Afrika se grootste vlieërfees binnekort in Muizenberg

BornToFly-02

Foto: Cathy Williams.

#BornToFly is die tema van die 22ste internasionale vlieërfees wat die lugruim bokant Muizenberg in die Wes-Kaap op 29 en 30 Oktober met ongelooflike vlieërs sal vul.

Die fees word jaarliks ter ondersteuning van Cape Mental Health aangebied en is Afrika se grootste vlieërfees. Deelnemers van Kanada, China, Duitsland, Engeland, Nieu-Seeland, Singapoer en regoor Suid-Afrika sal die geleentheid na verwagting bywoon. Dit is ook Suid-Afrika se grootste bewusmakingsgeleentheid vir geestesgesondheid en al die wins word aangewend om broodnodige dienste aan kinders en volwassenes in die Kaapstad-omgewing te voorsien.

“Ons glo elke mens is gebore met die potensiaal om bo sy of haar lewensomstandighede uit te vlieg,” sê Ingrid Daniels, direkteur van Cape Mental Health, die organiseerder van die jaarlikse vlieër-extravaganza. “Ons missie is om mense te help om hulle potensiaal te bereik en geestesgesondheidsuitdagings te oorkom. Vlieërs is een van die metodes wat ons gebruik. Feitlik almal voel ligter van gees wanneer hulle bloot koppie oplig en boontoe kyk.”

Die fees bied bekostigbare gesingspret. Daar is daagliks gratis werksessies oor die maak van vlieërs, insluitend sessies met meester-vlieërmaker Ebrahim Sambo van Athlone, wat sal wys hoe om tradisionele swaeltjie-vlieërs te maak. Met ʼn mark, kosstalletjies en ʼn teetuin hoef niemand honger te lei nie. Of bring ʼn piekniekmandjie en geniet die dag terwyl jy kyk hoe van die wêreld se ongelooflikste vlieërs Muizenberg se lugruim deurkruis.

Die Kaapstadse Internasionale Vlieërfees vind op (en bokant) die grasperke van die Zandvlei-natuurreservaat in Muizenberg op die hoek van Axminster- en The Row-straat plaas. Dit is daagliks van 10:00 tot 18:00 oop. Daar is baie parkering en maklike toegang per trein vanaf Valsbaai- en Muizenberg-stasies. Toegang is R30 per volwassene en R10 vir kinders van 12 en jonger.

Kaartjies is aanlyn by www.capementalhealth.co.za en die hek beskikbaar.

Volg Cape Mental Health op Twitter, Facebook en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.