10 maniere om ʼn lang vlug te oorleef

Argieffoto (Stocksnap, Pixabay)

Argieffoto (Stocksnap, Pixabay)

Maak nie saak hoe baie jy vlieg geniet nie, dit kan nogal ʼn uitdaging raak om meer as 11 ure om te kry wanneer jy in ‘n klein ruimte saam met vreemdelinge vasgekeer is.

Selfs al is jy gelukkig genoeg om ‘n baie interessante buurman te hê, met die ongelooflikste stories om te vertel, is dit onmoontlik om geselsies te maak die hele vlug deur.

Dan is daar ook ʼn mens se gesondheid om in gedagte te hou. Om vir so lang tyd in ʼn ongemaklike sitplek (selfs ‘n La-Z-Boy gaan ongemaklik raak ná drie ure!) vasgekluister te wees, kan sy tol op jou liggaam eis. Aangesien mens baie vir jou vakansie betaal of as jy genoeg ‘oemf ‘ wil hê om die hele nag deur te partytjie wanneer jy van die vliegtuig afstap, wil mens jou uiterste bes doen om so verfris as moontlik voet aan wal te sit.

My raad aan jou:

  1. Weet wat om te verwag

Vind uit hoe lank die vlug is na jou bestemming. Selfs ‘n paar uur se stop-over êrens kan net so erg wees soos om ure lank vasgekluister te wees in ‘n vliegtuig. Aan die anderkant kan dit ‘n voordeel wees om jou bene bietjie te kan strek. Vind uit of daar ʼn plek is waar jy ʼn vinnige slapie kan inwerk op die lughawe waar die stop-over is, of kry ʼn stil hoekie om jou oë te kan toemaak.
Indien jy egter besluit op ʼn direkte vlug met ʼn hele paar ure wat jy moet vul, maak seker jy kom voorbereid met ʼn goeie boek, laai ʼn paar boeke op jou Kindle of ʼn paar episodes van jou gunstelingreeks op jou iPad. Indien jy films verkies is daar deesdae ʼn groot verskeidenheid om van te kies met die druk van ʼn knoppie op jou eie persoonlike skerm. Onthou net, dit is dalk pret om ‘n film-of reeks-“marathon” in jou huis te hê, maar as jy dit vir langer as 10 ure moet doen, kan dit ongelooflik uitputtend wees. Probeer om ‘n verskeidenheid van goed te bring om jou brein besig te hou deur die hele vlug. Sudoku kan ook help die tyd om te kry.

  1. Argieffoto

    Argieffoto

    Hidreer

Verbeel jouself jy loop deur ‘n woestyn vir meer as 15 uur. Die hoeveelheid dehidrasie wat plaasvind in jou verbeelding is dieselfde as wat met jou liggaam gebeur tydens jou lang vlug in die vliegtuig, as gevolg van die droë lug. Probeer om alkohol, gasdrankies en koffie te vermy, want dit dra net by tot dehidrasie. Jy kan soveel daarvan geniet wanneer eers jy jou voete op soliede grond gesit het. Hou verkieslik by water, lemoen- en appelsap. Lugwaardinne kom gereeld in die nag met ‘n drankieskinkbord verby. Neem een van die glase op hul skinkbord (selfs al voel jy nie dors nie) sowel as ʼn glasie sap of water met elke maaltyd, sodat jy tydens die vlug gehidreer bly.

  1. Hou aan beweeg

Diepaar-trombose is iets wat gewoonlik ontstaan ​​wanneer die bloedvloei deur jou are nie voldoende is nie, as gevolg van slegte sirkulasie. Dit kan die gevolg wees van klere wat te styf sit, te lank in dieselfde posisie sit of ‘n kombinasie met ontwatering. Fokus daarop om aan te hou beweeg regdeur die vlug. Ek maak dit ‘n gewoonte om elke uur, terwyl ek wakker is, te loop vanaf die voorkant van die vliegtuig tot aan die agterkant. Wissel dit af met strekoefeninge by een van die uitgange (waar daar genoeg ruimte is). Staan op jou tone ‘n paar keer of strek op na die dak. Wikkel ook jou voete en die tone elke nou en dan terwyl jy sit. Dit voorkom ook dat jou voete opswel. Indien jy weet van ʼn familiegeskiedenis met bloedvloeiprobleme, besoek ‘n dokter voor die vlug en kry jou hande op ‘n kompressiekous om tydens die reis te gebruik.

