Beskerm jouself só in geval van siekte, ongeluk dié vakansie

vakansie-see-strand-mengeldrankie

Foto: Stokpic/Pexels.com

Desember is die tyd vir die jaarlikse uittog na die kus of oorsee, en dit is amper weer daardie tyd van die jaar vir talle Suid-Afrikaners!

Meeste van ons is bewus van die reëlings wat getref moet word voordat ons weggaan.

Ons sorg dat ons motors gediens is en reël dat iemand na ons troeteldiere en huise omsien. Maar die meerderheid van ons is nie so voorbereid wanneer dit kom by mediese noodgevalle nie – veral wanneer jy buite Suid-Afrika vakansie gaan hou. Reisversekering is dus iets om te oorweeg.

ʼn Mediese noodgeval kan vinnig gebeur wanneer jy met vakansie is, en dan is die koste van hospitalisasie die laaste ding waaroor jy jou behoort te bekommer.

“Vakansies is deel daarvan om ʼn gesonde leefstyl te handhaaf en ons moedig lede aan om te ontspan deur ʼn welverdiende tydjie af te neem,” het Gerhard van Emmenis, hoofbeampte van die Bonitas-mediesefonds gesê. “Ons moedig al ons lede aan om hul mediesefondskaarte saam te neem wanneer hulle in die binneland vakansie hou om sodoende te verseker daar word na hulle omgesien in ʼn noodgeval. Vir dié wat in die buiteland vakansie hou, bied ons ook internasionale toerplanne.”

Mediese uitgawes in die buiteland kan onbetaalbaar duur wees, veral met die fluktuerende wisselkoers. Van Emmenis het gesê om te voorkom dat jou vakansie en finansies heeltemal opgemors word, moet jy kyk na wat jou huidige mediese skema het om te bied, in terme van mediese reisversekering en indien nodig bykomende reisversekering.

Wanneer jy met jou kredietkaart betaal vir vakansies

Byna alle kredietkaartverskaffers het ʼn vorm van reisversekering wanneer jy jou kredietkaart gebruik om vliegtuigkaartjies mee te koop. Dit beteken nie noodwendig dat die mediese voordele wat aangebied word voldoende sal wees nie. Maak seker jy weet wat gedek word, wat die totale geldwaarde van die versekering is en waar daar tekortkominge kan wees.

Reisversekeringsbeleid

Daar is verskeie versekeringsmaatskappye en reisagentskappe wat reisversekering aanbied. Baie keer is dít bekostigbare opsies om by te dra tot die dekking wat jy tans het deur middel van jou kredietkaartversekering en mediese fonds. Dit is wel slim om rond te kyk vir planne wat alles dek. Moenie aanneem dat wanneer jy reisversekering het, jy outomaties vir alles gedek is nie.

Dekking vir die avontuurlustiges

Hoewel daar verskeie polisse is waarvan jy kan kies vir kort vakansies, moet jy die soort vakansie waarop jy gaan én watter land jy gaan besoek oorweeg. Goeie raad is om te kyk of daar enige reiswaarskuwings of -beperkings is in die stad of stede wat jy gaan besoek. Maak seker jy het ook dekking vir natuurrampe in jou reisplan ingesluit.

Avontuurvakansies vir adrenalienliefhebbers word dikwels as gevaarlik gesien en sal moontlik nie gedek word nie, óf daar kan bybetalings wees. Dit beteken jy sal spesifiek moet kyk na dekking vir gevaarlike aktiwiteite. Dit word saamgestel om moontlike ongelukke te dek, maar daar is wel beperkings daarop.

“Niemand wil dink aan siek wees of moontlike ongelukke wat kan gebeur tydens vakansies nie,”  het Van Emmenis gesê. “Maar daar is niks slegter as om onvoorbereid te wees in ʼn ongeluk of mediese noodgeval nie. Nie net sal jou vakansie ʼn gemors wees nie, maar dit kan jou ook finansieel ruïneer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.