Wen met Wikipedia – die gemeenskap wat ons kinders help grootmaak

Foto: Pixabay

Die Engelse sê “it takes a village to raise a child” – ʼn gemeenskap van mense wat inspring en help om van kinders gesonde, afgeronde, gebalanseerde en gemanierde grootmense te maak. Oumas en oupas, ooms en tannies, vriende, bure en onderwysers sterk almal dankbare ouers se hande in die grootmaakproses.

In die era waarin ons leef, het dié gemeenskap uitgebrei om al die nuwe fasette van die tegnologiese tyd in te sluit. Deesdae het ons ook ʼn oom nodig om vir Sussie te wys hoe daardie rekenaarprogram werk, of ʼn tannie wat vir Ouboet oor internet-etiket touwysmaak.

Net so het ons vandag – meer as ooit tevore – mense nodig om ons kinders se kennis op te skerp en uit te brei. In hul moedertaal, Afrikaans, en op ʼn toeganklike plek – die internet. Hoe doen ons dit? Deur gereelde bydraers tot die Afrikaanse Wikipedia te word.

Moedertaaldag word op 21 Februarie gevier en Afrikaans en die belangrikheid daarvan vir ons kinders se prestasie op skool is weer in die kollig. Navorsing bevestig herhaaldelik dat moedertaalonderrig deur die bank ʼn positiewe effek op prestasie het. Konsepte wat in die moedertaal vasgelê is, word maklik later na ʼn tweede of derde taal oorgedra.

Maar die toekoms van Afrikaanse onderrig moet self deur die Afrikaanse gemeenskap uitgekerf word. Wikipedia is een van die noodsaaklike platforms om die taal lewendig te hou en uit te bou.

“Inligting in my eie taal”

Su-an Müller-Marais is tans omroeper by Groot FM en beoordeel redenaarskompetisies, maar was vroeër ʼn Afrikaans-onderwyseres. Volgens haar is Wikipedia uitstekend vir die opsoek van algemene inligting en het die ensiklopedie se kredietwaardigheid oor die afgelope paar jaar baie toegeneem. “Dit is deesdae ʼn goeie bron, omdat die inligting gekontroleer en geverifieer word,” sê sy.

“Boonop is dit soveel makliker om inligting in my eie taal op te spoor. Toe ek nou die dag ‘Wolraad Woltemade’ opsoek, was die inligting op die Afrikaanse Wikipedia kort en bondig en uiters nuttig.”

Naudeen Prinsloo is ʼn Gr.4-juffrou van Laerskool Kanonkop in Middelburg. Sy gebruik Wikipedia gereeld in haar klas en moedig haar kinders – tuis en by die skool – ook aan om hul inligting op Wikipedia te soek. “Die Afrikaanse artikels is baie verstaanbaar geskryf, terwyl die Engelse inligting soms oorweldigend en ingewikkeld is. Die bronne wat onderaan die artikels gelys word, gee kredietwaardigheid aan die inligting en mens kan verder daaruit gaan oplees.”

Vir Bia Haasbroek, ʼn tale-onderwyseres van HTS Middelburg, is die Afrikaanse Wikipedia die toekoms van naslaanwerk, veral op skool. “Teen die trant wat dié aanlyn ensiklopedie groei en van krag tot krag gaan, is ek opgewonde om te sien hoeveel inligting daar oor vyf jaar in Afrikaans beskikbaar gaan wees.”

Skoolkinders en hul ouers sekondeer dié onnies se sentiment. Ryan van der Merwe van HTS Middelburg klop dikwels by die Afrikaanse Wikipedia aan vir skooltake. Michelle Fourie, wat een dogter op laerskool en een op hoërskool het, vertel dat Wikipedia hul grootste maat is. “Karla moes in die week ʼn Tegnologie-opdrag oor watersuiweringstelsels doen en ons kon baie bruikbare inligting op Wikipedia kry. Oor die algemeen gebruik die kinders dikwels Wikipedia vir huiswerk en take. Die enigste pyn is dat ons soms Engelse inligting na Afrikaans moet vertaal,” sê sy.

ʼn Wen-wen-situasie vir jou én jou taal

Dit is juis waar die Afrikaanse gemeenskap in die prentjie kom. Hoewel daar reeds meer as 70 000 artikels oor verskillende onderwerpe in ons taal beskikbaar is, is daar nog baie ruimte vir groei en uitbreiding in Afrikaans op Wikipedia.

Om die bal aan die rol te kry en die Wikipedia-gogga die kans te gee om te byt, bied Maroela Media twee kompetisies aan, waar onderwysers en nagraadse studente lekker kontantpryse kan wen as hulle teen die einde van Maart 2019 ʼn goeie bydrae tot die Afrikaanse Wikipedia gelewer het.

Ons almal het ʼn onderwerp wat ons baie interesseer of ʼn stokperdjie wat ons toe oë kan doen. Gaan kyk of daar al inligting daaroor op die Afrikaanse Wikipedia is, en as jy niks kry nie – skryf die artikel! Lees hier oor die Wiki-Onnie en Wiki-Meester-kompetisies en skryf vandag nog in!

Skryf in

Bepalings en voorwaardes

  • Slegs een wenner sal aangewys word.
  • Die inskrywingsvorm onderaan die artikel moet volledig ingevul wees.
  • Gehalte en lengte van artikels moet op aanvaarbare Wikipedia-standaard wees. Besoek die portaal vir nuwelinge en bestudeer die wenke vir die skryf van ʼn goeie artikel.
  • Die wenner moet sy of haar bewys van registrasie as ʼn nagraadse student aan Maroela Media stuur en ons sal jou klasgeld betaal tot en met ʼn maksimum van R30 000 wat direk aan jou tersiêre instansie betaal sal word.
  • Die prysgeld sal binne tien dae nadat die wenner bekend gemaak is, uitbetaal word.
  • Slegs volwaardige artikels met genoegsame woorde, verwysings, opskrifte en prente sal aanvaar word.
  • Slegs geregistreerde nagraadse studente met ʼn studentenommer kan in aanmerking kom vir die prysgeld.
  • Die beslissing van die organiseerders oor watter nagraadse student die meeste artikels gepubliseer het, is finaal. Geen verdere korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.
  • Slegs artikels wat tussen 11 Desember 2018 en 31 Maart 2019 in Afrikaans deur die betrokke persoon op Wikipedia gepubliseer is, sal in aanmerking kom vir die prysgeld.
  • ʼn Minimum van 20 artikels moet deur die deelnemer gepubliseer word in die tydperk tussen 11 Desember en 31 Maart 2019 om in aanmerking te kom vir die prysgeld.
  • Indien geen persoon die minimum getal artikels haal nie, kan die sperdatum van die kompetisie aangeskuif word. Dié besluit berus by die organiseerders en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dina ·

En wat van ons wyse gryses wat nie noodwendig onderwysers of studente was nie, maar beslis ook n bydrae kan lewer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.