Afrikaanse Alex uit Duitsland kom kuier in die Kaap

Kirstenbosch (Foto: Suné van Heerden)

Alexander S. Mickel is ʼn Duitser wat homself Afrikaans leer skryf en praat het. Hy is nou ʼn passievolle Afrikaanssprekende in Duitsland met ʼn groot netwerk Afrikaanse vriende in Suid-Afrika. Hy het onlangs besoek afgelê aan die Wes-Kaap. Sy brief word gepubliseer net soos hy dit aan ons gestuur het. Die brief is nie geredigeer of teksversorg nie. -Red

Die inleiding van my berig is ʼn moeilike ding want waar om te begin? Dit is ʼn lang storie! Ek het myself Afrikaans geleer en toe Maroela Media in Februarie 2017 ʼn brief van my gepubliseer het, het baie mense vir my gevra of ek al in Suid-Afrika was. Ongelukkig was my antwoord steeds: nee, ek was nog nooit in Suid-Afrika nie! In Maart 2019 kon ek planne uitwerk vir my eerste besoek aan Suid-Afrika. Ek wou Afrikaans in haar tuiste toepas en Namakwaland se blomme sien.

Op 4 September begin toe my avontuur. Ek het die volgende dag in Kaapstad arriveer. Dit is so lekker as ʼn mens op die lughawe ingewag word deur iemand wat ʼn bordjie vashou met jou naam daarop. Toe ek in Stellenbosch aangekom het, het ek dadelik ʼn besoek by die botaniese tuin afgelê. Terwyl ek tussen die blomme gewandel het, het ek agter my Duitsers gehoor en toe ek later by die deur uitgestap het, het twee Duitse studente by die deur ingestap. Ai tog, ek wou mos van my eie taal ontslae raak vir 2.5 weke!

Die volgende dag is ek opgelaai om Vanrhynsdorp toe te gaan. Hierdie toer vat ʼn bietjie tyd, veral wanneer ʼn mens langs die pad stop. My eerste stop was in Ceres en daarvandaan het ons na die dorp Op-Die-Berg gery om met die perdekarretjie te ry. Dit was heerlik! Die toere met die perdekar kan ʼn mens bespreek vir troues of ander gebeurtenisse of sommer net om piekniek te hou.

Die Kaap is asemrowend! Daar is mooi berge, wolke wat met die berge saamsmelt, en pragtige Fynbos-vegetasie. Ek het verder verby Citrusdal, Clanwilliam en Klawer gery om in Vanrhynsdorp uit te kom. Op pad soontoe kan ʼn mens mooi sien hoe die omgewing verander; die grond raak al hoe droëer. In Vanrhynsdorp aangekom, het ek die eerste kuiertjie afgelê en sommer ʼn koppie tee, beskuit, koeksisters en ystervarkies gekry. Dit was nou lekker! Nadat ek heerlik gekuier het, is ek na my gashere gebring waar ek vir die volgende dae tuisgegaan het.

Elandsvoetpad-gasteplaas, Nieuwoudtville (Foto: Alexander Mickel)

Die volgende dag is ek Gifberg toe gevat. Die Gifbergpad en die pad na die plaas 7 Fontein was ‘n avontuur! Ek het verstaan hoekom dit so belangrik is om ‘n bakkie te hê! Gifberg is die moeite werd om te besoek want daar is indrukwekkende rotse (bv. die Krokodilkoprots), ʼn mens kan daar lekker stap, daar is ʼn waterval en ʼn klein stroompie. Ons het ook blomme gaan soek en enkele pragstukke gevind. Op pad terug is ek aan die Kokerboom Kwekery van Vanrhynsdorp bekendgestel. Liefhebbers van Kokerbome en vetplante sal hierdie plek baie geniet.

