Tweelingsussies spoor mekaar aan tot sukses

Tanya en Lu-Ann Visser

Tanya en Lu-Ann Visser

Tanya en Lu-Ann Visser van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp het gesamentlik 10 A’s ingepalm.

Lu-Ann het onderskeidings in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, besigheidstudies en visuele kunste. Tanya het onderskeidings in Engels, lewensoriëntering, rekeningkunde , besigheidstudies en ekonomie.

Hulle ouers is André, ʼn apteker, en Annatjie, ʼn tuisteskepper. Die tweeling het hul ouers beskryf as hul rolmodelle vir hulle werksetiek en waardes. Tanya en Lu-Ann het by hulle geleer van betroubaarheid, perfeksionisme, doelgerigtheid, deursigtigheid en hardwerkendheid. Dit is duidelik dat hulle baie ʼn hegte gesin is wat lief is om tyd saam deur te bring. Hulle gee al die eer vir hul sukses aan die Here en die ondersteuning van hul ouers.

Tanya is baie lief vir die buitelewe, hou van kook, fliek en om aktief te bly. Albei sussies het aan netbal en atletiek deelgeneem. Lu-Ann is lief vir skilder, teken, swem, lees en muurbal speel. In 2015 het sy uit 3 500 inskrywings in die Sanlam-kinderkunskompetisie ʼn sertifikaat verwerf.

Oor mekaar sê hulle:

Sy is my beste vriendin – ons is baie lief vir mekaar.

Hulle erken hul persoonlikhede verskil dalk, maar hulle deel dieselfde lewensuitkyk en waardes.

Hulle glo hulle het bygedra tot mekaar se sukses. “Ons deel nie net dieselfde voorkoms nie, maar ʼn intellektuele band van onskatbare waarde. Ons spoor mekaar beslis aan tot sukses. Ons verstaan mekaar op ʼn manier wat niemand anders kan nie. Laataandgesprekke, motivering, liefde en ondersteuning wat ons aanmekaar bied maak die pad na sukses bietjie makliker.

Hulle glo dit is regtig waar dat tweelinge ʼn spesiale telepatie deel. Hulle lag nog lekker vir ʼn speltoets in gr. 3. Hulle sitplekke was ver uitmekaar, maar die toetsuitslae het gewys hoe hulle presies dieselfde woorde verkeerd gespel het.

Die tweeling gaan die vakansie tuis as gesin saam geniet. Daarna gaan albei aan die Noordwes-Universiteit studeer. Tanya beoog ʼn graad in bedryfswiskunde en informatika, en daarna in aktuariële wetenskap. Sy wil ʼn aktuaris word. Lu- Ann beplan ʼn graad in finansiële rekenmeesterskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.