Beplan jou ski-vakansie só

Afhangende van die tyd van die jaar kan die "slopes" nogal besig raak Foto: Marianne Styan

Afhangende van die tyd van die jaar kan die “slopes” nogal besig raak Foto: Marianne Styan

Marianne het in ‘n vorige reisartikel meer vertel oor ski-vakansies. Lees nou die wenke en punte wat jy in gedagte moet hou wanneer jy jou ski-vakansie beplan.

ʼn Oostenryker het my eenkeer gevra waarom ek ʼn ski-vakansie in ʼn winterland  bó handdoek-oor-die-skouer-gooi en strand toe gaan in Suid-Afrika verkies .

Dit was gevra toe ek saam met hom gaan ski en nog besig was met die moeisame daaglikse 15 minute-ritueel om ski-stewels, -musse en -handskoene aan te trek, ski’s te kry en na die “slopes” (hellings) toe te loop.

Ek dink dis dieselfde vraag wat ʼn mens aan ʼn branderplankryer of valskermspringer kan vra en hulle sal heel moontlik antwoord: “Net sommer”, want dis iets wat jou net gelukkig maak, sonder ʼn verduideliking.

Dit gee vir jou ʼn gevoel van oorwinning as jy aan die einde van ʼn dag kan terugkyk na ʼn berg waarteen jy afgeski het, en besef: “Vandag het ek ʼn persoonlike Everest oorwin.”

Of jy nou so voel oor jou eerste afski teen ʼn beginner-slope of ʼn berg, moet jy goed en reg beplan om seker te maak jy is wel uitgeknip vir ski en dat jy die regte plek kies. Hier is ʼn paar belangrike punte wat jy in gedagte moet hoe:

Mense stoor hulle ski's tydens 'n breek Foto: Marianne Styan

Mense stoor hulle ski’s tydens ‘n breek Foto: Marianne Styan

– Om ski voluit te geniet moet jy oor jou vrese kom vir die volgende:  spoed, hoogte en val. Jy moet spoed hê vir goeie tegniek; dit mag hoog wees maar dis van die mooiste uitsigte wat jy ooit sal sien; en onthou sneeu is gelukkig sag so moenie te veel bekommer dat jy te seer gaan val nie.

– Ek was altyd skepties oor die Suid-Afrikaanse gras/mat-ski-skole, maar ek het wel die waarde daarvan besef om net ten minste die gevoel van die ski’s aan jou voete te kry, voordat jy die berge aandurf. Dit gee jou tog meer selfvertroue en maak dat jy gouer gemaklik raak daarmee as jy in die sneeu is en weet hoe lyk die basiese snowplough (dis die pizza-stuk-vorm wat jy met jou ski’s maak om jouself te stop). Moet egter nie te veel geld op die lesse in Suid-Afrika spandeer nie, want die sneeu is baie meer vergewend ten opsigte van jou tegnieke en dus is dit nog steeds die maklikste om op die ware Jakob te leer.

– Neem ten minste een of twee dae se ski-klasse by die ski-oord. Dis nie tydmors nie. Glo my, as jy net ʼn week het om te ski en dis jou eerste keer, is dit beter om een dag af te staan as wat die res van die geselskap die heeltyd vir jou moet wag omdat jy nie eens die basiese snowplough ken nie. Buitendien is dit groot pret om saam met ander beginners te val, eerder as om die heeltyd saam met ervare skiërs om verskoning te moet vra omdat hulle nie vir jou wil wag wanneer jy uit jou ski’s geval het en die aantrekproses op die hellings moet bemeester nie.

– Indien jy oor die maklikheidsgraad van die slopes by ʼn ski-oord wat jy oorweeg wonder, gebruik die volgende as maatstaf: Dit word geklassifiseer van maklik tot moeilik van groen, blou, rooi, swart en dan in Amerika is daar nog dubbel swart diamante en “experts only” (net vir die rekord, bly maar weg van die bordjies wat ʼn kopbeen en gekruisde bene het…).

– Maak seker hoe ver die slopes van jou akkommodasie is voordat jy bespreek. Ski’s is swaar en kan ongemaklik wees om te dra terwyl jou voete in ski-stewels vasgekluister is. As jy nie gewoond is om daarin te stap op soms yserige en gladde paaie nie en jy moet swaar ski’s op jou skouers ronddra, gaan jy dalk met meer bloukolle terugkom as wat jy dink…

– Koop ʼn ski-toegangskaart (ski pass) vir die hele tyd wat jy wil ski. Dit raak al hoe goedkoper per dag hoe langer die tydperk is waarvoor jy ʼn toegangskaart aanskaf en dit gee jou boonop ook toegang om die ski-busse te gebruik vir so lank as wat jy in die dorp is. Dit verhoed ook dat jy in lang toue moet staan vir dag- of enkelritkaartjies.

Plekke wat ek verseker kan aanbeveel vir lekker ski en goeie slopes:

  • Amerika: Aspen, Vail, Breckenridge in die Colorado-omgewing en ook Remada in die Utah Wasatch-bergreeks  by Salt Lake City
  • Kanada: Whistler in British Columbia
  • Europa:  Saalbach en  Kitzbuhel in Oostenryk, Levigno in Italië (wonderlik vir Après-ski) en Val d’Isere (Frankryk)
  • Club-Med-pakkette is baie bekostigbaar en kan jou baie help om verseker te wees van goeie akkommodasie, slopes, vervoer en vlugte.

Lees gerus Marianne se vorige artikel oor ‘n wit Kersfees. Daar volg ook die mooiste fotogalery onderaan die berig.
Marianne onderneem al hierdie ervarings en bring jou reisartikel op haar eie onkoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.