10 braaiplekke vir Erfenisdag

Argieffoto (Foto: WerbeFabrik, Pixabay)

Suid-Afrikaners is mos maar mal oor ’n stukkie braaivleis, en as jy nog ’n plekkie soek om dié Braaidag ’n tjoppie oor die kole te gooi, sal ons vir jou wys waar! Lekkeslaap het 10 openbare braaiplekke reg oor SA gevind waar jy in die sonnetjie langs die water kan baljaar. Onthou om jou eie braaitoerusting in te pak — daar is ’n nuttige lysie onderaan dié artikel!

Cape Vidal, St Lucia, KwaZulu-Natal

Maak jouself gereed vir ’n wilde braai-avontuur! Pak jou duikbril en snorkel in en kom verken die helder water wat om dié piekniekarea vloei. Die kanse is groot dat jy ’n Samago-aap en sy vriende mag teëkom, maar hulle kan ongelukkig nie saam braai nie.
Toegang: R45 per volwassene | R35 per kind | R5 heffing per persoon
Tye: 06:00 – 18:00 (April – Oktober) | 05:00 – 19:00 (November – Maart)
Kontak: 035 590 1555

Emmarentiadam, Johannesburg, Gauteng

Jy kan aan die westelike oewer van die gewilde Emmarentiadam braai, piekniek hou, saam met jou woef onderdeur die wilgerbome wandel of die teekamer besoek.
Toegang: Gratis
Tye: Sonsopkoms – sonsondergang
Kontak: 011 712 6600

False Bay Park, iSimangaliso Vleilandpark, KwaZulu-Natal

Braai in Suid-Afrika se derde grootste bewarea wat 280 km al langs die kus af strek. Moet eerder nie swem nie, want daar is krokodille, maar jy kan gerus visvang of in ’n boot op die water vaar.

Toegang: R25 per volwassene | R18 per kind (jonger as 12)
Tye: 06:00 – 18:00
Kontak: 033 845 1000

15 The Bridge, St Lucia (Foto: Lekkeslaap)

 

Fish Eagle Piekniekplek, Pilanesberg, Noordwes

Die prentjiemooi Fish Eagle-piekniekplek langs die Mankwedam is net ‘n uur se ry vanaf Johannesburg. Die dam is vol seekoeie, so onthou om jou verkyker in te pak. Wees ook op die uitkyk vir ’n geelbekneushoringvoël of eekhoring wat dalk jou boerewors wil kom steel!
Toegang: R65 per volwassene | R20 per kind | R20 per voertuig
Tye: 06:00 – 18:00
Kontak: 033 845 1000

Gariepdam, Forever Resort, Vrystaat

Dié gewilde vakansieoord is ook oop vir dagbesoekers wat graag ’n vleisie langs die grootste dam in Suid-Afrika wil kom braai en daarna in die water wil baljaar. Daar is verskeie bokke en bergkwaggas in die omgewing, so kyk gerus of jy hulle kan gewaar.

Toegang: R45 per volwassene | R35 per kind (jonger as 12) | R35 per voertuig
Tye: 07:00 – 16:30
Kontak: 051 754 0045

Gariepdam, Forever Resort (Foto: Lekkeslaap)

 

Mac Mac Pools, net buite Sabie, Mpumalanga

Ontspan in die heerlike skadukolle terwyl jy wag vir die kole of koel in die rotspoele af nadat jy die Sekretarisvoël-staproete, wat 3 km deur die bos en woud kronkel, verken het.
Toegang: R20 per persoon
Tye: 7 dae per week
Kontak: 013 764 2580

Maidens Cove, tussen Clifton en Glen Beach, Wes-Kaap

Dié lekker braaiplek spog met die mooiste uitsigte op Tafelberg en die Twaalf Apostels. Bewonder die sonsondergang terwyl jou vleisie op die vuurtjie sis of plons op ’n warm somersdag in die getypoel.
Toegang: Gratis
Tye: 7:00 – 18:00

Maidens Cove (Foto: NSRI)

 

Modjadji Natuurreservaat, Limpopo

Dié reservaat bied ’n bekoorlike braai-ervaring waar jy oor ongeveer 15 000 oeroue broodbome in die lieflike Laeveld kan uitkyk. Buiten die betowerende bome, is daar ook meer as 170 voëlspesies wat hier voorkom – enige voëlliefhebber se droom.
Toegang: R10 per persoon | R20 per voertuig
Tye: 06:00 – 18:00
Kontak: 082 200 4596

Sardiniabaai, Port Elizabeth, Oos-Kaap

Sardiniabaai is een van Port Elizabeth se mooiste strande en is gewild onder branderplankryers, perderuiters en hondeliefhebbers. Pak solank jou koelboks, want dié asemrowende braaiplek wag vir jou!
Toegang: Gratis
Tye: Sonsopkoms – sonsondergang
Kontak: 041 582 2575

Soetwater, Kommetjie, Wes-Kaap

Hier tussen die see en Slangkop skuil die perfekte wegbreek-braaiplek. Dié deel van die suidelike voorstede staan ook bekend as die “Deep South” omdat dit so “ver” vanaf die gonsende Moederstad geleë is. Die Slangkop-vuurtoring troon hoog bo die braaiplekke en getypoel uit wat die ideale foto-geleentheid vir kranige fotograwe skep.
Toegang: R10 per volwassene | R5 per kind (6 – 12 jaar)
Tye: 08:00 – 18:00
Kontak: 021 783 5914

Storyhouse, Kommetjie (Foto: Lekkeslaap)

 

So, daar het jy nou hopelik ’n lekker plek in gedagte vir 24 September. Al wat jy nog nodig het, is ’n paklysie vir jou braai-ekspedisie:

 

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Willemien Engelbrecht.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.