Berlyn: Spore van twee diktatorskappe

berlyn-duitsland

‘n Uitsig oor Berlyn, Duitsland. Foto: Andreas Kind/Unsplash.com

Berlyn, gemeet aan ander Europese stede, is nie ’n baie ou stad nie. Terwyl talle groot stede dateer uit die Romeinse era, is Berlyn skaars 800 jaar oud en was vir die grootste deel van sy bestaan ’n dorp. Dis maar die afgelope sowat 200 jaar wat Berlyn as hoofstad van die opkomende koninkryk Pruise belangrik geword het.

Die stad se goue era was in die Duitse Keiserryk (1871-1918) en tot en met die 1930’s. In die Tweede Wêreldoorlog is die stad grootliks vernietig en is daarna in twee verdeel. Ná 1990 het Berlyn weer ’n skouspelagtige terugkeer as politieke en kulturele sentrum van Duitsland en selfs van Europa gemaak (die ekonomiese sentrums is egter elders). Al staan die stad vandag bekend as besonder hedonisties, multikultureel, links, verdraagsaam, hip, sexy, partytjiehoofstad en wat nog, is die donker verlede orals sigbaar.

Die verlede van Berlyn word bepaal deur twee diktatorskappe waarvan dit die hoofstad was: Hitler se Nazi-ryk (of Derde Ryk) van 1933-1945, en daarna die kommunistiese Duitse Demokratiese Republiek (DDR) van 1949-1990. Laasgenoemde bewind se spore is eintlik net in die oostelike helfte van Berlyn sigbaar, dog baie prominent.

Van die Nazi-era is daar min sigbare spore oor. Dit wat nie in die oorlog vernietig is nie, is ná die tyd gesloop. Die Nazi’s het groot planne vir Berlyn gehad en wou dit ná die gewaande oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog heeltemal herontwerp. Uit die aard van die saak het daar niks van gekom nie. Nogtans is daar ’n paar kenmerkende en monumentale oorblyfsels uit die Nazi-era, soos die voormalige lughawe Tempelhof en die Olimpiese stadion en enkele administratiewe geboue wat vandag deur staatsdepartemente gebruik word, soos Hermann Göring se eertydse Reichsluftfahrtministerium.

Van die geboue wat ten nouste met Hitler geassosieer word, die nuwe Reichskanzlei en die Führerbunker, is daar egter niks meer oor nie. Die Russe het ná die besetting van Berlyn so veel as moontlik opgeblaas en gesloop wat aan die Nazi-era herinner het.

Daar is wel ’n oorspronklike oorlogsbunker naby die vernietigde Anhalter Bahnhof, waar ’n baie breedvoerige en histories presiese uitstalling in 38 vertrekke oor die lewe van Hitler en die Nazi-era inlig, asook ’n rekonstruksie van die kamer waar Hitler en sy vrou selfmoord gepleeg het. Hierdie is ’n taamlik onlangse toevoeging deur die Berlin Story Museum, alhoewel daar orals monumente oor die misdade van die Nazi’s is. Die bekendste is seker die Holocaust-gedenkteken bestaande uit honderde betonblokke. Naby daaraan is ook nog die fondasie van die Gestapo (geheime polisie) se hoofkantoor.

Die spore van die ander diktatorskap is baie meer volop, trouens, daar is te veel geboue uit dié era om almal te noem. Die DDR het immers 40 jaar bestaan en Oos-Berlyn was hul hoofstad en uitstalplek van ’n andersins (in vergelyking met Wes-Duitsland) arm land waar dit soms gevoel het asof die tyd stilstaan.

Argitektonies beskou is dit onaansienlike betonstrukture, suiwer funksioneel. Daar is wel die baie interessante en estetiese woonstelblokke vir die politieke elite in die destydse Stalinallee (vandag Karl-Marx-Allee) uit die 1950’s, wat in ’n soort neo-Romeinse monumentale styl gebou is en ooreenkomste met die Italiaanse fascistiese argitektuur het. Anders as by die woonstelblokke vir die gewone werkers, is hier ook ornamente en beeldwerk.

Van die DDR se openbare geboue is orals oor Oos-Berlyn versprei en meeste daarvan word nog gebruik. Net die Paleis van die Republiek in die hart van Berlyn, wat die Volkskamer (parlement) van die DDR asook groot sale vir onthale en optredes gehuisves het, is gesloop weens verbode asbes wat as boumateriaal gebruik is. Waar die Paleis van die Republiek gestaan het, word tans die historiese Berlynse Schloss (stadspaleis van die eertydse keiser) herbou. Die ironie van die geskiedenis dat die kommuniste juis dié historiese gebou in die 1950’s opgeblaas het.

Van die berugte muur, seker die bekendste baken van Berlyn, wat deur die kommuniste gebou is om mense te verhinder om te vlug, is net nog enkele stukke hier en daar oor. Aan kommunistiese gedenktekens en straatname is egter nie geraak nie.

Die DDR se mees verfoeilike element was die Ministerie van Staatsveiligheid, alombekend as die Stasi. Dit was ’n reuse-instelling wat ten doel gehad het om met alle middele die kommunistiese bewind te verstewig en te verdedig.

Dit het uit ’n magdom onderafdelings bestaan, maar vir meeste DDR-burgers was dit die gevreesde spioenasieafdeling wat hul daaglikse lewe bepaal het. Bykans een uit elke tien burgers was in een of ander manier werksaam vir die Stasi en het op mense aan wie se lojaliteit teenoor die bewind getwyfel is, gespioeneer en hulle gerapporteer. Die Stasi het verdagte individue beswadder, geïntimideer, teen hulle gediskrimineer, hulle finansieel of persoonlik geruïneer, in hegtenis geneem, gedeporteer en in enkele gevalle selfs gemartel en vermoor.

Die afskuwelike Stasi-hoofkantoor diep in Oos-Berlyn huisves nou ’n museum met, onder meer, die oorspronklike kantore van Erich Mielke, wat van 1957 tot en met die einde van die DDR in 1989 die gevreesde en gehate hoof van die Stasi was.

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stephan de S ·

Dankie dis nou n lekkerlees artikel met n klomp besonderhede wat n mens nie elke dag te lese kry nie.

Jan ·

Ja die slinkse kommuniste wen maar altyd en hulle skryf die geskiedenis…

jaco ·

Oos-Duitsland was SONDER goed soos
-Beurtkrag
-Swak vuil staatshospitale
-Lae standaard onderwys waar leerders onderwysers aanrand
-Gedurige moorde, roof en verkragtings
-Korrupsie
En so kan my lysie aangaan en aangaan. Dit was 1000 maal beter as SA onder die ANC en sy kommunistiese alliansievennote.
Eks verbaas as ek sien hoeveel van die ouer ANC-kaders was in onder andere Oos-Duitsland, die Sowjetunie, Hongarye in ballingskap, want dit lyk my hulle het NIKS daar geleer nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.