Kerkbasaar op Grootdrif. In een woord: kos! Daar was vleis, vleis, vleis, terte en koeke, ander gebak, roomys, en vleis. Ek weet nie, het ek al vleis genoem? My gashere van Vanrhynsdorp het my aan verskeie mense voorgestel. Toe dié mense van my storie hoor en dat ek Afrikaans praat, hang hul monde behoorlik oop. Ek het lekker gesels! Toe is pannekoek vir my gekoop; nie een nie maar vier! Ek het springbokwors en basaarpoeding geëet. Onderwerp boeremusiek: kom ons maak dit kort, dis nie my soort van musiek nie. Daar is verskeie liedjies gespeel, maar vir my was dit asof hulle één lang liedjie gespeel het. Ná die kerkbasaar het ons eers Nieuwoudtville toe gegaan. Ek was so bietjie bly om van al die kos ontslae te wees en dat ek nie heeltyd aan kos moes dink nie, toe daar agter in die kar so wraggies weer ‘n lemoen geskil word! Sjoe!

Uiteindelik sien ek blomme in Nieuwoudtville! Daar was die grootste vygieblomme wat ek nog ooit gesien het! Ek was oor die algemeen seker ʼn bietjie te laat vir die blomme vanjaar, maar ek het gelukkig nog heelwat mooi blomme gesien. By die Kerksaal het ek poskaartjies gekoop. Met my rugsak op lyk ek baie soos ‘n toeris. Die tannie sê vir my in Engels hoeveel Rand dit is. Ek sê vinnig: Maar ek wil graag Afrikaans praat! Toe som ek my storie in drie sinne op. Sy lyk stomverbaas! Dit was heerlik!

Daarna het ons nog ʼn hele ent na verskeie plase soos Papkuilsfontein en Matjiesfontein gery om blomme te gaan soek. Ek was ook by die Kokerboomwoud naby Gannabos. Die bome lyk ongelukkig baie sleg. Klaar te droog daar. Dis hartseer om die bome so te sien. Terwyl ek na die bome gekyk het, het ‘n bus gearriveer. ‘n Hele paar toeriste het afgeklim. Die mense wat my vergesel het, het met die toeriste gesels en toe ek teruggekom het motor toe, hoor ek al klaar van “Duitser” en “homself Afrikaans geleer”. Toe is ek weer uitgevra… Laaste plek van die dag was die Elandsvoetpad Boerdery. Daar was die grootste katsterte wat ek nog ooit gesien het. Ná ons klaar gekuier het op die plaas, het ek met ‘n yslike sak rooibostee by die deur uitgestap! Ek het orals so baie gasvryheid geniet!

Die volgende dag is ek deur my gashere Strandfontein en Doringbaai toe gevat. Dit was wonderlik by die see. Saans het ek bobotie geëet en dit was heerlik! My verblyf in Vanrhynsdorp was nou amper verby, maar ek wou nog graag een nag in Garies vertoef. Op pad soontoe stop ons in Bitterfontein waar ek by ʼn toeristestalletjie twee boeke gekoop het. Ai, ek het eintlik nie regtig spasie in my tas vir nog boeke nie! Ek is egter mal oor boeke en wou darem graag eg Namakwalandse literatuur hê. Op pad na Garies het ons op ʼn plaas by Groenrivier heerlik gekuier en die klein hondjie wat ek daar ontmoet het, het my dag gemaak. Uiteindelik het ons in Garies uitgekom. Naby die dorp is ʼn pragtige rotsformasie – die Letterklip. Dis nogal iets wat ʼn mens móét sien.

Een van die dinge wat nuut vir my was, was al die hekke. Ek ken dit glad nie. In Duitsland is nie hekke wat ek moet oopmaak nie. Ek het nog nooit so baie hekke oopgemaak as in Garies se geweste nie. Daar is hekke waaraan ʼn hele paar nommerplatte vasgemaak is. Indien iemand dus na sy nommerplat soek, gaan soek dit in Garies! Op borde word gewaarsku: “Ry asb. versigtig. Uitsig beperk. Diere wat dwaal.” Ek het skaars my gedagte klaargedink hoe dit moontlik sou kan lyk, toe spring ʼn koei uit die bos! Ek het my amper flou geskrik. Ja, die uitsig was inderdaad beperk en ja, daardie koei het verseker gedwaal!

