Topmatrieks: Oupa inspireer haar om dokter te word

Michaela Lubbe

Michaela Lubbe

Michaela Lubbe van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria het nadat haar oupa ‘n beroerte gehad het, besluit sy gaan ‘n dokter word.

Michaela kan dié droom najaag danksy die agt onderskeidings wat sy in die matriekeindeksamen behaal het. Sy spog met onderskeidings in Afrikaans, Engels, Frans, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, geskiedenis en lewensoriëntering.

Die bekwame mediese personeel wat haar oupa destyds gehelp het, het Michaela geïnspireer. “Ek het daarna geweet ek wil ʼn dokter word.”

Frans en Afrikaanse letterkunde was haar gunstelingvakke. “Frans het ‘n groot invloed op soveel tale se dialek gehad. Poësie het my aan Afrikaans gebind.”

Michaela gaan vanjaar medies studeer en wil daarna in Afrika gaan werk.

Ek het ʼn beroep gekies waar ek nie net agter ‘n lessenaar hoef te sit nie. Ek kan elke dag iets anders doen.

Sy skryf haar akademiese prestasie aan haar vasberadenheid toe. “Ek het baie druk op myself geplaas om die beste te doen wat ek kon.”

Haar ouers, Patrick en Célest, is haar rolmodelle. “Hulle het moeilike tienerjare gehad en het bo hul omstandighede uitgestyg.”

Michaela was die skool se koorvoorsitter en het hokkie en tennis gespeel. “Ek doen al vir 14 jaar lank ballet, maar dit is net vir die lekker. Ek is mal oor sing.”

Haar raad aan gr. 12’s: “Leer hard en bly glo jy sal oorleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.