Agt romantiese plekke om die liefde te gaan vier!

Foto: Villa Tarentaal (LekkeSlaap)

Voel jy ook die liefde in die lug? Die winkels is propvol bloedrooi rose, teddiebere en sjokolade-hartjies, en dis hoog tyd dat jy en jou liefie ook ’n bietjie ontvlug! Wil jy die liefde in die bos, langs die see, in die woud of in die Karoo gaan vier? LekkeSlaap het agt romantiese plekke uitgesnuffel wat behoorlik aan julle hartsnare sal pluk!

Bona Bona Game Lodge, Noordwes

Dink nou net jy en jou duifie sit op die stoep met ’n skemerkelkie in die hand en kyk hoe die son agter die klipkoppies gaan sak … Of julle word bederf met ’n dekadente piekniek in die hartjie van die bos waar niks en niemand julle kan pla nie. Klink dit soos ’n droom? By Bona Bona Game Reserve is dit presies wat vir julle wag! Daar is selfs ’n spa waar julle met heerlike vollyfmasserings bederf kan word en ’n wynkelder waar julle ’n romantiese aandete kan geniet. Dís mos nou hoe ’n mens die liefdesvuur behoorlik laat brand!

Bederfgeriewe: ’n Spa met skoonheidsbehandelings, restaurant op perseel, kinderoppasser op versoek, ’n privaat wynkelder en bederfbaddens in die eenhede.
Ligging: Tussen Wolmaransstad en Klerksdorp.

Mhondoro Lodge, Limpopo

By Mhondoro Lodge kan jy vir ure in ’n besonderse bederfbad lê en uitkyk oor die Afrika-bos. Dié luukse lodge dra sy gaste behoorlik op die hande, en julle kan met spa-behandelings, smullekker kos en natuurlik wonderlike wildkyksessies getrakteer word. Daar is vyf privaat suites lekker ver van mekaar af, so jy is van privaatheid verseker. Waarvoor wag jy nog? Begin sommer nou ’n verrassingswegbreek vir jou liefie beplan!

Bederfgeriewe: ’n Swembad, sauna, spa, kroeg, restaurant op perseel en ’n reuse-uitkykdek.
Ligging: In die Welgevonden Wildreservaat minder as drie uur se ry vanaf O.R. Tambo Internasionale Lughawe.

Weskus Hokkie, Wes-Kaap se Weskus

By die ongekunstelde Weskus Hokkie is julle werklik ver verwyderd van alles en almal … Dié stukkie kusparadys is perfek vir ’n wittebrood of ’n romantiese naweek en jy kan maar seker wees dat niemand julle hiér sal steur nie! Die see is lekker naby en daar is ’n heerlike borrelbad waarin julle kan ontspan. Klink dít nou nie idillies nie?

Bederfgeriewe: ’n Besonderse borrelbad, buitestort en ’n bobaas-braaiplek.
Ligging: Naby Lambertsbaai op die Steenbokfonteinplaas.

Oceans Wilderness, Wes-Kaap

As jy soos ’n koninklike wil bly, moet jy beslis die presidensiële suite by Oceans Wilderness vir ’n wegbreek bespreek. Jy en jou liefie kan heeldag op die stoep sit en oor die see tuur of in die weelderige sitkamer met sy hipermoderne afwerkings uitspan. Die kamers is keurig ingerig en só uitgelê dat jy sommer met die opstaanslag bederf word met ’n uitsonderlike see-uitsig! Dít klink mos nou na pure plesier!

Bederfgeriewe: ’n Sauna (eksklusief vir gaste in die presidensiële suite), spa, swembad, braaiplek, buffet-ontbyt, privaat aandetes en ’n Nespresso-masjien.
Ligging: Wildernis op die Tuinroete.

Samara Karoo Lodge, Graaff-Reinet

In die mooie Bo-Karoo lê daar ’n kothuis wat dadelik jou hart sal steel! By Samara Karoo Lodge sal die stilte jou en jou geliefde omvou en julle sal lekker bederf word met Karoo-gasvryheid op sy beste. Saans kan julle aan ’n lamstjoppie smul, salig op die stoep ontspan en julle aan die sterreprag verkyk …

Bederfgeriewe: Spa-behandelings in jou eie suite, swembad, kroeg en ’n restaurant op perseel.
Ligging: Samara Privaat Wildreservaat in die Oos-Kaap.

Osfontein Antieke Klip Guesthouses and Treehouse, Carnarvon

Word weggevoer na vervloë dae hier by Osfontein Antieke Klip Guesthouses and Treehouse. Op dié Karoo-plaas is daar drie afgesonderde eenhede perfek vir ’n privaat, romantiese wegbreek. Die Ou Kliphuisie het ou ysterkatels met splinternuwe matrasse en daar is ook ’n lieflike binnekaggel vir koeler aande. Op ’n mooiweersaand kan julle rustig by buitebraai sit en kyk hoe die son agter die Karookoppies sak!

Bederfgeriewe: ’n Swembad, braaiplek, buitestort en ’n kaggel.
Ligging: Carnarvon in die Karoo.

Teniqua Treetops, Knysna

Wou jy jou nog altyd in ’n boomhuis tuismaak? Dan moet jy en jou duifie dalk vir ’n romantiese naweek weg hier by Teniqua Treetops kom nesskop. Daar is houttrappies wat tot by ’n houthuisie in die boomtoppe kronkel en die uitsigte oor die Knysna-woud sal julle sprakeloos laat. Die wittebrood-boomhuise het ook baddens op die voorste dek vir nog ’n bietjie bederf!

Bederfgeriewe: ’n Houtdek met eindelose uitsigte, Jacuzzi, swembad en ’n braaiplek.
Ligging: Tussen Knysna en Sedgefield op die Tuinroete.

Dumbe Cottages, Drakensberge

’n Kliphuisie in die Drakensberge klink miskien soos iets uit jul drome, maar by Dumbe Cottages is ’n romantiese wegbreek beslis vir julle beskore! Sit buite op die stoep na die uitgestrekte vlaktes, bergspitse en blou-blou lug en kyk, of krul knus voor die kaggel op as die windjie dalk ’n bietjie byt. Daar’s geen twyfel dat die romanse hiér hoog loop nie!

Bederfgeriewe: ’n Hout-uitkykdek, braaiplek, kaggel en olielampies vir ’n romantiese atmosfeer.
Ligging: Op die Retiefpas 300 km vanaf Johannesburg.

Is jy ook nou lus om die liefde behoorlik te gaan vier? Van die kus tot die Karoo, LekkeSlaap het ’n liefdesnessie nét vir jou en jou liefie! So, moenie langer op jou louere rus nie — beplan sommer nóú ’n bederfwegbreek saam met jou bokkie.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Daleen Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.