Au pair stories: Brugge, brandalarms en winterkoue

Die hostel waar ek geslaap het (Foto: Dalene de Vente)

Die derde naweek wat ek in België is, besluit die gesin waar ek au pair, dat hulle vir die naweek in Frankryk gaan ski. Die kinders word by hul oupa en ouma afgelaai en ek… Ek bly alleen by die huis. ʼn Vierverdiepinghuis op die platteland, wat beteken die naaste bure is omtrent 200 m ver.

Die huis kraak en kreun die hele nag deur met onbekende geluide en my dakkamer se deur het nie eens ʼn sleutel nie. Die hele huis is vol sekuriteitskameras, maar kameras gaan nie die diewe uithou nie. (Suid-Afrika bly maar in jou bloed.)

Ek sit die houtstoeltjie in my kamer voor die deur in ʼn poging om myself veilig te laat voel, maar daardie nag maak ek nie ʼn oog toe nie. Die volgende oggend besluit ek: aikona, in hierdie huis slaap ek nie alleen vir nog één nag nie.

Ek pak my betroubare 2 ℓ K-Way-rugsak met net die nodigste: ʼn pak gerasperde kaas en ʼn paar snye brood, my selfoon en oorfone. Ek klim op die trein deur die mistige België sonder enige plan. Die belangrikste is dat ek vannag slaapplek het in die hartjie van Brugge se middestad. My geld is min; ek vertrou Google Maps met my bestemming en met net droë brood in my rugsak is my hart vol afwagting.

Die een oomblik is ek nog by die besige stasie, maar toe die trein in Brugge stop, dink ek: is dit nou dit? Die stasie is nie eintlik iets vir die oog nie en boonop vat dit my ʼn halfuur om die pad te vind wat my digitale kaart vir my aanwys, voordat ek besef dat die stasie twee uitgange het.

Soos ek verder die stad instap, verander die omgewing totdat dit vir my voel asof ek êrens na die Middeleeue teruggestap het. Die paaie is van ronde leiklip gemaak en perdekarre neem toeriste deur die stad. Ek staan vir ʼn oomblik net halfoopmond in die middel van die straat terwyl die wêreld by my verbygaan: die prentjie van die katedraal se toring, die rye en rye fietse en interessante argitektuur laat my verstom. Die soet geur van wafels en sjokolade hang letterlik in die lug – die hele stad vol. Skoolkinders neem deel aan ʼn skattejag in die stad en vra of ek ʼn foto van hulle wil neem; ʼn vrou bedel met haar knieë op die yskoue stene voor ʼn H&M-winkel. Oral in die restaurantvensters is kaggelvure te sien.

Daar is, soos in elke tipiese stad in Europa, ʼn mooi katedraal om te besoek. Kyk net mooi op die borde voordat jy instap. Ek wou ʼn video neem van die pragtige orrelmusiek, min wetende dat ek myself midde-in ʼn begrafnisseremonie bevind. Toe die swerwersiel in my wou rusvind in die katedraal en ek op die trappe gaan sit, word ek summier uitgejaag.

Die huise en ondernemings is so dig langs mekaar dat ek drie keer deur die straat moet loop voordat ek my hostel se naam raaksien, “Hostel 28.” Eers as jy in ʼn eksotiese stad voor ʼn hostel staan, is dit asof die wete insink: Ek is ʼn reisiger.

Nie net was dit die koudste nag van die winter wat vir my voorgelê het nie, maar (heel waarskynlik) het ek ook in die koudste hostel in Europa geslaap. Waar ander toeriste laatmiddag begin soek het vir plekke om bier te drink, het ek soos ʼn afkophoender van winkel na winkel gedrafstap op soek na ʼn ekstra kombers. Ek het my hostelkamer een kyk gegee en geweet: hier ek gaan vannag vasvries as ek nie ʼn plan maak nie. Die kombers is dun, die kamervenster is stukkend en die hostel het geen verwarmingstelsel nie. ʼn Minuut voor toemaaktyd vind ek ʼn kombers en ʼn warmwatersak in die Kruidvat (ʼn winkel soortgelyk aan Suid-Afrika se Crazy Store.)

Aandete is die goedkoopste slaai by ʼn plek met die naam Potato Bar, voordat ek terugstap na my hostel. Teen halftien die aand is dit te koud vir enige lewende wese om buite te wees.

Meteens en uit die bloute loei daar  ʼn alarm. Ek loer by my kamerdeur uit. Alles lyk rustig. En al die reisigers bly gesellig in hul kamers (asof hulle iets weet wat ek nie weet nie). My een buurvrou maak haar hare droog. Die Rasta-man wat my vroeër die middag ingeboek het, is nêrens te sien nie. Maar ek wil nie kanse vat nie. Ek onthou dat ek eenkeer ʼn storie oor die World Trade Centre gekyk het van ʼn vrou wat ook nie kon besluit of sy soos haar kollegas op die trap moet bly sit nie, en of sy buitentoe moet gaan nie. Vir al wat ek weet, stort die gebou die volgende sekonde inmekaar. Dus gryp ek my rugsak en gaan loop maar weer buite rond. Ná 10 minute waag ek dit terug (dis regtig koud buite!)

“Ja, kamer 37 se haardroër het die brandalarm laat afgaan,” verduidelik die opsigter toe ek uitvra.

Die hostel vra 50 euro sent vir 250 mℓ kookwater – te duur vir dié arm au pair. Maar ʼn boer maak altyd ʼn plan. Ek stap skaamteloos na die restaurant langsaan die hostel en vra of hulle my warmwatersak wil volmaak – tot groot vermaak van al die kelners. Ek is seker die vrou agter die toonbank het nog nooit in haar lewe ʼn warmwatersak gesien nie, want sy maak dit so vol dat dit skoon bol staan.

Alle probleme is opsy toe ek tienuur in die bed klim: so dik aangetrek soos ʼn Eskimo. Ek lê en glimlag gelukkig terwyl ek die geselligheid van die ander gaste rondom my hoor. Ek wil die avonture van hierdie dag vir niks verruil nie… My selfoon wys dis -10 °C. Daar is die hele nag deur ʼn spookagtige gedreun van wind wat deur my stukkende kamervenster waai, maar ek weet dat die 200 m radius rondom my vol mense is – en my kamerdeur het ʼn slot!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Liza M Roux ·

Jy gee my reislus. Jou storie is mooi en jou foto’s is ook stunning.

Iemand ·

Ekt ook aupair, maar in die VSA in Washington dc, sal my tyd daar vir niks verruil nie. Ook so een naweek alleen in die huis gebly, darm die bure geken en my vriende het almal naby gebly. Een dag besluit ek om die kar te vat en af te ry Annapolis toe vir ‘n comic boek winkel wat ek van gehoor het. Dis salig om so op jou eie te reis. Snaaks genoeg het ek altyd veilig gevoel in die VSA, maar tog het ek die kar se vensters toe gehou as ek ry, seker gemaak die alarm is aan en deure gesluit, ekt ook altyd seker gemaak ek gaan kyk as ek ‘n snaakse geluid gehoor het. Hoop om weer volgende jaar terug te gaan. (Europa gerys saam my ma, en sal dit altyd onthou, dis so mooi)

Annie ·

Ek sien die prentjie voor my soos ‘n fliek afspeel! Lekker leesstof, Dalenetjie! ????????????

AmY ·

Hoe lekker het ek nou gelees..
Baie dankie vir die deel van jou avontuur, Dalene.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.