Pumas en Blou Bulle sê mekaar stryd aan vir liefdadigheid

Chris Hever (links) hoof finansiële beampte van die Blue Bulls en Barend van Graan (regs)  uitvoerende direkteur van die Blue Bulls skud hande met  Pieter Burger die uitvoerende direkteur van Mpumalanga Rugby. Foto: Hennie Homann

Chris Hever (links), Barend van Graan (regs)  en Pieter Burger. Foto: Hennie Homann

Die Steval Pumas en Vodacom Blue Bulls gaan die totale inkomste van die spanne se vriendskaplike wedstryd op 2 April skenk aan die inwoners van Witbank, wat erg geraak is deur die onlangse afleggings by EVRAZ Highveld Steel & Vanadium Steel-aanleg.

Die twee spanne het hande gevat met Solidariteit Helpende Hand om verligting vir baie van dié mense te bring. Die wedstryd vind plaas by die Witbank-stadion, wat die historiese tuisveld van die Steval Pumas is.

Die afleggings het meer as 2 100 families haweloos gelaat. Die Steval Pumas het in ʼn verklaring gesê dit raak nie net die algemene lewensomstandighede van die mense nie, maar ook van die Emalahleni-gemeenskap.

“Die Steval Pumas en die Vodacom Blue Bulls glo dit is hul morele plig om die inwoners van Witbank by te staan. Ons wil van die geleentheid gebruik maak om die gemeenskap, waaruit die Pumas oorspronklik kom, finansieel te ondersteun en ook vermaak van hoë gehalte vir hulle te bied,” het die hoof uitvoerende beampte van Mpumalanga Rugby, Pieter Burger, gesê.

Die spelers gaan na afloop van die wedstryd getekende rugbytruie opveil om fondse in te samel.

Danie Brink, hoof uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, gesê die tragedie het ʼn verreikende uitwerking op die gemeenskap in Witbank.

“Die mense het reeds nie meer kos in hul kaste nie en hulle is radeloos. Dit is juis nou wat mense se goedhartigheid na vore kom. Ons is baie dankbaar teenoor die rugbyspelers wat weereens vir ons wys hoe ons as ʼn gemeenskap moet saamstaan.”

Volgens Barend van Graan, uitvoerende direkteur van die Blue Bulls Company (Edms.) Bpk, heg die span baie waarde aan die gesinstruktuur. “Dit is baie hartseer om gesinne te sien wat swaarkry, maar ons is bly ons kan hulle bystaan. Ons doen ʼn beroep op al ons ondersteuners om ook by te dra waar hulle kan.”

Die wedstryd begin om 15:00 en kaartjies is by die hekke of Turbo Panelbeaters en Bolt & Nut Suppliers in Witbank beskikbaar. Vir meer inligting oor kaartjieverkope, kontak Riaan Kotzé op 072-833-0080.

Die toegangsfooi is R20 per volwassene en R10 per skolier. Alle toegangsfooie, sowel as inkomste uit ander oorde, sal aan Helpende Hand geskenk word om die gesinne in Witbank te ondersteun.

Besoek Helpende Hand se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MCS ·

O aarde, hoop die ouens het eers kom kyk hoe lyk die Staduim! Dit lyk nie meer soos dit gelyk het voor hulle Nelspruit toe verhuis het nie! In n haaglike toestand van dat Sokker daar gespeel word! Vervalle is nie die woord! Nogtans n groot gebaar om die Highveld ouens tehelp! Dankie Pumas en Bulle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.