Is dit tyd om jou ander helfte ’n bietjie te bederf? Of droom jy van ’n onvergeetlike wegbreek in die natuur nie te ver van Johannesburg af nie? LekkeSlaap het dan nét die ding vir jou — prentjiemooi lodges in die Pilanesberg Nasionale Park.
Pilanesberg Nasionale Park
Die skouspelagtige Pilanesberg Nasionale Park skuil tussen die droë Kalahari-woestyn en die tropiese Laeveldstreek in Noordwes. Dis veral uniek omdat dié pragtige reservaat op die oorblyfsels van ’n reuse-oervulkaan geleë is én vanuit die ruimte sigbaar is. Die park is die vierde grootste park in Suid-Afrika en strek oor 55 000 hektaar wat die tuiste van onder meer die Groot Vyf is. Omdat dit heelwat kleiner as die Krugerwildtuin is, is die kans baie groter om skugter wild raak te sien.
Doendinge in Pilanesberg Nasionale Park
Die valleie, berge, watermassas en graslande bied tientalle doendinge en puik foto-geleenthede in die park ─ jy sal nooit verveeld wees in hierdie paradys nie! Die park is lekker groot en die unieke ligging verseker dat jy elke dag van jou wegbreek ’n verskeidenheid wild- en plantspesies op ’n wildrit sal teëkom.
Om jou ervaring in die Pilanesberg Nasionale Park nóg meer spesiaal te maak, stel ons voor dat jy beslis ’n warmlugballonvlug oor die park meemaak! Dié uurlange vlug gee jou die kans om die natuurskoon en wildspesies vanuit die lug te bewonder. Dis ook die ideale geleentheid om die groot vraag te vra — wat is dan nou meer romanties as vonkelwyn in ’n warmlugballon? As jy eerder jou voete veilig op die aarde wil hou, kan jy die park te voet gedurende ’n begeleide voetslaanroete verken. Dié roetes gee jou die geleentheid om oor die omgewing te leer, die fauna en flora van nader te bekyk en dalk, as jy gelukkig is, die perfekte foto van ’n leeu te neem.
Akkommodasie in Pilanesberg Nasionale Park
Lush Private Lodge
Lush Private Lodge in die Black Rhino Wildreservaat is ideaal as jy die spesiale persoon in jou lewe tot in die afgrond wil bederf. Die hooflodge se Italiaanse gasvryheid sal jou sommer vinnig van die res van die wêreld laat vergeet terwyl jy behoorlik in die kroegsitkamer of op die dek ontspan. Die pragtige suites smelt moeiteloos met die omgewing saam sodat jy ’n onvergeetlike wegbreek met die natuur op jou drumpel kan hê.
Slaapplek: 5 eenhede met slaapplek vir 2 gaste
Geriewe: ’n Swembad, kroeg, restaurant, wynkelder en ’n boma met ’n braai
Ideaal vir: Wittebrood
Bespreek nou by Lush Private Lodge
Kwa Maritane
Kwa Maritane is ’n bos-lodge wat die perfekte wegbreek teen die buiterand van die vulkaniese krater in die Afrika-bos bied! Hiér skakel jy behoorlik af en geniet die asemrowende uitsigte en geluide van die natuur wat jou heeltemal omring. Kom smul aan heerlike maaltye by die restaurant op die perseel terwyl jy die natuur van die dek af bewonder.
Slaapplek: Chalets met slaapplek vir 2 of 6 gaste
Geriewe: ’n Swembad, braaiplek, konferensiegeriewe, spa-behandelinge, restaurant en ’n kroeg
Ideaal vir: Safari-wegbreek of wittebrood
Bakubung Bush Lodge
Bakubung Bush Lodge is die ideale wegbreekplek vir ’n opwindende gesinsvakansie met lieflike geriewe en ’n hele rits doendinge vir die jongspan. Wanneer julle nie op ’n wildrit is nie, kan julle lekker by die lodge skoene uitskop, ontspan en die asemrowende natuurtonele geniet.
