Topmatrieks: Ouma was Carla se groot rolmodel

Carla Greyling

Carla Greyling

Sy wil ’n dokter word en eendag in ’n hospitaal werk waar daar groot nood en ’n tekort aan dokters is.

Dit is Carla Greyling van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion se toekomsideaal nadat sy in die matriekeindeksamen agt onderskeiding behaal het.

Haar vakke was Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekenaartoepassingstegnologie, rekeningkunde en lewensoriëntering.

Carla gaan vanjaar medies by Tukkies studeer en in die Curlitzia-dameskoshuis bly.

Volgens Carla het sy sukses behaal omdat sy ’n baie hardwerkende en doelgerigte mens is wat lang ure aan haar skoolwerk bestee het.

“Ek wil na die beste van my vermoë presteer. Maar sonder die Here se genade en die talente wat hy my gegee het sou ek dit nie kon regkry nie.

“Ek glo daarin om alles gemotiveerd aan te pak en altyd te werk asof dit vir die Here en nie vir mense is nie.”

Volgens Carla is haar ouma haar grootste rolmodel omdat sy so lief vir God en mense is. “Sy is ’n baie sterk vrou wat alleen vier kinders grootgemaak het nadat my oupa op ’n vroeë ouderdom dood is.

“Ek kyk ook op na Malala Yousafzai, die meisie van Pakistan wat haar beywer vir die reg van meisies om skool te kan gaan. Sy staan op vir waarin sy glo en ek bewonder haar passie.”

Carla was die afgelope jaar ook op ander terreine doenig en onder meer ook hoofmeisie van haar skool. Sy was deel van die skool se tweede netbalspan en die interhoër atletiek- en aflosspan.

Sy het ook aan redenaarskompetisies deelgeneem en was lid van die koor- en serrie-groep. Sy was haar skool se dux-leerling en het die trofee gekry vir die matrikulant met die meeste merietepunte. Sy is ook as die Eldo van die jaar aangewys.

Carla is baie lief vir die natuurlewe en om iewers in die berge of op ’n plaas op ’n staptoer te gaan.

Sy is die dogter van Hennie, ’n landbou-chemikus, en Estelle, ’n onderwyseres. Sy het twee sussies, Lize (gr. 11) en Anke (gr. 8).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.