Aan die oewer van die Goukammarivier

Blackwater River Lodge (Foto: Carina Stander)

Aan die oewer van die Goukammarivier is die skemerlug gevul met swaeltjies en vinke wat na hulle neste terugkeer. Hier in die stokou bosvy van Blackwater River Lodge wemel dit van die Knysnaloeries wat aan die vye smul.

Ons parkeer en maak kennis met die borrellende eienares, Elmay Bouwer. Sy het joernalistiek en regte studeer en vir jare by ʼn universiteit gewerk, voordat sy vyf jaar gelede dié lodge-uitdaging aangepak het saam met mede-eienaar Paul Theron, ʼn siviele ingenieur. Die twee van hulle het genoeg energie om die hele Tuinroete van krag te voorsien! Maar daar was ook ʼn vuurdoop: Die Knysna-brande van Junie 2017 sal vir ewig ingebrand wees in hulle geheue. Vlamme het van die berge af gelek en groot gedeeltes van hulle eiendom vernietig.

Paul en Elmay het egter besluit om hulle werkers te behou vir die heropbou van dié pragplek en bietjie meer as ʼn jaar ná die verwoestende brande, het hulle die lodge heropen met twintig spogkamers. Vandag is hulle leuse: “Soos fynbos herleef ná ʼn vuur, so kom ons ook sterkter terug!”

Blackwater River Lodge (Foto: Carina Stander)

Paul en Elmay verstaan van omskepping: Die intieme Earth & Fire-restaurant was eens op ʼn tyd ʼn trekkerskuur en die gemaklike bankie waarop ek en Gerrit ewe romanties sit, was lank terug ʼn pootjiesbad! Ons sit digby ʼn buitelugvuurtjie en klink ʼn glas shiraz met Theuns Jordaan en Johannes Kerkorrel se musiek op die agtergrond, die berge in die voorgrond en ons seuns wat soos wildewragtags op die gholfbaan rondhardloop en teen die grasbulte af bolmakiesie.

ʼn Kelnerin met die welverdiende naam Rejoice, bring vir die seuns ʼn “voorgereg”-verrassing: malvalekkers op sosatiestokkies en sjokoladesous!

Earth & Fire kweek hulle eie groente en ondersteun graag plaaslike boere, daarom is die bestanddele kraakvars. Ons verlustig ons behoorlik aan die volstruisfilet met rooibosbessiesous, die hartlike hoenderpastei en die geurige, klewerige, soetsout varkmagie (pork belly).

Een van die dinge wat dié omgewing besonders maak, is dat mens lekker ver kan roei.

Blackwater River Lodge (Foto: Carina Stander)

Saterdagoggend wip ons in die lodge se roeibote – ons elfjarige seunskind saam met my en ons sewejarige karnallie saam met Gerrit – en vaar die rivier op. Vir 8,5 km roei ons vanaf Blackwaters tot by Goukamma-natuurreservaat. Dis die verste wat ons gesin al ooit saam geroei het en vir die eerste uur is dit meer van ʼn gestoei as ʼn geroei – veral so met die wind van voor!

Later gaan dit darem voor die wind. Die beesboerderye aan die oewer maak plek vir inheemse woud en ons ruik die melkhoute. Visvangers vlieg ʼn lang ent voor ons uit (hier is vier soorte visvangers) en die swaeltjies bou hulle modderneste. Die kiewiete trippel op die oewer in swart-en-wit-snyerspakkies. ʼn Valk swiep af en ʼn visarend se roep eggo deur die kranse. Die duineveld is van die hoogs begroeide duine in die land en die Groenvleimeer skakel ondergronds met die see. Die Goukamma-natuurreservaat waar ons uitklim is ongeveer 40 km oos van George en 25 km wes van Knysna, maar dis naby die lodge en Paul kom laai ons sommer flink op.

Blackwater River Lodge (Foto: Carina Stander)

Ná ʼn stort voel ons verkwik en verfris en lus vir piekniek. Earth & Fire het die piekniekmandjies keurig gepak met ʼn bos vars laventel, kruisement en basiliekruid uit eie bodem. Ons gaan sit eenkant onder ʼn yslike ou vyeboom aan die oewer en smul aan die tuisgebakte brood en plaasbotter, bloukaas en camembert, boerenham, parmaham, hoenderlewerpatee, olyftapenade, pampoen-quiche, pers-ui-marmelade, eier gevul met agurkies, groenslaai en sjokoladekoek. Die porsies is ruim en die gehalte uitstekend. Dis loshande die lekkerste piekniek van my lewe! Teen die tyd dat ons alles verorber het, het die vogeltjies al teruggekeer na hul neste in die riete en die bobbejaantrop se geroep in die kranse is stil. Mistigheid waai oor die berg.

