Ulrich droom van sy eie besigheid

Ulrich van Gruting

Ulrich van Gruting

Hoërskool Waterkloof het nog ʼn matrikulant opgelewer met ʼn allemintige agt onderskeidings. Ulrich van Gruting het uitgeblink in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp, lewensoriëntering, geskiedenis en rekeningkunde.

Ulrich se ouers is Sára en Werner van Moreletapark. Sy pa is ʼn vlieënier en sy ouer broer, Rutger, is reeds op Tuks besig met sy MbChB. Hy sien daarna uit om sy vakansie op hulle plaas deur te bring en gaan ook ʼn bootreis onderneem.

Ulrich beplan om vanjaar verder te studeer. Hy wil begin met biomediese ingenieurswese of MbChB op Tuks. Daarna wil hy sy MBA gaan doen om sy droom te verwesenlik om eendag sy eie besigheid te hê.

Ulrich is mal oor wiskunde en wetenskap-eksperimente. Hy wil veral die werking agter tegnologiese produkte verstaan. Hy oefen gereeld in die gimnasium.

Hierdie flukse leerder was vanaf graad 8 in die top-10. Hy het ʼn paar keer die nasionale wetenskapkompetisie gewen, asook die Hip2B2-kompetisie. Ulrich het ook deelgeneem aan hokkie, swem, karate en atletiek. Hy het twee keer aan die wêreldkampioenskap vir karate deelgeneem.

Ulrich erken dat hy nogal hardkoppig kan wees, maar beskou dit as sy beste eienskap dat hy nie sy waardesisteem aanpas ter wille van gewildheid nie. Hy beskryf homself ook as hardwerkend. Ulrich beskou sy pa as sy grootste rolmodel. “Hy het my gemotiveer om beter te wees en uit te styg bo die res.”

Ons het hom gevra waaraan hy sy akademiese sukses toeskryf en sy antwoord was eenvoudig harde werk, balans in sy lewe en die genade van Jesus. Hy sê:

The difference between the ordinary and the extraordinary is that little extra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.