Topmatrieks: Voornemende dokter ook dol oor geskiedenis

Du Toit Ferreira

Du Toit Ferreira

Lewenswetenskappe was sy gunstelingvak en nadat hy ’n rukkie in ’n hospitaal gewerk het, het Du Toit Ferreira van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria geweet hy wil ’n dokter word.

Hy het keuring by die Universiteit van Pretoria gekry en gaan vanjaar medies studeer en in die Olympus-koshuis bly.

Du Toit het agt onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal. Hy het A’s in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, geskiedenis, musiek en lewensoriëntering.

Benewens lewenswetenskappe het Du Toit ook baie van geskiedenis gehou. George Patton, die flambojante voormalige generaal in die Amerikaanse weermag, is een van sy gunsteling geskiedkundige figure en “iemand wat nie nonsens geduld het nie”.

Volgens Du Toit fassineer geskiedenis hom omdat daar soveel lesse te leer is en dit dikwels klein dingetjies is wat ’n enorme impak op die samelewing het.

“Ek hou van kleins af van geskiedenis omdat my ouma altyd vir my geskiedenisstories gelees het.”

Du Toit se suksesresep vir soveel onderskeidings is harde werk.

“Jy moet die ure insit. Daar is nie ’n kortpad nie. Ek is ook dankbaar vir my ouers (pa Michael en ma Annatjie) wat my deurentyd ondersteun en gemotiveer het.”

Volgens Du Toit is dr. Pierre Edwards, hoof van Affies, een van die mense na wie hy opkyk.

“Hy is eerlik, het integriteit en is ’n wonderlike mens. Ek streef daarna om soos hy te wees. Daarom probeer ek om by my beginsels te bly en reg te leef. Ek wil graag iemand van my woord wees.”

Du Toit het gesê hy sien baie uit na die universiteitslewe en hoewel hy skool nie in die algemeen gaan mis nie, is daar tog tradisies en die gees wat hom sal bybly. “Dit was ’n groot voorreg om ’n Affie te kon wees.”

Benewens akademie was Du Toit ook lid van die skool se leerlingraad. Hy het ook die klarinet in die orkes gespeel en was redakteur van die skoolkoerant Stroom-op. Hy het aan waterpolo en debatte deelgeneem en net vir die lekker bietjie rugby gespeel.

Du Toit het nog ’n broer, Tinus, ’n derdejaarstudent in aktuariële wetenskap by Tuks, en ’n sussie, Heleen, wat vanjaar in matriek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.