Au pair stories: Antwerpen en Afrikaans

antwerpen-08

Die Museum aan de Stroom se boonste verdieping het glasvensters waardeur mens die hele stad kan sien. (Foto: Evelien)

Net voordat ek België toe gegaan het om as au pair te werk, vertel een van my vriende dat hy ʼn vriendin in België het wat Afrikaans kan praat. Toevallig kuier sy in Suid-Afrika ʼn maand voordat ek vertrek en ons ontmoet oor ʼn melkskommel by Colbyn Golf Park in Pretoria. Die eerste keer wat Evelien in Suid-Afrika was vir ʼn uitruilprogram, wou sy niks van Afrikaans weet nie. Nou praat sy dit vlot (en sonder vreemde aksent). Sy nooi my om by haar gesin in België te kuier sodra ek by my voete gevind het by my au pair-huis.

Twee maande later klim ek af by die stasie in Heide, waar Evelien woon. Die dorpie se naam is Heide omdat ʼn groot woud deel van dié dorp is. Sy het vir my ʼn WhatsApp-boodskap (in Afrikaans!) gestuur toe ek nog by die huis was en belowe dat ons op ʼn regte, egte gevriesde meer in die woud gaan skaats. Ek wou nie vir haar sê dat ek nie eens op nagemaakte ys kan skaats nie – newwermaaind regte ys. Maar sy kom dit agter toe ek die ysskaatse een bekommerde kyk gee… en ek besluit dat ek maar eerder met my gemaak-in-Suid-Afrika-stewels die ys gaan aanpak.

Ek stap soos ʼn pikkewyn oor die ys en kyk na al die skaatsers. Dit lyk nogal soos Kolonnade se skaatsbaan in my laerskoolvakansies gelyk het: die hele dorp is daar. Ek loer na my voete en is onmiddellik spyt, want deur die laag ys kan ek sien hoe die water, met stokke en gras, onder my voete verbybeweeg. Ek weet nie of ek net moet stilstaan en huil, of dalk eerder moet terughardloop na die kant nie. (Ja, ek is soms ook maar ʼn bangbroek)

Dié aand sien ek vir die eerste keer in my lewe hoe dit sneeu. Ek kan nie ophou kyk na die sagte wit vlokkies wat stadig die hele dorp optooi nie. Ons gaan saam met ʼn paar van Evelien se vriendinne na ʼn gesellige kafee op die dorp en ek drink my eerste Belgiese bier. Buite kleef die sneeu aan die vensterrame – kompleet soos in ʼn Hollywood-Kersfeesfliek.

Laatnag (want in Europa begin die kuiers eers ná 21:00) gaan loop ons weer deur die woud. Vier meisies alleen. Evelien se pa is ʼn brandweerman en sy vertel dat hy soms in die middel van die nag verdwaalde siele uit die woud moet gaan red. Maar dit lyk vir my asof die meisies elke hoek en draai en boom van die bos ken. Terwyl ons wandel, leer hulle vir my Vlaamse woorde soos ale, amai en goesting.[1] My gunsteling Vlaamse woord is bankske (rusbankie.)

Al wat ek voel in die oomblik is die sneeu wat knars-knars onder my skoene; en die sprokiesagtigheid van ʼn spierwit sneeuwoud, elfuur in die aand. Dit is vrek koud, maar die gasvryheid van wildvreemde mense maak my hart warm. Ek weet dat ek hierdie oomblik in die woud vir altyd gaan onthou.

Die stad Antwerpen is die naaste groot stad aan Heide. Die oggend nadat ek saam met Evelien se gesin ontbyt geëet het, pak ek weer my rugsak. Evelien is my toergids vir die dag. Nog voordat ek Antwerpen gesien het, vertel my Nederlandse vriende watter lelike plek dit is. En hulle is reg. As mens met die trein by Antwerpen inkom, is die eerste ding wat jy sien, die een graffiti-besmeerde muur na die ander – en dan die stoflaag oor die stad. Toeriste sal Antwerpen waarskynlik oorslaan. En ek sou ook – as dit nie vir Evelien was nie. En aan die einde van dié dag besef ek: dit is die geskiedenis wat Antwerpen mooi maak.

Elke ding in hierdie stad vertel ʼn storie…. Evelien gaan wys my die beroemde voetgangerstonnel in die stad.

ʼn Gewone geroeste hek is iets wat jy maklik sal verbyloop, maar as jy hoor dat hierdie hek in die oorlog gebou is om die Duitsers van die voetgangerstonnel weg te hou, kyk jy twee keer daarna.

Die roltrappe wat lei na die tonnel is net gewone roltrappe – totdat ek hoor dat dit die oudste roltrappe in België is.

Die tonnel wat sy vir my wys, is net ʼn tonnel – voordat sy vertel dat dit nog vóór die oorlog gebou is. Dit is 500 m lank – en dit loop onderdeur ʼn rivier! Elke ding wat ek sien in Antwerpen is vir my interessant.

Die hoogtepunt van die dag in Antwerpen (letterlik) is die Museum aan de Stroom. Dit is ʼn museum met tien verdiepings. Ons gaan direk op met die roltrappe tot waar mens vanaf die boonste verdieping oor die hele stad kan kyk. Daardie oggend is die uitsig ekstra spesiaal: wit sneeu lê orals langs  en tussen die bote by die hawe van die Scheldt-rivier.

