15 betowerende woudwegbreke in Limpopo

Forest Bird Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Rooikappie, Sneeuwitjie en die Slapende Skoonheid ─ wat het dié sprokies in gemeen? Woude, natuurlik! As jy al ooit gewonder het waarom soveel sprokies in woude afspeel, is dit hoogtyd dat jy jou eie feëverhaal met ’n woudwegbreek bewaarheid. Die goeie nuus is dat jy nie noodwendig al die pad Tuinroete toe hoef te piekel om jou lyf vir ’n naweek Tarzan te hou nie. Limpopo bied soveel meer as net die Bosveld en Groot Vyf-reservate, so verruil volgende keer jou wildkykwegbreek vir die woud!

Forest Bird Lodge, Magoebaskloof

Forest Bird Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Dié snoesige houthuisies is ’n voëlkyker en natuurliefhebber se droom! Bring jou gesin of ’n paar vriende saam vir ’n wegbreek waar die voëls se gekwetter, kabbelende waterstroompies en uitsigte oor die woud julle soggens sal begroet.

Forest Bird Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 8 gaste per eenheid
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe
Spesiale geriewe: Braaiplek, lapa, kaggel en skoonmaakdiens
Doendinge: Voëlkyk, fietsry, bergfietsroetes, kunsvlieg-, forel- en baarshengel en wandelroetes
Troeteldiervriendelik: Nee

Stanford Lake Lodge, Haenertsburg

Stanford Lake Lodge (Foto: LekkeSlaap)

As ’n blyplek met skilderagtige uitsigte jou eerste prioriteit vir ’n suksesvolle vakansie is, sal dié selfsorg-houthuise jou verwagtinge by verre oortref. Dit is omring deur berge, watervalle, mere en woude en is boonop lekker privaat, of jy nou ’n romantiese wittebrood of ’n gesellige groepswegbreek beplan!

Stanford Lake Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 2 – 10 gaste per eenheid
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe, maar etes kan gereël word
Spesiale geriewe: Braaiplek, kaggel, kinderoppasdiens en skoonmaakdiens
Doendinge: Voëlkyk, fietsry, bergfietsroetes, kunsvlieg-, forel- en baarshengel en swem
Troeteldiervriendelik: Nee

Timamoon Lodge, Kiepersol

Timamoon Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Dié lodge is nie net omring deur woude nie, maar is ook hoog teen ’n heuwel met skouspelagtige uitsigte oor die vallei en Sabierivier doer onder geleë. Omdat daar soveel bederfgeriewe is, beveel ons dit veral vir ’n wittebrood aan ─ wat is dan nou meer romanties as ’n borrelbad met ’n betowerende uitsig?

Timamoon Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 2 – 4 gaste per eenheid
Tipe: Lodge met restaurant op die perseel en kamerdiens
Spesiale geriewe: Hemelbed, bederfbad, kaggel, swembad, kroeg, WiFi, spa-behandelings, skoonheidsterapie, wasgoed-, skoonmaak- en pendeldiens
Doendinge: Voëlkyk, perdry, wandelroetes, tennis, wildkyk, riviervlotvaart, panorama-toere, piekniek, fietsry, bergfietsroetes, kunsvlieg-, forel- en baarshengel en swem
Troeteldiervriendelik: Nee

Moholoholo Ya Mati, Hoedspruit

Moholoholo Ya Mati (Foto: LekkeSlaap)

Wie sou kon raai jy kan selfs in die Bosveld en op die Krugerwildtuin se voorstoep in die woud kom wegkruip? Hier aan die oewer van die Blyderivier kan jy en jou gesin kom rus na ’n woelige dag van wildkyk en die Laeveld verken.

https://www.lekkeslaap.co.za/akkommodasie/moholoholo-ya-mati

Moholoholo Ya Mati (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 2 – 8 gaste per eenheid
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe, maar ook ’n restaurant op die perseel
Spesiale geriewe: Swembad, braaiplek, WiFi, speelarea, troulokaal, kapel en uitkykdek
Doendinge: Voëlkyk, wandelroetes, wildkyk, wildritte, swem en uitstappies na die Moholoholo-wildrehabilitasiesentrum
Troeteldiervriendelik: Nee

Magoebaskloof Getaway, Magoebaskloof

Magoebaskloof Getaway (Foto: LekkeSlaap)

Magoebaskloof Getaway is ’n oase van rus en vrede waar jy behoorlik kan ontspan, vars lug inasem en kyk hoe Samango-apies in die welige, subtropiese plantegroei baljaar. Gesinne sal die legio doendinge vreeslik geniet, maar paartjies sal hier nét so lekker kuier en ontspan.

