Bagasie word binnekort elektronies ingeboek

Rimowa_LH

Rimowa elektroniese bagasie-etiket

Hier is ʼn brokkie goeie nuus vir reisigers wat die lang rye by lughawens se inboektoonbanke wil vermy.

Tydens die lugrederybedryf se “FTE – Future Travel Experience”-konferensie wat onlangs in Las Vegas plaasgevind het, het Lufthansa en Rimowa (ʼn Duitse bagasievervaardiger) verlede week gesamentlik die prys vir “Beste Bagasie Inisiatief” ontvang vir die nuwe Rimowa elektroniese bagasie-etiket.

Die jaarlikse toekenningsgeleentheid is bekend daarvoor om maatskappye te vereer vir hulle innoverende idees en inisiatiewe wat oplossings bied vir ‘n meer gemaklike reis-ervaring vir passasiers. Die mees innoverende, ambisieuse en suksesvolle inisiatiewe en organisasies word beoordeel deur ʼn paneel kundiges in die bedryf.

Rimowa se elektroniese bagasie-etiket is die eerste digitale en ten volle geïntegreerde mobiele oplossing om bagasie in te boek. Dit vergemaklik die vliegervaring met bagasie, en maak dit vinniger en veiliger. Terwyl dit vandag nog steeds standaard praktyk in die lugrederybedryf is om ‘n papier bagasie-etiket aan tasse met die hand vas te maak, sal Lufthansa-passasiers binnekort in staat wees om hulle bagasie reeds vanaf die huis in te boek, met behulp van die Lufthansa app deur van die elektroniese bagasie-etiket gebruik te maak.

Die bagasiedata op die elektroniesedata-module is dieselfde grootte en vorm as vandag se papieretikette. Wat die etiket egter soveel beter maak as die huidige papieretikette, is dat die belangrike inligting nou beskerm word teen humiditeit, hitte, en lae temperature en dit kan nie afgeruk of beskadig word nie.

Met een kliek sal passasiers in staat wees om die oordrag van data vanaf hulle elektroniese instapkaartjie op hulle slimfone deur middel van Bluetooth oor te dra op hulle bagasiesak, wat toegerus is met die elektroniese bagasie-etiket. Die bagasiedata sal onmiddellik op die datamodule, wat in die tas geïntegreer word, vertoon. ‘n Tas, wat op dié manier ingeboek is, moet bloot op die band by die Lufthansa inboektoonbank by die lughawe geplaas word.

Lufthansa sal die eerste lugredery wees om hierdie diens aan sy passasiers te bied.

Die produkbekendstelling van die Rimowa elektroniese bagasie-etiket sal heel moontlik vroeg volgende jaar beskikbaar wees, na die voltooiing en evaluering van die onlangse toetsfase.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.