Raad vir ʼn gesonder leefstyl

(Foto: Pixabay)

ʼn Gesonde leefstyl is iets wat vir baie mense soos ʼn groot uitdaging klink, maar dit is baie belangrik om aandag daaraan te gee dat jy en jou gesin gesond is en dat jul leefstyl nie die oorsaak van siektes word nie.

Volgens die bekende leefstylsjef Izelle Hoffman is dit belangrik om voorbereid te wees vir die nuwe gesonde leefstyl wat op jou wag.

“Mense wat ʼn gesonder leefstyl wil begin volg moet letterlik voor hul yskas en koskas gaan staan en alles wat gepreserveer is en ’n verskriklike lang raklewe het uit hul kombuis verwyder. As dit nie in jou huis is nie, gaan jy dit nie eet nie,” sê sy.

Hoffman stel voor om terug te beweeg na die rou en vars vorm van kos.

“Koop jou groente in die groente-afdeling van die winkel en laat maar eerder die blikkie-afdeling. Met die uitsondering van ʼn paar geblikte produkte soos botterboontjies en kekerertjies is groente en vrugte altyd beter as dit vars is. Mense moet meer heel kos eet, meer régte kos.”

Dit is ook belangrik om genoeg groente en vrugte in jou dieet in te sluit en om dit op die regte tyd van die dag te eet.

“Eet meer groente en vrugte as wat jy vleis eet, en eet meer groente as wat jy vrugte eet. Vrugte kan eerder in die oggend geëet word, dalk as ʼn peuselhappie. Helderkleurige groentes soos pampoen en botterskorsie kan saam met middagete geëet word, en donkerder kleur groente soos spinasie en broccoli in die aand,” sê sy.

Hoffman sê dat indien jy gewig wil verloor moet jy fokus daarop om nie ná middagete koolhidrate te eet nie. Dit is juis hoekom styselagtige groentes in die middag geëet moet word en nie in die aand nie.

Argieffoto

Om te sorg dat jy nie té honger word nie, beveel sy aan dat jy ʼn paar peuselhappies byderhand hou.

“ʼn Vrug is ʼn goeie peuselhappie vir die oggend, terwyl biltong goed werk vir so vieruur in die middag wanneer jy honger raak. Hoenderrepies of neute werk ook goed in die middag, maar vrugte is altyd beter in die oggend, omdat daar suiker in is en dit jou energie gee. As jy vrugte in die namiddag eet, gaan jy nie genoeg tyd hê om iets met die energie te doen nie en dit gaan op die verkeerde plekke sit,” sê Hoffman.

Die voorbereiding van kos is ook ʼn belangrike aspek van ʼn gesonde leefstyl.

“Mense moet ophou lui wees en ʼn bietjie voorbereiding doen. As jy altyd die regte kos by jou het, gaan jy nie die verkeerde goed eet nie,” het sy gesê.

“Dit neem jou liggaam 21 dae om ʼn nuwe gewoonte aan te leer. As jy vir 21 dae suiker, suiwel en gepreserveerde middels uitsny, gaan jou liggaam begin nee sê daarvoor. As jy skoon eet vir 21 dae, gaan jy besef wat jy nog heeltyd aan jou liggaam doen. Jy dink jy voel goed, maar jy besef nie hoe goed jy kán voel nie,” sê sy.

Die Hart-en-Beroertestigting van Suid-Afrika stel ook voor dat mense vir ten minste 150 minute matige fisieke aktiwiteite óf vir 75 minute aërobiese oefeninge per week doen. Dit beteken 30 minute van matige oefeninge vyf keer per week, of 25 minute aërobiese oefeninge drie keer per week.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B ·

Weereens word vleis geviktimiseer. Vrugte word selfs bo vleis gestel?

Verder sinvolle opmerkings dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.