Topmatrieks: Oplet in die klas gee Rohann ses A’s

Rohann Eloff

Rohann Eloff

Rohann Eloff van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria het ses onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal.

Hy het A’s in Afrikaans, wiskunde, fisiese wetenskappe, geskiedenis, rekeningkunde en lewensoriëntering.

Rohann se rolmodelle is mense in sy familie. Sy ma, prof. Irma Eloff, is die dekaan van opvoedkunde by Tukkies, sy pa Danie, is ’n sakeman en sy oom, dr. Theuns Eloff, was die voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit.

“Hulle is my rolmodelle omdat hulle vir my ’n baie goeie voorbeeld stel van wat harde werk en deursettingsvermoë is.”

Hy skryf sy sukses toe aan “oplet in die klas” en sy raad aan voornemende matrikulante is om altyd seker te maak dat hulle al hul werk verstaan want dan is dit nie nodig om die heeltyd agter die boeke te wees nie.

Hy gaan vanjaar BCom regte aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy het op die kombinasie besluit omdat hy nog nie seker is of hy in die regsberoep of finansiële wêreld wil werk nie.

Sy gunstelingvakke op skool was egter lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe omdat hy dit baie interessant gevind het.

Benewens akademie het Rohann ook aan sport en kultuur deelgeneem. Hy was onderhoofseun van kultuur en het rugby en muurbal gespeel. Hy het ook aan debatte en toneel deelgeneem en hul toneelgroep het ’n silwermedalje by die Twilight-fees gekry en ook ’n plek in die ATKV-wedstryd.

Rohann sê hy hou daarvan om mense gelukkig te maak en sy lewensfilosofie is dat die lewe so lekker is as wat mens dit vir jouself maak.

Geluk lê in ’n mens self.

Rohann gaan volgende jaar in die koshuis Tuks Village bly omdat hy graag deel van die studentelewe wil wees en omdat hy dink dit is tyd om meer onafhanklik en bietjie op sy eie te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.