Pta-vrou wil SA ‘wêreldwyd’ verteenwoordig

André, Marlize en hul kinders,Milane en Rhuardt (Foto: Verskaf)

ʼn Pretoriase vrou wat binnekort na Singapoer in Asië vertrek om Afrika in die Mrs Worldwide-kompetisie te verteenwoordig, sê sy hoop haar deelname aan dié kompetisie moedig ook ander soos sy aan om in enige gegewe stadium hul drome na te jaag – selfs al skree die doemprofete hardop.

Marlize Kotze (35), ʼn junior projekbestuurder vir ʼn plaaslike maatskappy, dra vanjaar die Mrs Africa Worldwide-kroon. Sy het sowat 25 ander vroue vir dié kroon uitgestof en hoop om vanjaar ook kop en skouers bo vroue van lande soos Kanada, België en Costa Rica uit te staan.

Dié kompetisie fokus egter nié op fisieke skoonheid nie, maan sy: elke deelnemer word beoordeel op grond van die liefdadigheidsprojekte waarby sy betrokke is én op grond van die beoogde verskil wat sy wil maak wanneer sy die Mrs Worldwide-kroon dra.

“Ek is self maar ʼn régte egte rabbedoe; ek moes myself maar leer om mooi op hakke te loop én dit te lyk asof ek dit al vir jare lank doen,” terg sy.

“As ek aan myself dink, dink ek altyd aan Sandra Bullock se karakter in die fliek Miss Congeniality. Die kompetisie fokus op skoonheid wat van binne af na buite uitstraal en die gemeenskapsprojekte waarby die vroue betrokke raak. Daarom is ek so passievol daaroor.”

Kotze is al vir die afgelope paar maande betrokke by projekte van Dignity Dreams wat daarop fokus om sanitêre produkte aan mense te skenk. Sy sê dis haar man, André, en haar kinders, Milane en Rhuardt, wat haar laat besluit het om vir dié kompetisie in te skryf en die liefdadigheidsprojekte vol te hou.

“Daar is soveel mense wat swaarder kry; soveel wat minder het. Tuis het ek ʼn wonderlike ondersteuningsnetwerk en mense wat my heeltyd aanpor. Ek het daarom ná die kompetisie met die Dignity Dreams-projek voortgegaan en is steeds betrokke by ander projekte soos om babaprodukte vir swanger hoërskoolmeisies en minderbevoorregte vroue uit te deel. Daar is ook ander projekte soos die skryfbehoefte-projek waar ons skryfbehoeftes uitdeel – alles fokus daarop om ander se lewens te verbeter of te verryk; dís wat dit so wonderlik maak om deel van die kompetisie te wees.”

André, Marlize en hul kinders,Milane en Rhuardt (Foto: Verskaf)

Sy sê dié kompetisie is deel van ʼn kleintydroom. Kotze het self op 19-jarige ouderdom aan die Mej. Suid-Afrika kompetisie ingeskryf en sy sê dis híér waar haar passie vir innerlike skoonheid begin het.

Sy hoop dat sy met dié kroon kan huis toe kom en ander vroue soos sy inspireer. “Ek is iemand heeltemal gewoon wat bloot van uitdagings hou. Ek wil graag gereeld uit my gemaksone kom en myself nie toelaat om in ʼn groef of roetine te beland nie.

“Ek wil vir ander vroue wys dat jy as ʼn doodgewone vrou in ʼn werksomgewing ʼn verskil kan maak. Jy hoef nie ʼn huisvrou te wees nie, jy hoef nie ʼn besigheidsvrou te wees nie en jy hoef nie ʼn skoonheidskoningin te wees nie. Om ander se lewe te verryk is moontlik vir ons almal – jy moet dit net doen.”

Die Mrs Worldwide-kompetisie word einde vandeesmaand aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.