Ek en Evelien ry met die trem onderdeur die stad tot by die stasie. Ek weet dat die hele Europa laag op  laag gebou is, maar in Antwerpen voel dit vir my “ek moet saggies trap, want netnou tuimel die grond inmekaar.” Orals waar jy loop, kan jy maar weet dat daar onder jou voete nóg lewe is.

Die stasie in Antwerpen is die mooiste wat ek nog gesien het (moet net nie ʼn video neem van die soldate wat waghou teen terroriste nie – ek is een keer amper in hegtenis geneem! Ek het net lief geglimlag en in my allerslegste Nederlands vertel dat ek eintlik net ʼn mooi prentjie vir Instagram soek).

Ek groet Evelien by die volgende stasie – en toe sy uit die trein klim, tik iemand my aan die skouer. “Hi, ek hoor jy’s Afrikaans!”

Nét daar in die trein ontmoet ek ʼn Suid-Afrikaner wat al 13 jaar in België woon. My hart is gelukkig toe ek die middag terugstap na my au pair-huis in Oosterzele.

Voetnota:

[1] ale: Dit is amper iets soos ‘Ag nee…’
amai: Uitroep van verbasing
goesting: Wanneer jy met entoesiasme na iets uitsien

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Liza M Roux ·

Sjoe. Dit was ‘n lekker lees. Ek ‘goesting’ na jou volgende storie.

Tammer Los ·

Dit is een leuk verhaal! Nu in Vlaanderen moet zij luisteren naar Ronnie Flex, Boef en Lil Kleine. Dit is niet zo makkelijk te verstaan als Snotkop of Karen Zoid.

Joost Tryhou ·

Joost

As Vlaming in Suid-Afrika is ek bly dat Dalene haar “au pair” tyd in Vlaanderen geniet het en tuis gevoel het. Evelien (haar vriendin-vir die geleentheid haar toergids) het wel baie van die mooi stad Antwepen vergeet om te wys….: o.a. die Grote Markt met sy unieke gewels , die Stadhuis, die Rubenshuis ,die Plantin-Moretus Museum , die O.-L.-Vrouwkathedraal en die rococo Carolus Boromeus kerk, en nog baie meer. Suggestie : die besoek weer oordoen. Afrikaanssprekende besoekers sal seker lekker voel in Antwerpen waar mense hulle verstaan en hulle heerlik kan saampraat.

Oudste ·

Aan Joost:
Geagte vriend Joost, ek, (ons!), is reeds lank in die tand, of is dit dalk “min” in die tand? :-))
Uw kennis en ervaring van Vlaanderen grijp aan de hart! Wij sullen heel graag nog wat horen! Kunne wij direct prate?

Stephan de S ·

Dit is nou n lekkerlees artikel in mooi ingekleurde waarneming. Het die kommentare vd Vlaamse deelnemers net so baie geniet…dankie dat ons n familie word op hd manier. As n mens net n basiese begrip het v Nederlands kan jy jouself baie maklik help in Vlaandere en Nederland. n Kosbare Vlaamse vriend het my n bietjie bekend gestel aan Vlaamse musiek…wat n wonderlike toevoeging tot ons gesamentlike kultuur

Annemie Coetzee ·

My seun was 2018 in Leuven. Hy het ook die mooiste fotos gestuur en die interessantste stories vertel.
Hy was deel van ‘n uitruil program met Stellenbosch Rugby Akademie. Hy het gaan rugby speel vir ‘n klub in Leuven en ook hulle vroue rugby span gaan afrig.
Hy het ook vertel hoe gasvry die mense is, maar hulle kon nie verstaan as hy Afrikaans praat nie, Afrikaans is blykbaar te plat vir die Belge, hy het darem verstaan as hulle gepraat het.

Joost Tryhou ·

In Vlaanderen word daar baie dialekte gepraat en die is nogal verskillend van mekaar. Nederlands is die offisiele taal van onderwijs, administrasie, howe, ens.
Afrikaans is redelik maklik om te verstaan deur Vlaminge , maar dit kan wel afhang van die streekstaal bv. in West-Vlaanderen praat die mense van “seuns” en nie van”zonen” (zonen is die meervoud van zoon in Nederlands en ook in gebruik in bepaalde Vlaamse dialekte).
Belge praat nie ‘n Belgiese taal nie want die bestaan nie ; daar is Vlaminge van wie die taal Nederlands is , Walen waarvan die taal Frans is en ‘n klein Duitstalige Gemeenskap.
Omgekeerd kan ‘n Afrikaanssprekende in die begin verplig wees om goed te luister want in Vlaanderen/Nederland praat die mense van : ik loop, ik liep, ik heb gelopen —-ik lieg, ik loog ik heb gelogen —- ik doe, ik deed, ik heb gedaan.
Aan die Universiteit van Gent word Afrikaans as ‘n vak gedoseer. Ons kan nog baie skryf en verduidelik.

Jerry ·

Dit is sulke mooi stories soos hierdie storie van Dalene oor Afrikaans, wat my trots maak en my hart sommer lekker warm laat klop!

Amelia ·

Dit lyk so skoon en volede daar. As ek jy is bly ek sommer vir altyd daar.

MTSteyn ·

Ek het self lank in Leuven gewoon en studeer, en as ek reg onthou word die Franse leenwoord as volg gespel: “Allez”. Dit beteken in Vlaams ook maar “Komaan”, of “Vooruit”, soos in “Allez, toe nou, jongen!

Theo ·

Hoe ironies aan die Universiteit van Gent word Afrikaans gedoseer en hier weg ons vir die behoud van ons moedertaal.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.