Bejaarde mense en ou goed in Engeland

Argieffoto (Foto: TimHill, Pixabay)

As ʼn mens ʼn slag vir ʼn heen-en-weertjie Engeland toe gaan, wonder jy wat jy hierdie keer in jou herinneringe huis toe gaan neem. Gaan dit maar weer die gewone wees of wag daar iets besonders. In bietjie meer as ʼn week was daar hierdie keer vir my baie besonderse ervarings – miskien omdat ek oukant toe staan en al meer waardering het vir ou goed en ou mense.

Van ou goed gepraat: Deur bosse en woude, oor rante en deur dale en oor vlaktes strek derduisende myle se klipmure. Eeue gelede was daar nie doringdraad wat, waar ook al, gespan kon word nie en toe is klipmure gepak. Die dikte het gewissel van minder as 300 mm tot sowat ʼn meter en die hoogte van een tot etlike meter. Die hoë mure is hoofsaaklik gepak waar paaie deur steiltes heen gebou is en die kronkelende paadjies kan ook prentjiemooi wees. Stede, dorpe, plase en kampe is ommuur. Terloops, die heel eerste klipmuur wat gebou is, was Hadrian se muur wat in 122 n.C. tydens die Romeinse Ryktydperk dwarsoor Engeland van die Noordsee af tot by die Ierse see gebou is.

Van die hoogtes af lê die vaalgrys klipmure, so ver as die oog kan sien, in skrille kontras met die immergroen weivelde of skitterwit sneeu in die winter. As die koue reënwinde waai en die ysige sneeuwinde deur murg en been sny, bied hierdie mure die enigste skuiling. Miljoene skape en beeste lê knus teen wind en weer beskerm. Dis nie net funksioneel nie, maar ook die nalatenskap van muurbouers wat kunstig, klip vir klip, met vereelte hande en onvermoeide ywer, gebou het. Mense wat hamer- en beitelwerk tot ʼn fyn kuns ontwikkel het! En dit het nog nie opgehou nie want die staat bewillig fondse sodat hedendaagse klipmuurpakkers nuwe mure kan pak en eeue-oues in stand kan hou – dat die erwe van die vaders, vir die kinders erwe bly.

Heage-windmeul (Foto: Heage Windmill)

Van die ongelooflikste ingenieursvernuf, is te sien in twee ou graanmeulens wat uit die Victoriaanse tydperk dateer. Die een is die enigste werkende windmeul, Heage, naby Belper en die ander een die enigste werkende watermeul, Caudwell, in Rowsley in die Engelse middellande. Binne in die meulens heers daar ʼn soort gewyde stilte. Al wat hoorbaar is, is die gekirrrr van honderde ratte en die sagte geknars van reuse maalstene. Vir my is hedendaagse tegnologie deur eeueoue ingenieursvernuf verdwerg want daar was nie rekenaars en moderne gereedskap nie. Die verskil is soos die verskil tussen vars en kunsblomme.

“Ek wil vir jou iets gaan wys,” het my swaer vir my gesê. “Jy hou mos van ou goed.” ʼn Rukkie later het ek ʼn ou kerk voor my gesien. Ek het geskat hy staan al so ʼn stuk of sewe honderd jaar of ouer. “Kyk links,” het ek gehoor, en toe sien ek hom: die dikste boom wat ek nog ooit gesien het! Op ʼn bordjie het ek gelees dat die reuse Yewboom, na beraming sowat 2 000 jaar oud was. In stomme verbasing het ek woordeloos na die meer as drie meter dikke stam staan en kyk. My gedagtes het gedwaal na Getsemane buite Jerusalem waar ek tussen 2 000 jaar oue olyfbome rondgestap het. Uit die oeroue Yewstam het ʼn loot gegroei … Mag ek vergewe word, maar met so ʼn bietjie moeite het die loot netjies van die stam af losgebreek. Ek weet ek moes nie, maar ek het nou eenmaal ʼn swakte om te swig as die versoeking te groot raak. As ek nou klaar is met hom, sal dit een van my kosbaarste kieries wees. Die naaste wat ʼn Engelse kierie aan ʼn olienhoutkierie kan kom!

Ek dra soms ʼn pet met die woorde “BOER in murg en bloed”, iets wat al tot baie interessante gesprekke gelei het. By ʼn voetgangersoorgang het ek ʼn bejaarde Engelse dame gegroet. Spierwitgrys en kromgetrek, het sy op haar kierie geleun en toe sy opkyk, was haar woorde: “You wear an interesting cap. What does it say? “It says, I’m a thoroughbred BOER”. “Then you should know about the Boor War!”, het sy onverwags gesê. “You refer to the Anglo-Boer War”, het ek haar reggehelp. Vir ʼn oomblik het sy my stip aangekyk. “Yes of course,” het sy half opgewonde gesê en toe kom dit: “As a young lad, my father fought in that war and he was fortunate to return home. He admired the Boor brave and able soldiers.” Ek moes haar vriendelik reghelp: “They were not soldiers. They were mostly ordinary farmers who fought for the country they believed was theirs. For them it was the Freedom War.” Vir ʼn paar oomblikke het ons mekaar stip aangekyk. Sy het haar hand uitgesteek. “I would like to shake hands with a BOOR”, het sy sag gesê. Ek het haar klein Engelse handjie in my groot Boerehand geneem en geweet dis die eerste en laaste handdruk. Ek sou so graag nog vir haar wou vertel wat sy nie weet nie maar die handdruk was genoeg.