Slaapplek: Chalets met slaapplek vir 4, 6 of 10 gaste
Geriewe: ’n Swembad, braai-area, rolstoelvriendelike geriewe, konferensiegeriewe, spa, vlugbalbaan, tennisbaan, restaurant en ’n kroeg
Ideaal vir: Gesinswegbreek
Bespreek nou by Bakubung Bush Lodge
Tented Adventures Pilanesberg
Tented Adventures Pilanesberg se luukse safari-tente is in die Manyane Resort in Pilanesberg Nasionale Park geleë. Hiér sal jy beslis ’n unieke wegbreek in die natuur ervaar. Maaltye en twee wildritte per dag word by die tarief ingesluit en as dít nie genoeg is nie, kan jy dalk met ’n besoek van kameelperde by die kamp verras word!
Slaapplek: 8 safari-tente met slaapplek vir 2 gaste
Geriewe: ’n Swembad, spa-behandelinge, kroeg en ’n restaurant
Ideaal vir: Safari-wegbreek
Bespreek nou by Tented Adventures Pilanesberg
Black Rhino Game Lodge
Black Rhino Game Lodge skuil in ’n ou tambotiewoud naby ’n watergat wat gewild is onder die diere, so onthou jou verkyker sodat jy sommer die wild van jou stoep af kan dophou. Ná ’n lang dag van wildkyk saam met die ervare veldwagter is die heerlike maaltye van die wêreldgehalte-sjef nét die ding om daardie hongerpyne te paai!
Slaapplek: 14 suites met slaapplek vir 2 gaste
Geriewe: ’n Swembad, konferensiegeriewe en ’n restaurant
Ideaal vir: Gesinswegbreek
Bespreek nou by Black Rhino Game Lodge
Tshukudu
As jy op soek is na ’n romantiese plekkie om jou wederhelf te bederf, is Tshukudu definitief ’n besoek werd! Dié lodge word omring deur pragtige berge en spog met uitsigte oor die grasveld en ’n watergat. Met ’n versonke bad, kaggel en ’n privaat balkon, is elke chalet só ingerig dat jy dit selde sal wil verlaat.
Slaapplek: Chalets met slaapplek vir 2 of 3 gaste
Geriewe: ’n Swembad, restaurant en spa-behandelinge
Ideaal vir: Romantiese wegbreek
Tambuti Lodge
By Tambuti Lodge in die Black Rhino Reservaat word jy deur die bos en wilde diere omring – ʼn paradys ver weg van die stad se gedruis. Die eenhede tussen die tambotiebome is luuks ingerig en jy kan die wild sommer van jou privaat dek af dophou!
Slaapplek: 5 suites met slaapplek vir 2 gaste
Geriewe: ’n Kroeg, biblioteek, jacuzzi en ’n swembad
Ideaal vir: Romantiese wegbreek
Pilanesberg Private Lodge
Met só ’n ligging aan die voet van die Pilanesberge sal die pragtige uitsigte jou beslis sprakeloos laat. Pilanesberg Private Lodge is só ingerig dat jy vanaf die luukse lodge wild kan kyk terwyl jy lekker met ’n skemerkelkie agteroorsit.
Slaapplek: 5 chalets met slaapplek vir 2 gaste
Geriewe: ’n Kroeg, swembad, boma en ’n restaurant
Ideaal vir: Romantiese wegbreek
Bespreek nou by Pilanesberg Private Lodge
Daar het jy dit nou! Pilanesberg Nasionale Park is definitief ’n besoek werd, hetsy dit vir ’n romantiese wegbreek of ’n gesinsvakansie in die pragtige natuur is. Bespreek vandag nog jou volgende ruskans by een van dié prentjiemooi lodges net ’n klein entjie buite Johannesburg.
Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Daniëlle Terblanche.