  1. plane-841441_1280

    Argieffoto (Unsplash, Pixabay)

    Kry die beste sitplek

Dit hang natuurlik af van jou persoonlike voorkeur. Toe ek jonger was wou ek altyd by die venster sit om te sien wat aangaan. Dit help ook om jou kop te laat rus indien jy bietjie wil slaap. Deesdae verkies ek ‘n sitplek langs die paadjie, nie net omdat dit my bene ‘n bietjie meer ruimte gee nie, maar dit maak dit aansienlik makliker om meer gereeld te kan opstaan of badkamer toe te gaan. Ek hou ook van ʼn bulkhead of emergency exit-sitplek, wat bietjie meer beenspasie gee.
Nog ekstra raad: Selfs as die sitplekgordelteken afgeskakel is, hou jou sitplekgordel vasgemaak dwarsdeur die vlug. Een keer op ʼn vlug vanaf Chicago na Heathrow het ek die ergste turbulensie ooit ervaar. Om elke nou en dan wakker gemaak te word om jou sitplekgordel te moet vasmaak, is nie lekker as daardie ontwykende vlugslaap uiteindelik sy opwagting maak nie.

  1. Sleep tight… of nie

Met ‘n knaende pynlike nek soos myne is dit regtig moeilik om enige ander plek as my eie bed te slaap, maar ek het besef ek het my slaap deesdae nodiger as in my studentedae. Om te probeer  om jouself in ‘n ekonomieseklassitplek gemaklik te maak, is so onmoontlik soos om onverwags  opgegradeer te word na eerste klas – daar is net geen manier nie. Ek het heel moontlik elke posisie in die boek getoets en my gevolgtrekking is die volgende: probeer om die klein bietjie slaap wat jy wel kan kry so goed en diep as moontlik te maak. Ná aandete sal ek gewoonlik ‘n agtste van ‘n slaappil neem. Dit laat my goed slaap vir ten minste twee ure, maar verseker gewoonlik dat ek makliker en ten volle wakker word. Moenie ʼn hele slaappil drink nie! Vriende van ons het daardie fout gemaak: ná ʼn baie besige week het hulle flou op ʼn vlug geklim en het beplan om die hele vlug om te slaap… As gevolg van die slaappille het hulle nie besef die vliegtuig moes na ʼn uur terugdraai om ‘n noodlanding te maak nie. Nodeloos om te sê is hulle letterlik uit die vliegtuig gegooi sonder om te weet presies wat aangaan. Probeer dus ook om goed uitgerus op die vliegtuig te klim.

  1. Hou dit lig

Deesdae word mens nogal beperk met die hoeveelheid bagasie wat jy toegelaat word. Dit dwing mens dan soms om meer handbagasie te hê. Dit is nie ‘n goeie idee nie. Ekonomiese klas se bynaam is nie verniet “cattle class” nie. Daar is regtig nie genoeg spasie om jou enigsins naby aan gemaklik te maak nie. Beperk dus jou hoeveelheid handbagasie, om te verseker dat jy meer beenspasie het. Dis ook ʼn goeie idee om jou belangrikste dokumente en beursie aan jou persoon te hou te alle tye, ingeval jy dalk aan die slaap raak.

  1. Trek reg aan

Ek weet almal wil goed lyk wanneer hulle aan boord stap sowel en hulle aankom (veral vroue). Jy moet egter mooi dink of  ʼn styfpassende denim en hoëhakstewels die beste uitrusting is vir ʼn lang vlug. Dit lyk dalk mooi, maar dit kan ‘n gesondheidsrisiko word wanneer dit bloedvloei begin belemmer. Vra vir Lady Gaga. Sy het ʼn rukkie gelede ʼn groot skrik gekry toe ʼn te stywe uitrusting amper haar lewe gekos het op ʼn vlug. Hou dus jou uitrustings los en gemaklik so ver as moontlik. Neem gemaklike skoene wat maklik uitgetrek word en weer maklik aangetrek kan word selfs al het jou voete geswel tydens die vlug.

  1. Al die foefies kan werk vir jou

As jy desperaat ʼn slapie wil inkry tydens die vlug, staan gereed met die nodige “foefies”. ʼn Nekkussing is altyd ‘n goeie idee, aangesien mens basies regop sit en slaap en dit kan sy tol op jou nek eis. Oogmaskers en oorpluisies is slegs ekstras maar hulle werk baie goed om die wêreld van huilende babas, onkonsidererende snorkers en enige onwelkome geselsies uit te sny.

