Wilru ry eerder ʼn John Deere as ʼn Ferrari

Wilru Campher van Potchefstroom Gimnasium is een van die 2017-oes van top-matrikulante wat met agt onderskeidings kan spog. Hierdie knap leerder van Ventersdorp het uitgeblink in Afrikaans, Engels, wiskunde, rekeningkunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, besigheidstudies en lewensoriëntering.

Sy ma, Bina, is ʼn skoolhoof en sy pa, Loutjie, boer. Sy ouer broer, JG, was verlede jaar in sy tweede jaar BCom GR aan die NWU.

Wilru gaan eers op die Finesse/NWU-matriekbootreis voordat hy later inskryf by die Puk vir sy BCom GR.

Sy belangstelling lê by boerdery, veral graanverbouing en stoetteling. As hy praat oor sy stoetteling-stokperdjie is dit name soos Angus, Charolais, SA Vleismerino en eksotiese wild wat hom opgewonde maak.

Wilru het rugby gespeel, akademiese erekleure verdien en was onder die tien top- akademiese presteerders in sy skool.

As jou drome jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie,

is hoe Wilru sy benadering tot die lewe beskryf.

Hy sê sy puik prestasies is te danke aan harde werk en toewyding asook genade van die Here. Hy beskou sy pa as sy grootste rolmodel: “My pa is hardwerkend, toegewyd en suksesvol en hy ruim tyd in vir dit wat belangrik is.”

Wilru beskou homself as ʼn boerseun met groot ideale. “Ek sal eerder met ʼn John Deere ry as ʼn Ferrari. Ek is op my gelukkigste op die plaas.”

Hardwerkendheid is ʼn deug waarop hy trots is, hoewel hy toegee hy kan ook hardkoppig wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.