Alles-ingesluit-vakansies is sommer baie maklik

Foto: Club Med La Pointe aux Canonniers

Ek hou daarvan my eie ding te doen wanneer ek met vakansie gaan. Ek hou nie van pakkette nie. “When it is Tuesday, it must be Belgium,” is nie vir my nie.

Onlangs is ek egter genooi om ʼn paar aande by Club Med se nuut opgeknapte La Pointe aux Canonniers-oord in Mauritius, te gaan deurbring… Ek het opnuut besef alles ingesluit-pakkette is glad nie soos bogenoemde aanhaling nie! Hier doen jy net wat jy wil. Ja, dit kan dalk bietjie meer as jou gewone vakansie kos, maar as jy eers besef wat dit alles insluit, is dit moeilik om dit nie te kies nie.

Niemand dwing jou om enigiets te doen nie. Jy hoor die heeltyd die woorde: On the island, everything is easy.

Maklik. Dís wat hierdie tipe vakansies is.

Alles is letterlik máklik. Vir ma, pa, kinders en selfs grootouers. En as jy nie een van hulle wil saambring nie, is dit net so maklik vir paartjies wat net wil kom ontspan.

Hier maak hulle alles vir jou maklik.

Van niks doen tot alles doen.

Dis maklik om jouself êrens op die stand te gaan tuismaak onder ʼn grasdaksambreel met ʼn goeie boek en ʼn mengeldrankie (wat gratis ingesluit is) en heeldag in die warm son te lê en bak. Dis maklik om jouself te gaan afkoel in die koel Indiese oseaan. Dis maklik om net in die pragtig, dog minimalistiese, lugverkoelde kamers ʼn middag- (of oggend-)slapie te geniet net wanneer jy wil. Dis maklik om by die Zen-poel te gaan ontspan waar mense verkies dat jy stilte handhaaf en jou oorgee aan eilandlewe. Die nuwe spa bied vir jou wonderlike behandelinge as jy die ‘niks doen’ ʼn ekstra hupstoot wil gee. (Spa-kostes is egter nie ingesluit nie.)

Foto: Club Med La Pointe aux Canonniers

Aan die anderkant is dit egter net so maklik om “FOMO”, die idee dat jy dalk iets gaan misloop, hier te ervaar. Ek het gekom met die idee in my kop dat ek letterlik niks gaan doen nie (sien bo) totdat ek my voete op die koel teëls van die oord neergesit het. Ons is persoonlik ontvang en ʼn lafenis van vrugtesap en ʼn koue nat lappie, om verligting te bring teen die warm drukkende eilandatmosfeer, is vir ons aangebied.

Alhoewel hulle die baie slim idee van ʼn app vir die geleentheid beskikbaar gestel het en ek wel alles daar kon besigtig wat hulle beskikbaar het, het die FOMO my eers werklik getref toe ek tussen die ander vakansiegangers was. Jy hoor hoe hulle vir die eerste keer goed probeer het. Ewe skielik wil jy dit ook probeer.

Want alles is maklik hier.

Dis maklik om te leer te waterski. Om te SUP (staanroeiplank); om boog te skiet; te seil; te skubaduik; kaart te speel. Alles is net maklik.

Dan is daar natuurlik alledaagse dinge wat jy ook kan doen, want dis ook maklik hier. Joga, Zumba, Pilates, swem, snorkel, tennis. Vertonings en ʼn heerlike naglewe. Eet en drink tot jy nie meer kan nie, want dis ook maklik en ingesluit.

Juis omdat hulle dit so maklik maak vir jou, wil jy alles probeer en niks mis nie.

Selfs om jou kinders saam te bring is maklik. Hier word voorsiening gemaak vir elke ouderdomsgroep van vier maande en ouer. Hulle het hulle eie gebou met selfs ʼn privaat swembad waar hulle onder konstante wakende oë is. Dis maklik, want hulle word besig gehou deur te swem, speel, slaap en skattejag te hou op ʼn werklike eiland. As jy egter sou verkies om jou eie oë op jou kroos te hou, kan julle gaan ontspan by die interaktiewe familie-swembad. Want weereens is dit maklik.

Ten einde het ek glad nie so baie gerus soos ek wou nie… want alles was net te maklik om te doen.

Hier is dit heeltemal te maklik om die hele gesin gelukkig te hou en daarom sal ek nooit weer alleen kom nie. Soms kort ons almal net ʼn bietjie meer “maklik” in ons dikwels moeilike lewens.

*Marianne is deur Club Med genooi om die nuwe La Pointe aux Canonniers te gaan ervaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.