As hy maar net kon sien…

foto-3As hy maar net kon sien, sou hy ʼn pen en ryswater koop en in kalligrafie vir haar skryf: “Ek het jou lief.”As hy maar net kon sien, sou hy die ryswit van haar vel kon beskryf, soos die eerste ryskorrel na die reënseisoen.
As hy maar net kon sien, sou hy haar ronde borsies kon beskryf, so klein soos ʼn dogtertjie s’n. Sag en rond onder sy eelterige werkershande.

As hy maar net kon sien, sou haar sysagte hare die kleur van ʼn raaf se vlerk wees; die ouderdomswaaiers onder haar oë die lande en provinsies waarheen hulle gereis het. Lyne op die wêreldkaart.

Haar quipo’s waarvoor sy so lief is, met kleure van die reënboog. Pienk-pers. Soms so groen soos die ryslande. Ander keer gitswart soos haar hare. Die quipo wat haar lyf boetseer. Kontoere van elke Chinese provinsie.

As hy maar net kon sien, sou hy haar agter die toonbank van die Si Tung Long-rys-emporium kon beskryf. Haar klein handjies wat liefde met elke ryskorrel maak. Haar glimlag. Die son en maan. “Rì yuè tán,” sou hy sê.

foto-7Dit was hulle droom: die rys-emporium in Emeishan. Dit was iewers in die 1940’s. Die mense was honger, die groot vloede en hongersnood van die 40’s.

Yin en Yang was goed. Hulle kon vir die mense rys gee; dit was ʼn geldeenheid. Rys het roem en sukses gekoop.

Hulle was gelukkig, net die twee van hulle en hulle ryspaleis. Toe kom die kinders. Vier van hulle….

Nou is hy al 80 en hy bring die leë ure in die People’s Park deur. Sy kleinseun sê dit is die oudste park in Tsjengdoe.

Hier kan hy hoor en sien. Die park hou die stadsgeluide buite. Soms sit hy by die teehuis, reg langs die grootste mensgemaakte meer. Hy hoor haar lag. Hy sien haar in haar nat somersrokkie toe sy in die water beland.

Soms sal hy ʼn kaartspel saam met sy vriende speel. Hulle is sy oë. Ander keer Mahjong.

In die teehuis drink hy in die herfs groentee. In die winter rooitee.

foto-6Hy wou nooit Tsjengdoe toe gekom het nie. Hy mis die heilige berg. Hy mis die sonsondergang. So oranje-rooi.

Soms sien hy nog die vuur, die vuur wat sy droom vernietig het. Wit ryskorrels wat swart word. Soms hoor hy nog hy nog haar gille. Die vuur altyd die vuur…. Sy oë wat brand. Soos die hel. Haar quipo wat teen in haar vel insmelt.

Sy agterkleinseun, wat so verwesters geraak het in Amerika, neem sy hand. En hulle stap. Terug na die besige straat net buite die park.

Môre sal hy weer kom en hy sal weer wag … soos wat hy al die afgelope 20 jaar vir haar wag.

Meer oor die skrywer: Yolanda Barnard

Yolanda Barnard woon en werk in Tsjengdoe, China, en skryf weekliks vir Maroela Media oor haar wedervaringe in dié land.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.