Hek in Garies (Foto: Alexander Mickel)

Daar was nog ʼn hele entjie om te ry om by die plaas uit te kom waar ek ʼn losiesplek gehad het. Uiteindelik, sonder dat daar nog koeie op die pad was, het ek daar aangekom met my min of meer Standaardafrikaans en daar word ek toe summier aan Namakwalandse Afrikaans blootgestel! Ai tog, wat ʼn groot gesukkel! Ek dink ek het dalk so 30% – 40% verstaan, want daar word baie binnemonds gepraat. Vir die mans was ek nie Alexander nie maar sommer net “die Duitser”!

Hierdie Duitser se lewer het saans hard gewerk as die vuur aangesteek word. Aan sy regterkant het ʼn bier gestaan en aan sy linkerkant ʼn glasie wyn. Sjoe, toe kom hulle sommer weer wyn skink! Ek het ʼn groot stuk gebraaide vleis gekry en dit het heerlik geproe. Die kuier op die plaas het ek baie geniet! Die volgende oggend het ʼn ander boer my gashere besig gehou. Tussendeur het ek my tasse motor toe gedra – net om te sien dat ons ʼn pap wiel het. Ek het dit vir hulle laat weet en die ander boer het kom kyk en gesê: “Die wiel is leeekker pap!” Alhoewel ʼn pap wiel niks snaaks is nie, bars ek uit van die lag. Die manier hoe hy dit gesê het, was tegelykertyd snaaks, hartlik en ʼn harde feit.

Hoe die mense daar met mekaar gepraat het was ʼn wonderlike ervaring vir my. Om dit te probeer verwoord sou nie reg laat geskied aan dié mense nie. Dis iets wat ʼn mens moet beleef. Ek onthou nog steeds hulle stemme. Toe is dit tyd om totsiens te sê vir Namakwaland en sy mense, want daar was nog plekke in die Kaap wat op my lys is. Op pad Kaap toe, sien ek die Sandveld, en ek verstaan waar sy naam vandaan kom. Ons ry via Velddrif na St. Helenabaai. Ek het die see baie geniet. Toe is dit skielik amper donker en ons besluit om so vinnig moontlik by my volgende bestemming uit te kom.

Ek het die volgende dae in Stellenbosch gebly om sy omgewing te verken. Die eerste plek wat ek gaan besoek het, was Elsenburg, ʼn landskap my baie beïndruk het. Daar is ʼn wynproe vir my gereël en ek kon die wynkelder besoek. Ek het dit vreeslik geniet al het die brandewyn my keel vir die res van die dag asepties gemaak! Ek is aan baie mense voorgestel en het lekker gekuier. Dit was ʼn interessante kuierplek.

Elsenburg-omgewing (Foto: Alexander Mickel)

11 September. Uiteindelik was ek in die Paarl by die Taalmonument met taaldinge besig. Ek het ʼn gids gehad wat my alles oor die Taalmonument vertel het. Toe sy hoor ek het myself Afrikaans geleer, sê sy: ek is sommer baie trots op jou! Dis darem altyd lekker om so iets te hoor! Daarna is ek dorp toe om ʼn besoek by die Afrikaanse Taalmuseum af te lê. Ek het weer ʼn gids gehad wat baie inligting oor die museum kon gee en ek het ʼn hele paar boekies ryker geword. Dit was baie interessant en met al die boeke is ek in my noppies! Later is ons vir aandete genooi wat ek vreeslik geniet het. Dit beteken weer kos, wyn en geselsies.

Taalmonument (Foto: Alexander Mickel)

Indien iemand ʼn plek in die Paarl soek om te gaan stap, gaan Meulwater Botaniese Tuin toe! Dit was ʼn genotvolle ervaring.

