Beleef Suid-Afrika se Camino in die Oos-Vrystaat

paul-roux-sungazer-04

“Daar word gesê geluk is nie ’n stilhouplek langs nie pad nie – dis ’n reis. In ons geval – van 9-12 April 2017 – was die Sungazer Pilgrimage in die distrik Paul Roux ’n reis, ʼn onvergeetlike ervaring. Die opregte naasteliefde wat ons teëgekom het, was die brandstof wat ons vir hierdie reis nodig gehad het.” Foto: Verskaf.

Deur Susan Maré

Spanje het sy Camino de Santiago-pelgrimsroete – ’n eeue oue tog. Islam het sy hadj – die jaarlikse Islamitiese pelgrimstog of bedevaart na Mekka. Wêreldwyd vele ánder pelgrimsroetes wat mense lok.

Dan is daar Paul Roux se Sungazer Pilgrimage in die ooste van die Vrystaat – Suid-Afrika se eie Camino in die kleine. Nou nie dat die sirkelroete van 230 km wat in Paul Roux begin en eindig, danig “ in die kleine” is nie.

Dis ’n bedevaart in eie reg en dalk die ideale oefenloop vir sy groter ouboet in Spanje.

Die Sungazer-roete strek oor wyd uitgestrekte vlaktes wat eens dinosourusse se speelvelde was waar hulle vlerke geklap en rondgehardloop het. Hulle het selfs van hul spore op dié roete nagelaat sodat mense miljoene jare later kan sien hul bestaan was nie net maar ’n sprokie nie.

Die pelgrimstog is bekend as die Sungazer omdat dit veral die wêreld van die bedreigde ouvolkspesie huisves wat in die volksmond ook as skurwejantjies of sonkykers bekend is. Oop landerye, gereed om geoes te word, langs klipperige plaaspaaie wat ver vorentoe stofstreep, soms deur lanings bome. Bulte op, bulte af, verby plaashekke, damme en interessante graskultivars wat golwings maak in die bries. Die reuk van grond, veld en kakiebos en die ruik van reën. Vroue met hout op die kop en marog in die heupsak. Majestueuse berge in die verte en sagte heuwels wat in enige van die vier seisoene inspireer. Ewig veranderende landskappe onder spierwit stapelwolke – ons Skepper-God se natuurtonele onbeperk en vol verrassings van eeue en eeue gelede, tot nou.

Om met die seisoene saam te speel, is die Sungazer soms pure somer, soms herfs of winter met kaalgestroopte bome afgeëts teen die blouste blou lug. Ongelooflike sonsondergange met kleurespel op die koppe van growwe sandsteenklip. En soms steek donderweer skielik op, wat in woede uitblits en vonkslaan deur die lug.

Die Here God se palet in die distrik Paul Roux was vrygewig. Oordadige of subtiele kleure van geel, okerrooi, groen, blink spieëlings in die water, bruin klippers en blare. Soms die sprankelgroen van wilgerbome om lente en somer te vier.

Dit is wat pelgrims ervaar sedert dié roete met toewyding en passie ontwikkel is onder leiding van Renée Wolfaardt van die Paul Roux-Bewarea en die lint in Januarie 2017 geknip is.

Pelgrims van heinde en ver het al vertel hoe hierdie roete hul uitgedaag het. Die spirituele groei en vrede wat hulle ervaar het, bly hulle steeds by.

’n Pelgrim vertel: “Die roete was vir my ’n geestelike sowel as fisieke ervaring. Dit was wonderlik om elke dag die Here se grootsheid te sien en te waardeer. Vir my was dit persoonlike groei en ook in ons vriendskappe as ’n stapgroep. Die liggaamlike uitputting was niks in vergelyking met die geestelike inspirasie nie.”

Nog ’n pelgrim vertel sy kon haar verluister aan die stiltes, afgewissel met geluide uit die natuur. Die geroep van hadidas of die gesing van voëltjies langs die pad. Soms net die geknars van stewels op klipperige paaie of die diep dreuning van plaaswerktuie in die lande: “Om die Oos-Vrystaat so naby aan jou te kon beleef, was onvergeetlik vir elkeen van ons stappers. Dit was ’n sintuiglike ervaring. Daarby was die Sungazer se mense en Paul Rouxers gasvry en ondersteunend.”

Die pelgrimsroete na Santiago in die noordweste van Spanje lok jaarliks baie Suid-Afrikaners. Die Sungazer as ideale voorbereiding vir dié tog, moenie onderskat word nie.

Paul Roux, beskeie kleindorp langs die N5 wat die pelgrimstog huisves, bied sy eie verrassings aan toeriste. Stappers gaan ook Uniondale, Holhoek (waar vroue gedurende die Anglo-Boereoorlog geskuil het), Slabberts, Willowdene, Uitzicht, Emden, Malutizicht, Earthrise, Langkloof en Rosendal ontdek.

Camino-toere beteken natuurlik nie altyd net stowwerige paaie in die Oos-Vrystaat, of ʼn vermoeiende belewing in Spanje nie. In elke mens se hart is ’n camino ingebou – want die lewe self is ’n camino met ’n begin en einde.

Wanneer die aarde se bewoners moeg raak vir onbestendigheid, politieke onrus, stryd of persoonlike seerkry, is ’n pelgrimstog of bedevaart ’n uitkoms om nuwe spirituele sin en groei te vind. Swaarkrystaptogte oor ongelyke aarde met uitdagings kweek volharding. Dit maak mense sterk. Al pyn die spiere en bene van pelgrimstappers, is daar in elkeen se hart altyd ’n vlam wat hom vorentoe laat loop. Die wil om wat begin is, te voltooi. Hoe groter die uitdaging, hoe soeter die einde.

Tree vir tree op die Sungazer se plaaspaaie, terwyl die ouvolk met hul skubberige lywe die stappers ongemerk en waaksaam deur hul oeroue oë beloer, vind die hart weer sy rus en kalmte.

Die bedevaartroete in Paul Roux is ’n karaktertoets onvergelykbaar met enige ander tog. Dit bied eindes vol hoop en nuwe lewensmoed.

Op ’n pelgrimstog waaraan die skrywer deelgeneem het, het sy gehoor ʼn pelgrim sê daar is die camino wat ’n mens kan loop en die camino wat jy leef: “Om die camino te leef, is baie moeiliker as om dit te loop. Die camino wat ek met swaarkry tree vir tree geloop het, het my lewe verryk. Ek het geleer dat ek tot veel meer in staat is as wat ek gedink het.”

Die eindwaarde van ’n pelgrimstog soos die Sungazer, sluit ook aan by die volgende woorde van ’n Amerikaanse skrywer, Fil Anderson: “For most of my life, I have been overwhelmed by the distraction of busyness, noise and hurry. Now I know that God did not design my life to run empty.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Sue ·

Ons het die Sungazer al twee jaar na mekaar gestap. Wat n pragtige goed georganiseerde roete. Baie dankie aan die organiseerders. Enige stapper wat al heelwat ander roetes gestap het sal saamstem dat hierdie een kos vir n mens se siel is. N lekker veilige wegbreek van die daaglikse “rat race”. Pragtige akkommodasie en die Oos Vrystaat bly maar net beautiful! Baie dankie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.