  1. Wanneer om te vlieg

Let’s face it. Jy gaan jetlag hê na so ‘n lang vlug. Daar is net geen manier wat jy ʼn behoorlike nag se slaap gaan inkry nie. Sommige lugrederye bied ‘n dagvlug na sekere bestemmings. Probeer een van daardie vlugte bespreek. Selfs al kan die dag baie lank raak, is dit wonderlik om te gaan slaap, tydens die gewone tyd. Die hoeveelheid films wat aan boord beskikbaar is, sal jou ook help deur die lang dag.

Indien jy nie jou hande op ʼn dagvlug kan kry nie, is my beste raad om nie onmiddellik bed toe te gaan wanneer jy by jou hotel aankom nie (dis nou as dit in die middel van die dag is.) Probeer om in die ritme en tyd van jou nuwe bestemming te kom. As jy regtig nie jou oë kan oophou nie, kan jy so rondom 19:00 vroeg gaan slaap en dan slaap tot die volgende oggend. Jy gaan heel moontlik vroeg wakker word, maar ten minste is dit meer in ooreenstemming met jou nuwe tydsone. ʼn Goeie wenk is om jou horlosie dadelik in te stel op die nuwe tydsone.

  1. plane-691084_1280

    Argieffoto (Unsplash, Pixabay)

    Neem jou tyd

Daar is een troetel irritasie waaroor ek altyd tog te lekker in my mou lag in ‘n vliegtuig. Op een of ander manier ontwikkel ‘n paar mense ʼn gehoorprobleem tydens die vlug. Na die landing sal die lugwaardin mooi vra: “Bly asseblief sit met julle sitplekgordels vasgemaak totdat die vliegtuig tot stilstand gekom het…” Maar klokslag sal jy altyd die arme hardhorende persoon of twee hê wat opspring selfs voor die vliegtuig gestop het. Om waarheen presies te hardloop? Daar is regtig nêrens om te gaan nie, behalwe baie ongemaklik staan ​vir ‘n hele paar minute… Selfs indien jy wel die eerste persoon uit die vliegtuig is (wat selde sal gebeur), gaan jy nog steeds staan en wag vir jou tas saam met die res van die passasiers. Wanneer die sitplekgordelteken afgaan aan die einde van die vlug, bly gerus nog sit. Om skeef en krom te staan en wag dat ander mense sakke oor jou kop afhaal, gaan jou nie rêrig baie tyd in die sak bring nie. Selfs die laaste persoon wat van die vliegtuig afklim gaan heel moontlik nog voor die tasse by die bagasieband aankom.

Indien een van jou tasse nie bo jou sitplek gebêre is nie, vra een van die ander passasiers om dit vir jou aan te gee. Mense is baie hulpvaardig op die manier.

*Marianne onderneem al hierdie ervarings en bring jou reisartikel op haar eie onkoste. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Dis ‘n mite dat koffie en gaskoeldrank tot dehidrasie bydra.

Ja, kafeïen het diuretiese eienskappe, maar die hoeveelheid vloeistof wat jy inneem in ‘n koppie koffie is baie meer as die addisionele vloeistofverlies wat die kafeïen kan veroorsaak. Dis nie noodwendig die heel beste manier om gehidreer te bly nie, maar koffie dra definitief by tot hidrasie.

Net so is gaskoeldrank ook nie dehidrerend nie. Die soorte met vreeslik baie suiker in, is nie juis gesond nie, maar dit dra wel by tot hidrasie. Selfs gaskoeldrank met kafeïen in, is nie dehidrerend nie. Koffie bevat meer kafeïen as byvoorbeeld Coke. Coke het ongeveer 100mg kafeïen per liter, terwyl koffie tipies sowat 230mg tot 550mg per liter bevat.

Alkohol is wel dehidrerend, buiten indien slegs ‘n baie lae konsentasie van alkohol ingeneem word.

Dalk eerder die navorsing doen voordat die ou mites net elke keer oor en oor opgehaal word?

Ook, dis erg anglisisties om te praat van “kry jou hande op iets” (afgelei van “get your hands on something”) eerder as “kry iets in die hande”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.