Argieffoto (Foto: diego_torres, Pixabay)

In die prentjiemooi dorp Bakewell het ek by ʼn meshandelaar ingestap en daar het ons aan die praat geraak oor knipmesse. Ek het hom vertel van my bewondering en liefde vir Joseph Rodgersmesse. Hy het my toe meegedeel dat die befaamde mesmakers hulle besigheid in 1986, na byna 250 verkoop het, maar dat die enigste oorlewende van die Rodgers-broers, die 98-jarige Andrew, hom in Bakewell kom vestig het en dat sy 88-jarige vrou steeds ʼn lewendige internetbesigheid bedryf en dat hy van haar kombuisgoed in sy winkel aanbied.

Ek het die Rodgerse se telefoonnommer gekry met die oog op ʼn moontlike ontmoeting. Mevrou Rodgers het geantwoord en haar stem het, sal ek maar sê, adellik geklink. Soos ʼn ware Lady. Ek het haar gepols oor ʼn moontlike ontmoeting met haar man. Ek wou graag vir hom vertel van my oupa en pa wat geglo het dat ʼn Joseph Rodgers knipmes geen gelyke had nie en dat ek met die messe grootgeword het. “How sweet of you to call!” soos net ʼn ware Lady dit kon sê. Ons het soos ou vrinne gesels en sy het onderneem om ʼn moontlike ontmoeting te reël. Tevergeefs. Die volgende dag het sy my gebel en verduidelik dat haar man op sy hoë ouderdom nie kans sien vir ʼn ontmoeting nie, omdat die verbreking van bande met die eeueoue mesbedryf vir hom ʼn baie emosionele ervaring was.

So is dit: aan alles op aarde kom daar ʼn einde. En as jy self oukant toe staan, is dit asof jy wil teruggryp, terugdink en amper terugdroom oor die groot geeste en goed wat jou deur die lewe aan die hart gegryp het. En ek wonder of my generasie nie dalk die laaste een is wat die goue herinneringsdraadjie stukkie vir stukkie sal oprol nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Ella ·

Ek.het trane in.my oe. Ek was bevoorreg om 31 Desember 1999 op Waterloo Bridge te wees saam met my seun en sy meisie. Ek het drie keer teruggegaan en gereis en gekuier tot 2004. Engeland en Skotland is pragtig en ek verlang baie terug na die pragtige landskappe en mense wat ek omtmoet het.

Penellope Jones ·

My hart trek met ‘n punt terug na Engeland toe – het wonderlike vakansies daar gehad, iets wat ek nooit, nooit sal vergeet nie.
Dis ‘n land ryk aan kultuur, argitektuur, diepgewortelde tradisies, en wonderlike natuurskoon, ou, ou dorpies, ek kan net aangaan en aangaan.
Ek verlang om terug te gaan en hoop om dit weer te kan doen.

Peet Schabort ·

Dankie Johan vir ‘n kosbare skrywe van jou wedervaringe. Maar ons hier ter plaatse, wat doen ons vir die behoud van ons verlede? Ekself sit met kosbaarhede maar vind nie ‘n bevredigende heenkome daarvoor waar dit bewaar kan word uit die hande van individue of waar die staat ‘n ‘hand in die paai’ het. Iewers behoort daar tog ‘n museum tot stand te kom waar sulke goed uitgestal kan word vir almal om te besigtig?

Johan Oosthuizen ·

Peet, bitter baie mense sit met kosbare kultuurgoedere en hulle huil oor wat daarvan gaan word. Bewaarders uit die ou bedeling moes plekmaak vir instansies wat nie ‘n flenter omgee nie. Ek hoop ek is verkeerd. Verder is daar ‘n nuwe generasie wat jammerlik ook nie veel omgee nie. My vraag is: Brand ons wat regtig saakmaak in ons kinders se harte in? My hart bons oor die Voortrekkers op Riversdal wat die erfenisvlam hoog laat brand. Laat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly!

Basson ·

Net jammer dat baie van ons waardevolle erfenis eers NA 1902 dateer agv die vernietiging daarvan gedurende die Anglo-Boere (Boere Vryheids-) oorlog . (Verskroeide grond beleid soos gevolg deur die engelse.)

Elmer Swanepoel ·

Ek het my oupa (Boere oorlog veteraan) se Joseph Rodgers ge-erf. Hy het ooglopend hard gewerk. Dan het ek ook ‘n skaarser dubbellem JR wat nog nooit gewerk het nie. (Ek is een van die dae 81, DV).

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.