Reënwater wat in die stormwaterdrein beland

afvoerpyp-reenwater

Foto: TanteTati/Pixabay.com

Het jy al ooit gewonder waarom daar sulke lae sementwalletjies om die drein is waarin die afvalwater van jou badkamer en kombuis loop? Hierdie walle word geïnstalleer om te verhoed dat reënwater in die afvalwaterdreineringstelsel beland. Ons het twee stelsels – ‘n rioolstelsel en ʼn stormwaterstelsel. Die rioolstelsel vervoer afvalwater na die afvalwaterbehandelingsaanleg, waar dit behandel word en teruggeplaas word in ons riviere. Die reënwater is nie veronderstel om in die rioolstelsel te beland nie. Die reënwater moet na ons tuine gelei word sodat dit natuurlik in die grond kan wegsak, of in ʼn stormwaterdrein vloei. ʼn Stormwaterdrein se water vloei, anders as rioolwater, direk na ons riviere sonder enige behandeling.

Hoekom maak dit saak as stormwater in die rioolstelsel beland? Ons munisipale siviele ingenieurs bereken die verwagte vloei van die water wat moontlik tydens nat en droë weer deur die rioolstelsel hanteer moet word. Hulle gebruik hierdie gegewens om ʼn stelsel te ontwerp – van die grootte van die pype wat die water moet afvoer, tot die dosering van chemikalieë by die afvalwater-behandelingsaanleg. Wanneer die volume water in die pype tydens ʼn groot reënbui baie groter word as waarvoor dit ontwerp is, kan probleme ontstaan. Die rioolpype kan nie die volume hanteer nie en die mangate loop dan oor. Dit besoedel geboue, strate en en en riviere.  Die bbykomende vloei in die rioolwaterstelsel oorlaai die afvalwaterbehandelingsaanleg wat langs die rivier gebou is. Dit is so gebou omdat die behandelde afvalwater volgens wet in die rivier teruggestort moet word. As die behandelingsaanleg oorstroom word, vloei dit te vinnig deur die aanleg en word die riool nie volledig behandel voordat dit in die rivier gestort word nie. Dit maak lewe in die rivier dood en veroorsaak ʼn gesondheidsgevaar vir mense.

Hoe kan stormwater in rioolstelsels beland? Sommige bouers verstaan nie die verskil tussen die twee stelsels nie en verbind ʼn afvoerpype vir reënwater verkeerd van die dak na die drein vir rioolwater. Soms lê bouers ook nie die plaveisel korrek nie, wat slegte dreinering van die stormwater veroorsaak sodat dit in die rioolstelsels inloop tydens reënbuie. Boomwortels kan ook rioolpype beskadig. As jy bome te naby aan rioolpype plant, kan die wortels die pype verstop of breek, wat stormwater kan inlaat of riool kan laat uitlek. Die risiko is groter as die boom ʼn aggressiewe wortelstelsel het. Water kan ook in die rioolstelsel beland as die deksels van mangate op jou eiendom gekraak is, of nie behoorlik pas nie.

Stormwaterindringing in stedelike rioolinfrastruktuur word toenemend ʼn probleem. In landelike gebiede sak stormwater stadig in die grond in en vloei dan geleidelik na die riviere. Stedelike gebiede is bedek met baie harde oppervlaktes, soos dakke van huise, geplaveide gebiede en paaie. Water wat op hierdie harde oppervlaktes val, loop vinnig af en veroorsaak vloede en stormwater-indringing in rioolwaterstelsels wat probleme by die behandelingsaanlegte veroorsaak.

Stormwaterindringing ʼn groot probleem vir die Stadsraad van Tshwane. Die water en sanitasie-afdeling van die stadsraad het gevind die hoeveelheid water, wat tydens reënbuie deur die rioolstelsel vloei, drie keer meer is as gedurende normale droë weerstoestande. Deur insidentrekords te bestudeer van inspeksies by huise en besighede, het hulle tot die gevolgtrekkig gekom dat die hoofrede vir stormwaterindringing die gevolg van foutiewe verbindings van afvoerpype aan die rioolstelsel was. Dit is teen die wet om stormwater of enige ander stowwe, anders as riool, in ‘n riooldrein te stort.[1]

As jy ʼn bouprojek beplan, is dit raadsaam om ʼn bouer of loodgieter te kies wat die nodige kwalifikasies, ondervinding en kennis het om aan bouregulasies te voldoen. So kan jy jouself baie riool- of stormwaterprobleme spaar en op die koop toe bydra tot ʼn veilige en gesonde omgewing vir almal van ons wat woon en werk in die Stad Tshwane.

Hierdie artikel is die tweede in ʼnʼn reeks artikels om Wêreld Waterweek 2017 te bevorder. Die artikels vorm deel van die aktiwiteite van die Moreleta-Pienaars Waterweek-komitee, wat die volgende organisasies verteenwoordig:

  • JNF Walter Sisulu Environmental Centre
  • Adopt Moreletaspruit Forum
  • Umkariso Women in Water Cooperative
  • Department of Water and Sanitation
  • City of Tshwane
  • Community Colours
  • Water Research Commission
  • Capital City Business Chamber

Bronne:

[1] City of Tshwane Water and Sanitation Newsletter Issue No 4. Negative effects of rainwater entering the sewer system.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Theresa ·

BAIE dankie vir die plasing van so ‘n insiggewende en leersame artikel. Dit hoort op elke nuusblad se voorblad, in elke taal moontlik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.