Wen met Wikipedia – Bring ʼn wêreld van kennis na jóú Afrikaanse klaskamer

Foto: Pixabay

Maroela Media gaan die onderwyser wat teen die einde van Maart 2019 die meeste bydraes tot die Afrikaanse Wikipedia gemaak het, met ʼn dertiende tjek beloon. Klik hier om meer te lees.

Die wêreld is op ons voorstoep – en in ons klaskamers – danksy die internet. Inligting is net ʼn klik van jou rekenaarmuis ver en Wikipedia is die mees omvattende bron daarvan. Het jy geweet dat Wikipedia teen ʼn spoed van 1,8 wysigings per sekonde ontwikkel, met duisende medewerkers oor die wêreld heen? Dié veeltalige aanlyn ensiklopedie bevat byna ses miljoen Engelse artikels wat teen ʼn gemiddeld van 570 nuwe artikels per dag geskep word.

Afrikaans laat ook stadig maar seker haar stem op dié aanlyn platform hoor. Die Afrikaanse Wikipedia bestaan al sedert Desember 2001 en bevat reeds meer as 70 200 artikels. Enige iemand kan as gebruiker registreer om nuwe artikels vir Wikipedia te skryf, of bestaande artikels uit te brei – mits jy betroubare bronne gebruik. Die Wiki-polisie – oftewel administrateurs – trek kansvatters en duimsuiers vinnig vas, sodat Wikipedia se geloofwaardigheid met elke artikel groei.

Is jy lief vir Afrikaans? Dan is Wikipedia jou kans om seker maak dat jóú taal ‘n volwaardige taal van die internet word met genoeg inligting oor ʼn wye reeks onderwerpe daarop beskikbaar.

Foto: Skermgreep uit video

Elke onderwyser wat sy of haar sout werd is, is ʼn kundige in die vakke wat hulle aanbied. As jy dit geniet om jou kennis oor kuns te deel, gaan kyk op die Afrikaanse Wikipedia watter inligting daar kortkom en skryf ʼn artikel! Ken jy elke krieketreël wat al ooit oortree is? Hang dit aan die groot klok! Kan jy die verskil tussen vyf bedreigde muisspesies meesterlik verduidelik? Ons wil ook weet! Is jy besig met ʼn meestersgraadstudie oor meteore? Moenie dit vir jouself hou nie, vertel die wêreld daarvan – in Afrikaans.

Jy kan selfs die kennis wat jy danksy jou jarelange posseëlversameling opgedoen het vir die wêreld voorhou, lank vergete inligting oor staatmakerresepte opdis, of jou biblioteek van bronne oor die geskiedenis afstof om tot ons kultuurerfenis by te dra. Die moontlikhede is legio en as jy nie weet waar om te begin nie, sal die Wikipedia-span jou op die regte pad lei.

Die Afrikaanse Wikipedia is tans die tweede grootste Wikipedia op die Afrika-kontinent, naas sy Malgassiese eweknie van Madagaskar. As die Afrikaanse gemeenskap skouer aan die wiel sit, dra ons aanstons die Afrika-kroon.

Onderwysers en studente, kom ons bou ʼn betroubare databasis van inligting vir ons skoolkinders en Afrikaanse vriende en familie. As jy vir Maroela Media se Wiki-Onnie-kompetisie inskryf, kan jy boonop ʼn maand se salaris losslaan, en as jy as die Wiki-Meester bekroon word, ʼn jaar se klasgeld!

Maak jou Afrikaanse stem dik – dra by tot Wikipedia.

Skryf in

Bepalings en voorwaardes

  • Slegs een wenner sal aangewys word.
  • Die inskrywingsvorm onderaan die artikel moet volledig ingevul wees.
  • Gehalte en lengte van artikels moet op aanvaarbare Wikipedia-standaard wees. Besoek die portaal vir nuwelinge en bestudeer die wenke vir die skryf van ‘n goeie artikel.
  • Die wenner moet sy of haar maandelikse salarisstrokie aan Maroela Media stuur en ons sal jou salaris verdubbel tot en met ʼn maksimum van R25 000 wat in jou persoonlike bankrekening gedeponeer sal word.
  • Die prysgeld sal binne tien dae nadat die wenner bekend gemaak is, uitbetaal word.
  • Slegs volwaardige artikels met genoegsame woorde, verwysings, opskrifte en prente sal aanvaar word.
  • Slegs geregistreerde onderwysers met ʼn SACE-nommer kan in aanmerking kom vir die prysgeld.
  • Die beslissing van die organiseerders oor watter onderwyser die meeste artikels gepubliseer het, is finaal. Geen verdere korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.
  • Slegs artikels wat tussen 11 Desember 2018 en 31 Maart 2019 in Afrikaans deur die betrokke persoon op Wikipedia gepubliseer is, sal in aanmerking kom vir die prysgeld.
  • ʼn Minimum van 20 artikels moet deur die deelnemer gepubliseer word in die tydperk tussen 11 Desember en 31 Maart 2019 om in aanmerking te kom vir die prysgeld.
  • Indien geen persoon die minimum getal artikels haal nie, kan die sperdatum van die kompetisie aangeskuif word. Dié besluit berus by die organiseerders en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.