Op 12 September het ek ‘n besoek by die WAT in Stellenbosch afgelê! Ek het dit vreeslik geniet en baie oor die WAT geleer. Baie, baie dankie vir dr. Willem Botha (hoofredakteur) wat tyd gemaak het en spesiaal vir my op kantoor was! Ek het vir dr. Frikkie Lombard (eindredakteur) ook ontmoet en heerlik met die mense op kantoor gekuier. Toe borg ek die woord “Afrikaansprater”. Hierdie besoek het my dag gemaak!

Alexander Mickel en dr. WF Botha, hoofredakteur van die WAT (Foto: WAT)

Later die dag het ek ʼn besoek aan Babylonstoren afgelê en het heerlik deur die pragtige tuine gewandel. Dit was wonderlik om die kleure van al die vrugte, groente, blomme en bome te sien. Dit was vir my ʼn konsert van kleure. By die vetplantkwekery kon ek vir dr. Ernst van Jaarsveld ontmoet wat in beheer van die tuine is.

Babylonstoren (Foto: Alexander Mickel)

Nou was dit amper tyd om vir my Stellenbosse gashere totsiens te sê. Tog neem hulle my gou nog ʼn bietjie rond, onder andere Gordonsbaai toe. Die pad langs die kus is pragtig! Die volgende stop was Somerset-Wes om die Helderberg te gaan stap. Sjoe, dis so mooi daar!

Die volgende oggend het ek Martin Steyn vir ontbyt ontmoet. Ek geniet sy boeke vreeslik baie en dit was interessant om met hom te kuier. Ons het baie gelag ook want Martin is ʼn lang man en ek is een van die kort soort van mense. Toe vind ek iets om op te klim sodat dit op die foto lyk asof ons van eenderse grootte is. Dit was lekker om te grap!

Alexander Mickel saam met Martin Steyn (Foto: Anélia Marais)

My nuwe gashere het my in Somerset-Wes kom haal om my Kaapstad toe te vat. Saans is ek genooi vir ete saam met die familie. Die braaistoep was vol van mense en die tafel vol van kos en ek het nie geweet wat om eerste te eet nie. Dit was ʼn maraton van kos wat my vir dae versadig laat voel het! Sjoe, hoe het ek hierdie aand vreeslik geniet!

Gedurende my vakansie was ek eintlik nooit alleen op pad nie. Daar was altyd mense saam met my. Net een dag het ek Kaapstad alleen verken. Ek het die Suid-Afrikaanse Museum besoek, die Kompanjiestuin gesien en ek was by die Groote Kerk en die Distrik Ses-museum. Die volgende dag het ek Suné van Heerden ontmoet wat by Maroela Media werk. Ek en Maroela Media is eintlik ʼn storie op sy eie, want hulle het ʼn leserbrief van my gepubliseer en die mense het baie daarvan gehou. Maroela Media stel belang in my aktiwiteite rondom Afrikaans en hulle ondersteun my graag deur my briewe en lesersindrukke te publiseer. Ek waardeer dit baie!

Kompanjiestuin (Foto: Alexander Mickel)

Suné werk van Kaapstad af en ons het vooraf afgespreek om mekaar te ontmoet. Die plan het ingesluit om Uber-vervoer te gebruik om die stad in te ry. Omdat ons in Duitsland ʼn goeie openbare vervoer het, was Uber vir my onbekend, maar ek het wel daarvan gehoor. Suné wys vir my hoe dit werk en sy laat weet hulle waar is ons. En toe wag ons. Uber kom nie. Suné hou Uber se vordering op haar selfoon dop. Ons sien hy ry na die verkeerde kant! Suné meen dat Uber eintlik ALTYD werk! Deur skrefie-oë loer ek vir haar en ek moes lekker lag. Ons loop toe na die ander straat toe want ons was seker hy sal van daardie kant af opdaag. Uber kom nie. Suné bel die Uber-man en beskryf waar hy ons kan kry. Uber kom nie. ʼn Blik op die foon maak dit duidelik dat hy nog steeds deur die strate dwaal. Ai tog, ons is seker hy soek na ons! Dit was nóg ʼn oproep en nóg wag voor Uber ons uiteindelik gevind het en ons die stad kon inry. Ek was oortuig dit is nie ʼn avontuur nie maar ʼn Ubertuur! Uiteindelik het ons by die gewenste bestemming arriveer. Hoera!