Elke maand het ons gesin ʼn tegnovrye naweek waarin ons vir 48 uur glad nie aan ʼn skootrekenaar, tablet of televisie raak nie. Geen Minecraft, geen Facebook, geen WhatsApp, geen nuus lees nie. Selfone word net gebruik vir kiekies waarmee ons ons herinneringe vasvang. Sulke tye kuier ons intensief – soos hier by die rivierlodge. Die seuns jaag mekaar soos seeleeutjies deur die swembad en ons stap deur die tuine en wys vir mekaar die inheemse plante uit: bloulelie (agapantus), clivia, aronskelk, pers muishondbos, aalwyn en die Maartlelies wat nou pienk blom. Hier is ook kiepersol, geelhout, kershout, protea, kamferfoelie en broodboom. Daarna gaan speel ons 30 Seconds en die tradisioneel Malawiese bordspeletjie, Bao in die ruim kuierkamer.

Wanneer ons teen donker na ons kamers terugkeer, wag daar sjokolade op ons kopkussings en ʼn glas sjerrie vir my en Gerrit. Ons klim in die heerlike sagte beddens en lees verder aan ons storieboeke tot ons wegdryf na droomland.

Blackwater River Lodge (Foto: Carina Stander)

Sondagoggend is mistig, fyn reën sif oor die vallei. Die streek is tussen somer- en winterreënval, wat beteken dat dit onverwags koel kan wees in die somer en die warm bergwinde soms waai in die winter. Jy kan dus enige tyd van die jaar kaggelweer of sonskyn verwag. Dis knus waar ons vir oulaas ontbyt eet by Earth & Fire en die gaste help hulselwers met die mandjie vol kniekombersies. Die geur van vrugte, spek en kaas, buiteoond-gebakte brood en moerkoffie vul die stoep. Op die agtergrond speel “Suzanne” van Leonard Cohen, een van my gunstelingliedjies van alle tye. Ek verbeel my dat dit ʼn temaliedjie vir die naweek kon wees:

Suzanne takes you down to her place near the river
You can hear the boats go by, you can spend the night forever
And you know that she’s half-crazy but that’s why you want to be there/
(…) And you want to travel with her, and you want to travel blind…

REISRAAD

As jy ʼn wegbreek verlang wat skaars ʼn minuut se ry van die hoofweg af is, maar afgeleë, vredig en veilig voel, is Blackwaters River Lodge ʼn uitstekende keuse. Hier is genoeg doendinge om ʼn lekker langnaweek te verseker, sonder dat jy in jou motor hoef te klim en iewers heen te rits vir vermaak.

Hier is ʼn Mashie-gholfbaan met 9 putjies; kano’s waarmee gaste gratis in die Goukammarivier na Buffelsbaai kan roei vir 11 km (+\- 2,5 uur); ʼn swembad en vlugbalnet; 250 voëlspesies vir voëlliefhebbers; voortreflike deli-piekniekmandjies-vir-twee en die gesellige Earth & Fire-restaurant.

Skakel 083 739 9175 of 044 3830105. Vonkpos: [email protected]. Webwerf: www.blackwaters.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Barend ·

Net jammer alles by die lodge is in Engels – is die twee eienaars nie beide Afrikaanssprekend nie?

Carina Stander ·

Barend, een van die twee eienaars is Engels (met ‘n Afrikaanse van.) Die personeel is goed tweetalig. Hier is soveel oorsese toeriste en mense van regoor die land wat graag in die Tuinroete vakansie hou en die inligting moet vir almal verstaanbaar wees.

Barend ·

Dit kan mos in Engels sowel as in Afrikaans gesê word. Dan kry die oorsese toeriste ook sommer ‘n bietjie blootstelling aan Afrikaans.

Henning ·

Barend, ek stem saam met jou. Ek ondersteun nie ondernemings wat Afrikaans minag nie.

Robert Zeelie ·

Hier het ek grootgeword. In die rivier geswem. Somers deur daar in die water geboer. Nagte op die rivier geroei en springers gevang. As kind het ek teen die rivier opgestap. Noord van die N2 tot diep in die bosse. Baie lank terug het iemand ñ paar appelbome teen die rivier geplant. In wat daardie tyd bekend was as Kêrelsvlei. Hier het ek ook eenkeer ñ hele nes van boomslange verras wat in die gras langs die bos gelê het. Nog nooit weer so baie slange bymekaar gesien nie.

Louis ·

Dankie Robert dat jy die mooi sien in wat hier beskryf word en nie net die kleinlike snert oor taal van die ander twee kommentators nie.

jaco ·

hierdie gekla oor alles engels is laat my wonder: is daar dan afrikaanssprekendes wat nie engels verstaan nie? was hulle dan nie in die skool nie? sover ek onthou was engels nog ALTYD, selfs in die ou SA, verpligte vak op skool tot matriek toe.

Henning ·

Louis en Jaco, gaan lees gerus die artikel oor Wikipedia hier bo. Dalk gaan daar ‘n liggie vir julle op.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.