Topmatrieks: Perdry help met haar veearts-droom

Magdarie Burger

Magderie Burgers

Perdry het Magderie Burgers van Hoërskool Zwartkop in Centurion gehelp om die eksamenstres te klop.

Magderie het agt onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal. Haar onderskeidings is in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekeningkunde, rekenaartoepassingstegnologie en lewensoriëntering.

Magderie se liefde vir diere het haar oortuig om vanjaar veeartseny by die Universiteit van Pretoria te studeer. “Van kleins af was dit my droom. Baie mense het vir my gesê om nie veeartseny te studeer nie aangesien die keuring so streng is. Ek het steeds aansoek gedoen en keuring gekry. Dit was vir my ʼn teken.”

Magderie het op 10-jarige ouderdom vir die eerste keer perd gery en besluit dat sy nooit wil ophou nie. In gr.9 het sy vir die eerste keer aan die interskole deelgeneem.

“Ek het ook van gr.10 tot gr.12 aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem en eerste en tweede plekke behaal.” Magderie was op haar skool se leerlingraad en onder die akademiese toptien.

Haar pa, Danus, is haar rolmodel. “Hy is onselfsugtig en sal altyd ander mense eerste stel. Hy spandeer baie tyd saam sy gesin. Hy het nog nooit een van my perdrygeleenthede gemis nie. Hy doen moeite.”

Volgens Magderie het sy altyd haar bes gedoen. Haar advies aan toekomstige matrieks is:

Gee jou beste, maar moet nie net op akademie fokus nie. Jy moet tyd aan jouself en jou vriende spandeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.