. Sy ma, Ray, is ʼn prokureur en sy pa, Fanie, ʼn landbou-ekonoom.

My ouers het professionele beroepe wat my geïnspireer het om my drome te volg. Hulle het my altyd gemotiveer en ook gehelp met my skoolvakke.

Sy rolmodel is dr. Norman Vincent Peale. “Hy was ‘n predikant en skrywer. Ek kyk op na hom aangesien hy die kuns om positiewe denke deur Christelike beginsels toe te pas, feitlik bemeester het.”

Sy raad aan ander leerders is: “Werk van dag een af hard, en werk deeglik. Moenie agter raak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.