Magoebaskloof Getaway (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 2 – 6 gaste per eenheid
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe, maar etes kan gereël word
Spesiale geriewe: Braaiplek, internet, WiFi, skoonmaakdiens, kinderoppasdiens, 24 uur-ontvangs en uitkykdekke
Doendinge: Voëlkyk, perdry, bergfietsroetes, swem en fietsry
Troeteldiervriendelik: Indien gereël

Bramasole, Magoebaskloof

https://www.lekkeslaap.co.za/akkommodasie/bramasole

Bramasole (Foto: LekkeSlaap)

As jy en jou wederhelf hou van die idee van ’n selfsorg-woudwegbreek, maar tog ’n tikkie luuksheid verkies, is Bramasole die ideale kompromie. Hiér is jy omring deur woud en water, maar terselfdertyd kan jy jou verlustig in die luukse linne en kamerdiens!

Bramasole (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 2 gaste per eenheid
Tipe: Selfsorg met kombuisiegeriewe
Spesiale geriewe: Braaiplek, WiFi, kaggel, balkonne, wasgoeddiens, skoonmaakdiens en konferensiegeriewe
Doendinge: Voëlkyk, fietsry, kunsvlieghengel en wandelroetes
Troeteldiervriendelik: Nee

Magoebaskloof Adventure Chalets, Magoebaskloof

Magoebaskloof Adventure Chalets (Foto: LekkeSlaap)

Dié hout-chalets is in die inheemse woud aan die randjie van die Letabakloof met asemrowende uitsigte geleë. Hier sal jy nooit eers kan dink jy is naby die beskawing nie, maar tog is daar ’n koffiewinkel en allerhande doendinge net om die draai. Dis die ideale wegbreekplek vir avontuurlustige paartjies!

Magoebaskloof Adventure Chalets (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 2 gaste per eenheid
Tipe: B&B. Ontbyt en middagete is beskikbaar by die koffiewinkel.
Spesiale geriewe: Onderdak-dek met ’n uitsig en WiFi
Doendinge: Binnebandry, boomtoptoere, abseil, verfbal, muurklim, bergfietsry, stap en forelvang
Troeteldiervriendelik: Nee

Pinella Farm Cottage, Magoebaskloof

Pinella Farm Cottage (Foto: LekkeSlaap)

Teen die randjie van ’n dennewoud op ’n pragtige plaas in Magoebaskloof skuil ’n bekoorlike kothuis met slaapplek vir ’n groot gesin of groep vriende. Bedags kan julle op die balkon braai en saans kan julle snoesig voor die kaggel kuier ─ dís mos wat mens ’n wegbreek noem!

Pinella Farm Cottage (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 7 gaste
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe
Spesiale geriewe: Onderdak-stoep, braaiplek, kaggel, elektriese komberse, ’n roeiboot vir die dam en skoonmaakdiens
Doendinge: Voëlkyk, voetslaan, bergfietsry, kunsvlieg- en forelhengel, roei en swem in die dam
Troeteldiervriendelik: Indien gereël

The Stables and Loft @ Glenogle Farm, Magoebaskloof

The Stables and Loft @ Glenogle Farm (Foto: LekkeSlaap)

Die verblyf op dié privaat landgoed in die pragtige, bergagtige Magoebaskloof is versteek tussen denneboom-plantasies. Hier kan jy kies tussen ’n luukse selfsorgwegbreek vir vier naby die perdestalle en ’n eksklusiewe bederfwegbreek vir twee met ’n uitsig oor die dam.

The Stables and Loft @ Glenogle Farm (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 2 – 4 gaste per eenheid
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe
Spesiale geriewe: Braaiplek, gratis WiFi, kaggel, elektriese komberse en privaat dek
Doendinge: Voëlkyk, perdry, begeleide wandelpaaie, bergfietsry, kunsvlieg- en forelhengel
Troeteldiervriendelik: Nee

Kapama Private Game Reserve – Kapama Karula, naby Hoedspruit

Kapama Private Game Reserve – Kapama Karula (Foto: LekkeSlaap)

Daar is min woudwegbreke so luuks soos dié! Hierdie safari-lodge, aan die oewer van die standhoudende Klaserie-rivier, is in ’n wildreservaat geleë en het die mooiste uitsigte en ’n lekker rustige atmosfeer. Jou geliefde of gesin sal jou ewig dankbaar wees as jy hulle met só wegbreek bederf!

Kapama Private Game Reserve – Kapama Karula (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 2 – 4 gaste per eenheid
Tipe: Lodge met restaurant op die perseel. Spesiale etes kan gereël word.
Spesiale geriewe: WiFi, kaggel, buitestort, dek, swembad, Nespresso-koffiemasjien, kroegie, biblioteek, konferensiegeriewe en spa
Doendinge: Boswandelinge en wildritte (ingesluit by die tarief), warmlugballonvlugte, foto-safari’s en besoek aan die bedreigdespesies-sentrum
Troeteldiervriendelik: Nee

Kurisa Moya, Kurisa Moya Nature Lodge, Magoebaskloof

Kurisa Moya (Foto: LekkeSlaap)

Dié omgewingsvriendelike lodge op die noordelike Drakensberg-platorand het uitsigte oor die pragtige Koedoesriviervallei en is omring deur ’n oorvloed flora en fauna. Die houthuisies is in die inheemse woud versteek en is ideaal vir ’n gesinsvakansie óf ’n romantiese wegbreek.

