10 dinge in Rome wat jy nie mag mis nie

Piazza Navona - die pragtige Fontein van Vier Riviere Foto: Marianne Styan

Piazza Navona – die pragtige Fontein van Vier Riviere Foto: Marianne Styan

Vir eeue lank was Rome die middelpunt van die aarde en is dié stad op sewe heuwels een van die hoekstene waar rondom wêreldgeskiedenis gedraai het.

Dié stad ken die geheime van die romanse tussen Caesar en Cleopatra en het gebrand terwyl Nero viool speel. Dit was die plek waar Christene aan die leeus gevoer is en die apostel Paulus doodgemaak is.

Daar is duisende redes om Rome te besoek, en hier is enkele hoogtepunte:

1. Die Colosseum, die embleem vir Rome, kon tot 70 000 mense op ‘n slag huisves en dit voel vandag nog of jy die skares sal hoor juig as jy net fyn genoeg luister. Bouwerk aan die Colosseum is begin in 72 n.C. en voltooi in 80 n.C. Die opening is gevier deur 100 dae van “feestelike” spele waar daar onder meer 5 000 diere doodgemaak is vir sport. Deesdae word daar nog steeds by tye musiekkonserte gehou.

2. Langs die Colosseum vind jy die Romeinse Forum – eenvoudig gestel ‘n plaza waar rondom verskeie strukture gebou was. Ek glo dis die beste om ‘n georganiseerde toer te onderneem tussen hierdie eeue-oue ruïnes, grootliks omdat dit nogal oorweldigend kan wees en jy nie altyd weet wat jy sien nie. Die Boog van Septimius Servus (203 n.C) is byvoorbeeld een van die besbewaarde monumente van die Forum.

3. Baie naby aan die Forum, maar nie deel daarvan nie, is die Imperial Fora, een van die antieke openbare pleine. Dit is vreemd om te dink jy staan langs die altaar waar die oorskot van Julius Caesar veras is.

4. Selfs al is jy nie ‘n museumliefhebber nie, is dit die moeite werd om by Museo Capitolino ‘n draai te maak. Dit was die wêreld se eerste museum nadat Pous Clement XII in 1734 besluit het daar moet antieke kunswerke uitgestal word vir die publiek. Reg voor die gebou is die enigste oorblywende bronsbeeld van die Romeinse tyd. Die Christene het al die ander gesmelt vir munte omdat hulle geglo het dit was afbeeldings van gode. Hierdie een van Marcus Aurelius het behoue gebly omdat hulle verkeerdelik geglo het dis ‘n beeld van die eerste kerkvader, Konstantyn.

5. ‘n Paar blokke se stap verder, kry jy die marmer “Kerfeeskoek” of “Tikmasjien”, soos die Romeine verwys na die Monumento Nazionale a Vittorio Emanuele II. Dit is opgerig, rondom die 1880’s, ter ere van die eerste koning van die verenigde Italië. Daar is ‘n indrukwekkende standbeeld van Vittorio Emanuele II op sy perd voor die gebou. Die perd se romp is blykbaar so groot dat hulle vir 21 mense ‘n ete daarin bedien het net voor dit voltooi is.

6. Die bekende Spaanse trappe lê aan die eindpunt van die Via Condotti… een van die duurste inkopiestrate in die wêreld. Die trappe is ontwerp deur die toe onbekende Francesco de Sanctis wat in 1717 ‘n trapontwerp-kompetisie gewen het.

7. Die Pantheon (118-125 n.C.) met sy unieke koepeldak is een van die besbewaarde geboue van die Romeinse-era te danke aan die Katolieke-kerk wat dit omskep het in ‘n Christelike kerk. Die goud en brons interieur is asemrowend en die opening in die dak is die enigste ligbron vir die gebou.

8. Die Trevifontein moet jy amper mooi soek om nie te mis nie. Jy drentel nog so tussen die dun stegies en dan – kaboem – daar is die pragtige fontein voor jou. In die aand ‘n sprokiesland. Legende vertel as jy ‘n muntstuk oor jou skouer gooi in die fontein verseker dit jou jy sal terugkeer na Rome.

9. Moenie Piazza Navona met sy pragtige Fontein van Vier Riviere, mis nie. Hier kry jy ook die oorblyfsels van die Circus Domitianus (dit was ʼn stadion) waar perderesies gehou is in die ou dae.

10. La Bocca della Verita is een van die vreemder besienswaardighede en is basies ‘n massiewe groot ronde medalje wat ‘n man se gesig uitbeeld. Die medalje is teen ‘n muur gesit wat die “mond van waarheid” genoem word. Die legende lui as jy jou hand daarin steek, moet jy die waarheid vertel anders word jou hand afgebyt.

Ritsgids:
– In die wintermaande maak die Colosseum al vroeg toe – 15:00. Maak dus seker jy kom betyds daar sodat jy genoeg tyd het om deur te stap. Die rye is gewoonlik lank en dus sal ek voorstel dat dit die eerste besoek word van die dag. Daar is amptelike toere of jy kan dit self aanpak .
– Wees versigtig vir die “Romeinse soldate” wat buite die Colosseum rondstaan. Hulle sê jy kan saam met hulle ‘n foto neem, maar dan eis hulle ‘n geldjie daarna as betaling.
– Naby aan die Trevifontein is ‘n fantastiese Gelato-eetplekkie: Il Gelato di San Crispino.
– Villa Borghese Galery en tuine. Hier word verskeie van Bernini se mooiste werke uitgestal. ‘n Mens moet vooruit bespreek hiervoor en omdat dit ‘n entjie weg is, vat dit nogal baie van jou tyd.
– Besoek kleiner kerke wat pragtig is: Santa Maria Sapprop Minerva (pragtige blou interieur) en Il Gesu kerk (pragtige skildery in die middel).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.