Topmatrieks: Slimkop wil mense help

Marilize Kleynhans

Marilize Kleynhans

Marilize Kleynhans van die Hoërskool Zwartkop in Centurion gaan vanjaar medies aan die Universiteit van Pretoria studeer aangesien sy baie graag mense wil help.

Dié slimkop het agt onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal. Sy het A’s gekry in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, geskiedenis, toerisme en lewensoriëntering.

Volgens Marilize is daar nog baie goed wat sy vanjaar wil aanpak, soos om te leer om kitaar te speel en haar Lord of the Rings-boeke klaar te lees.

Haar liefde om by mense te wees het dit vir haar soms moeilik gemaak om voor die boeke te sit. Sy het van 2012 tot 2014 as voorsitter van die kultuurkomitee op die junior stadsraad van Pretoria gedien. Sy het aan die ATKV-redenaarskompetisie deelgeneem. Marilize het ook op haar skool se leerlingraad gedien en was die dux-leerling van haar graad.

Marilize se ouers is haar rolmodelle. “Hulle het my altyd aangemoedig om my potensiaal te bereik en dat ek my nie aan ander mense moet meet nie. Ek wou ook graag my ouers trots maak.”

Sy hou van kosmaak en klavierspeel.

Haar raad aan toekomstige matrieks is: “Moet jou nie dood stres nie, dit gaan altyd beter as wat jy verwag.”

Marilize se skooljare het haar geleer: “Jy kan sukses bereik as jy elke dag hard werk. Jy kan nie net eendag opstaan en verwag dat jy suksesvol sal wees nie.”

Sukses beteken vir elke mens ook iets anders. As ek ʼn mediese dokter is, sal ek my sukses behaal het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.