Kurisa Moya (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 4 – 10 gaste per eenheid
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe, maar maaltye is op versoek beskikbaar.
Spesiale geriewe: Braaiplek, veranda, buitestort, kaggel en wasgoed-, skoonmaak- en kinderoppasdiens
Doendinge: Voëlkyk, wildkyk, wildritte, fietsry, bergfietsry, tennis, begeleide wandelpaaie, kunsvlieg-, forel- en baarshengel en swem
Troeteldiervriendelik: Indien gereël

Witwater Safari Lodge en Spa, Vaalwater

Witwater Safari Lodge en Spa (Foto: LekkeSlaap)

Hierdie lodge aan die oewer van die Phalala-rivier in die Waterberge het só ’n groot verskeidenheid geriewe dat dit byna elke tipe reisiger sal pas ─ van wittebroodspaartjies tot sakereisigers! Dit is ’n absolute lushof wat sommer wild, woud en water, én ’n spul doendinge, op een perseel bied.

Witwater Safari Lodge en Spa (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 2 – 8 gaste per eenheid
Tipe: Lodge met ’n restaurant op die perseel
Spesiale geriewe: Braaiplek, kroeg, swembad, spa, bederfbad, sauna, dek en konferensiegeriewe
Doendinge: Voëlkyk, wildritte, begeleide wandelpaaie, fietsry, visvang, kunsvlieghengel en swem
Troeteldiervriendelik: Nee

Shangri-La Country Hotel & Spa, Modimolle

Shangri-La Country Hotel & Spa (Foto: LekkeSlaap)

Shangri-La is in ’n lowerryke, tropiese tuinwoud op ’n plaas in die Bosveld versteek en is ’n paradys vir paartjies of ’n klein gesin wat uit die stadsgewoel wil ontsnap. Buiten die hotel se doendinge is daar ook verskeie wandelpaadjies om te verken en selfs ’n waterval op die perseel!

Shangri-La Country Hotel & Spa (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 2 – 3 gaste per eenheid
Tipe: Hotel met ’n restaurant op die perseel
Spesiale geriewe: Boma, swembad, gratis WiFi, kroeg, wynkelder, daaglikse skoonmaakdiens, wasgoeddiens, konferensiegeriewe, rolstoelvriendelike geriewe en kamerdiens
Doendinge: Voëlkyk, swem, tennis en voetslaan
Troeteldiervriendelik: Nee

Shondoro Mountain Retreat, Vaalwater

Shondoro Mountain Retreat (Foto: LekkeSlaap)

Op dié pragtige bosveldplaas in die Waterberge seëvier rus en vrede! Op ’n mooiweerdag kan jy in die natuurlike swempoel ontspan nadat jy ’n voetslaanroete aangepak het en saans kan jy saam met jou gesin of vriende gesellige rondom die boma kuier.

Shondoro Mountain Retreat (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 3 – 5 gaste per eenheid
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe
Spesiale geriewe: Braai-boma, braaiplek, swembad en daaglikse skoonmaakdiens
Doendinge: Begeleide voëlkyktoere, fietsry, bergfietsry, visvang, wildritte, wildkyk en swem
Troeteldiervriendelik: Nee

Amafu Forest Lodge, Kampersrus

Amafu Forest Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Amafu se grasdak-chalets en luukse tente teen die welige, groen woudhange van Mariepskop in die Noordelike Drakensigberge bied die perfekte mengsel van gerief en avontuur. As jy gou spring kan jy vir die naweek van 5 – 7 Mei 2017 sommer 50% af kry!

Amafu Forest Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Slaapplek: 2 – 8 gaste per eenheid
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe
Spesiale geriewe: Braaiplek, kroeg, swembad, stoep/balkon, buitestort, boma, konferensiegeriewe en daaglikse skoonmaakdiens
Doendinge: Voëlkyk, swem, voetslaan, kloofspring en bergfietsry
Troeteldiervriendelik: Nee

As jy droom oor versteekte huisies in die woud is Limpopo dalk nie die eerste provinsie wat in jou dagdrome opduik nie. Wel, dan hoop ons dié 15 woudwegbreke het jou aangenaam verras ─ daar skuil duidelik meer as net wild in dié geweste! Bespreek sommer nou jou wegkruipplek in die woud voor die stadsgewoel jou weer kan onderkry.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Ankia Wolf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.