Ek en Suné het beplan om met die rooi bus te ry. Toe koop ons ʼn kaartjie vir die blou roete (Mini Peninsula Tour) en wag vir die bus. Daar is oudiogidse in die busse beskikbaar wat inligting gee oor al die besienswaardighede. Met die Duitse gids in my oor het ek begin luister en ná 10 minute het ek na die Afrikaanse een oorgeskakel. Dit het baie goed uitgewerk en ek het mooi verstaan! In Kirstenbosch klim ons toe af. En is dit nie ʼn pragtige tuin nie! Ek staan toe by die vygies en Suné neem my af. En ek vra: Hoe lyk ek? Toe sê ‘n vrou iewers agter my: PRAGTIG!
Ek het so lekker gelag! Dit was so snaaks! Het glad nie besef dat sy my vraag gehoor het nie! Het sommer baie dankie vir die vrou gesê.

Met die pers roete het ons na Groot Constantia gery. Ná ons daar klaar gekuier en geëet het, is ons na die Waterfront om ʼn toer met ʼn boot te doen. Die dag was wonderlik en die weer was heerlik! Dié dag was weereens ʼn kosbare ervaring.

My vakansie was toe amper verby. Ek is nog ʼn bietjie rondgeneem en vir aandete genooi. Dis was ʼn uitdaging om al die geskenke wat ek gekry het, in my tasse te pak. Ek praat van 13 boeke (sommige boeke was dik boeke), twee wynbottels en ʼn yslike sak rooibostee (1 kg). Verder was daar nog biltong en droëwors wat ek egter lankal opgeëet het. Julle kan dus mooi sien hoe baie ek bederf is!

Toe eindig my besoek aan Suid-Afrika en ek is só hartseer! Elke plek was op sy eie manier spesiaal! Dit was vir my so lekker om hier Afrikaans te praat en ek het die talle gesprekke baie geniet! Dit was wonderlik vir my om te besef hoe goed ek reggekom het met my Afrikaans. Ek het alle mense in Afrikaans gegroet. Sommige was nie regtig Afrikaanssprekend nie maar hulle kon min of meer Afrikaans verstaan. Soms was ek op sekere openbare plekke nie seker watter taal ek moet gebruik nie; Afrikaans of Engels? By die Suid-Afrikaanse Museum en by ʼn poskantoor in Gordonsbaai het ek Afrikaans gebruik en toe praat hulle Engels met my. Nou weet ek nie: het ek dalk soos ʼn toeris gelyk of was ek veronderstel om daar Engels te gebruik?

Ek wil graag my brief afsluit met woorde van dank en waardering. Ek het sulke dierbare mense leer ken, vriendskappe ontwikkel en verdiep. Baie mense was betrokke by die reël van dinge wat ek moes sien en beleef. Mense wat my rondgeneem het, wat my gidse was, wat spesiaal vir my tyd gemaak het, wat my vir etes genooi of aan my ʼn tuiste gegee het. Niks daarvan sal ooit vergeet word nie. Al noem ek hier om redes van privaatheid nie name van mense wat met my op pad was of wat ek privaat ontmoet het nie, wees verseker ek vergeet geeneen van julle nie! As ek aan julle dink, hoor ek nog steeds julle stem! Ek het dit in my hart gebêre! Wanneer julle hierdie lees, weet julle dat hierdie woorde vir julle bedoel is! My familie het nou met ʼn hele paar mense groter geword. Baie, baie dankie aan julle almal! Ek waardeer dit ontsettend baie!

