Die De Lange-tweeling van die Hoërskool Goudveld in Welkom is soos vinkel en koljander.
Linandi het sewe onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal. Sy het A’s in Afrikaans, Engels, rekeningkunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, wiskunde en lewensoriëntering behaal. Charolize het onderskeidings behaal in Afrikaans, lewensoriëntering en lewenswetenskappe.
“Ons is al van gr.1 af in dieselfde klas en doen alles saam. Ons ondersteun mekaar.”
Ek is passievol oor baie dinge in my lewe. Dit is belangrik om die lewe te geniet. Charolize
Charolize gaan vanjaar aptekerswese aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus studeer. Linandi wil bitter graag ʼn geoktrooieerde rekenmeester word en gaan BCom rekeningkunde op dieselfde kampus studeer. “Ons sien baie uit na die studentelewe en dit is lekker dat beide van ons Wag ʼn Bietjie-dameskoshuis toe gaan.”
Linandi was onderhoofmeisie van haar skool, tesourier van die ATKV-tak, die Voortrekker-kommando se jeugleier en redakteur van die skoolkoerant. Sy het ook aan redenaarskompetisies deelgeneem en netbal gespeel.
Ek omring myself met mense wat my inspireer en my motiveer om hoë hoogtes te bereik. Linandi
Charolize was ʼn lid van die matriekraad en het sedert gr. 8 ʼn gemiddeld van 80% of hoër gehandhaaf. Sy was ʼn lid van die skoolkoor, die ATKV se bestuur en het aan netbal, atletiek en redenaarskompetisies deelgeneem.
Die tweeling sien hulself as hardwerkende meisies wat op hul doelwitte fokus. Die tweeling se ma, Judy, is hulle rolmodel. “Sy is ʼn onderwyseres by die Welkom Volkskool en het ook vir ons klas gegee in gr.7. Sy is ʼn voorbeeld van ʼn hardwerkende mens wat haar doelwitte bereik.”