Veelsydige Colene wil ʼn bedryfsingenieur word

Colene-Bosman

Colene Bosman van Hoër Meisieskool Oranje het flink presteer in die matriekeindeksamen. Sy spog met agt onderskeidings – in Afrikaans, Duits, Engels, rekeningkunde, wiskunde, fisiese wetenskappe, musiek en lewensoriëntering.

Haar pa, Hannes, behartig mediese verkope en haar ma, Aletta, is ʼn sakevrou. Haar ouer broer, Malan, is ʼn bedryfsingenieur en haar ousus, Lienke, is ʼn arbeidsterapiestudent.

Colene gaan die vakansie aan die Natalse Noordkus deurbring en dan beplan sy om bedryfsingenieurswese aan Maties te gaan studeer.

Colene was ʼn veelsydige leerder. Sy is ʼn kranige swemmer en het die Midmar-myl drie jaar na mekaar voltooi. Sy speel klavier en het die Unisa gr. 7-eksamen met lof geslaag, was in die orkes en koor en speel ook kitaar en marimba. Daarby het sy ook in die Con Spirito-sanggroep gesing.

Sy het ook hokkie, netbal en tennis gespeel.

Sy sê sy is lief vir die natuur, hou van avontuur en stap graag. Sy is kreatief en hou daarvan om foto’s te neem.

Sy getuig sy is geseënd met ʼn wonderlike gesin en goeie vriende en sy hou daarvan om mense gelukkig te maak.

Ek is lief vir God en het onverdiende guns en liefde van Hom ontvang.

Colene se lewensfilosofie is om te blom waar jy geplant is.

Sy dink haar beste eienskap is lojaliteit en haar swakste eienskap is dat sy dikwels laat opdaag. “Ek laat ook baie keer takies vir tot op die laaste nippertjie,” skerts sy.

Sy skryf haar sukses toe aan die feit dat haar ouers haar van kleins af gestimuleer het en daarom het sy nog altyd hoë doelwitte vir haarself gestel. Sy benadruk dat sukses gepaardgaan met konstante harde werk, positiwiteit, goeie onderwysers wat haar geïnspireer het en haar gesin wat haar nog altyd ondersteun het. “Bowenal kom al die eer die Here toe, want sonder sy guns sou ek beslis nie kon wees waar ek vandag is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.