Ek het skaars by die huis aangekom toe begin mense vra wanneer ek weer kom kuier! Dit laat my hart warm klop want ek verlang lankal terug…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

21 Kommentare

Nicolaas ·

Sjoe, indrukwekkend! Jy is nou Afrikaans se ambassadeur in Duitsland en Europa – ons het jou pas aangestel. Jy kwalifiseer loshande! Kom gerus terug en kom kyk na die bosveld en suidkus en nog baie ande rmooi plekke

Alexander Mickel ·

Baie dankie, Nicolaas! Ek beklee graag die waardige pos van ʼn ambassadeur! Dit was nie die laaste besoek aan Suid-Afrika nie!

Linda Blignaut ·

Baie dankie vir hierdie fantastiese brief. Ek was saam met jou op reis na plekke in my eie land wat ek nie van geweet het nie. Baie dankie en kom kuier gerus weer. Suid-Afrikaanse groete.

Alexander Mickel ·

Baie dankie, Nicolaas! Ek beklee graag die waardige pos van ʼn ambassadeur! Dit was nie die laaste besoek aan Suid-Afrika nie!

Alexander Mickel ·

Fantasties, Linda! Ek is bly dat jy my brief so geniet het!

Vintcent ·

Dit is dié tipe media-dekking wat ons soek in Afrikaans. Goedvoel oomblikke, wat mens se dag maak.

Amelia Steenkamp ·

Was dit nou lekker!Ek het jou skrywe so geniet ook omdat dit in Afrikaans was.Eks so bly jyt SA besoek en jou kuier hier geniet,kom gerus weer asb.

Alexander Mickel ·

Ek is bly om te hoor dat jy dit so geniet het! Dankie, Amelia!

Barend ·

Merkwaardig! Wys ‘n mens wat gedoen kan word. Hy is sommer ook die beste ambassadeur wat ons kan hê. Baie dankie aan Alexander en Maroelamedia. Volgende keer kan hy gerus ook in die Noorde ‘n draai kom maak. Groete aan die Duitser.

Alexander Mickel ·

Dis net ʼn groot plesier, Barend! Baie dankie vir jou terugvoer!

Alexander Mickel ·

Baie dankie, Charles! Ek is so bly oor al die mooi terugvoer!

Jeremia ·

Jy het die regte plekke in SA besoek. En jou Afrikaans (en foto’s) is uitstekend. Jou Afrikaans is uitstaande!
Dit is besonders om vir ‘n slag deur iemand anders se oë na ons land te kyk.
Jy het met oorgawe getoer en van die hartlikste (gasvryste) mense in die land ontmoet.
Daar is nóg baie om te besoek. Kom wéér!

Alexander Mickel ·

Baie dankie, Jeremia! Dit beteken baie vir my! Ek sal terugkom!

Maria ·

Sommige van die ouer Namakwalanders is n unieke spesie. Hul nie eintlik die standaard Suid-Afrikaner nie.

Noddy Wissdorf ·

Ek het nou lekker saam met jou gereis, en ja, gesmul aan die kos. Ons Afrikaners sal jou vet voer as jy ons toelaat! Dankie dat jy ons, in ons Moedertaal, weer gewys het hoe uniek ons land, mense en taal is. Dit is vir ons n riem onder die hart en n pluimpie in ons hoed dat iemand uit Duitsland so in ons taal belangstel. Tot weer siens!

Alexander Mickel ·

Baie dankie, Noddy! Dis lekker vir my om te hoor dat die mense saam met my gereis het terwyl hulle my berig gelees het! Baie dankie vir jou mooi woorde!

Uitkyk ·

Alexander, hoe wonderlik dat jy moeite gedoen het om Afrikaans te leer praat, baie dankie. So bly dat jy goed behandel was, dankie aan my Kaapse mense. Sou baie graag met jou korrespondeer, iets wat ek geniet as tiener. So snaaks dat jy nie van die musiek gehou het nie! Duitse musiek is goed op die oor. Groetetjies

Alexander Mickel ·

Dis vir my ʼn groot plesier, Uitkyk! Ek pak dit alles met ʼn groot toewyding aan! Indien jy op Facebook is, gaan soek my gerus daar! Jy kan nie my blad misloop nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.