Besoek vanjaar dié vooruitstrewende plekke

Visvang in Dullstroom Foto: Stephan van Vuuren

Aan die begin van ’n nuwe jaar werk enige reisliefhebber aan ’n reislysie vir die jaar wat voorlê en dit wil voorkom of die res van die wêreld almal Suid-Afrika op die brein het! Ons mooie Moederland is dié jaar al weer deur toonaangewende nuuspublikasies en reiswebtuistes soos The Guardian en Lonely Planet aangewys as een van die top-10-plekke om in 2018 te besoek.

Te danke aan die groei in ons toerismebedryf word plaaslike bestemmings, van die grootste stede tot die kleinste dorpies, aangemoedig om al hoe meer in hul gemeenskap se toerisme te belê. LekkeSlaap het gaan uitvind watter dorpe en stede die meeste groei getoon het oor die afgelope jaar en alhoewel die gewone sterre weereens geskitter het, het ons statistieke ook ’n paar verrassings opgelewer.

LekkeSlaap se top-10-bestemmings van 2017-2018:

  1. Dinokeng
  2. St Lucia
  3. Arniston (Waenhuiskrans)
  4. Wildernis
  5. Umhlanga
  6. Durban
  7. Sedgefield
  8. Kaapstad
  9. Drakensberge
  10. Bloubergstrand

Dit wil voorkom of kusdorpe veral koning gekraai het met die Weskus, Tuinroete en KwaZulu-Natal se kus wat die meerderheid van dié lysie uitmaak, maar buiten dié bestemmings was daar tientalle ander dorpe en stede wat in die kollig getree het. Ons het by plaaslike inwoners en instansies gaan uitvind hoekom van die ander topbestemmings só gewild was:

Potchefstroom

Stadsaal (Wikimedia)

Potchefstroom of “Potch” lê aan die oewer van die Mooirivier en is een van Noordwes se grootste stede. Dis op die N12-Skatkisroete wat vanaf Johannesburg tot by Kaapstad via Kimberley strek en dis ’n gewilde alternatief vir die N1 met sy talle tolhekke.

Potch het hoofsaaklik sy bekendheid verwerf te danke aan studente aan die NWU en die bekende Aardklopfees ─ ’n jolige kombinasie! Die stad word deur talle besoekers as ’n pragtige “studentedorp” beskryf en is ’n uitstekende voorbeeld van ’n groot stad met ’n gesellige, intieme “kleindorpie-gevoel”, soos Delmari van Zyl van die Aardklopfees dit beskryf. Ons het opgelet dat ouers van studente aan die Noordwes-Universiteit gereeld deur LekkeSlaap verblyf bespreek wanneer hulle by hul studentekinders gaan kuier, veral omdat so baie blyplekke naby die universiteit geleë is en instansie-eienaars moeite doen om ouers te akkommodeer. Kobus van Staden van Die Opstal Gastekamers sê hulle bied byvoorbeeld lekker gesellige lapa- en braaigeriewe waar ouers (soos by hul eie huis) saam met die studente kan kuier. Ouers kom bly dus gereeld vir ’n hele paar dae of selfs meer hier wat beslis die akkommodasie in Potch ’n hupstoot gee.

NWU deur Media Club (Flickr)

 

Die meerderheid van ons resensies is egter van Aardklop-feesgangers wat nie uitgepraat kan raak oor hoe gerieflik dit is om in Potch oor te slaap gedurende die fees nie. Dit lok jaarliks aan die einde van September, begin Oktober, meer as 150 000 feesgangers en is ’n kaleidoskoop van musiekvertonings, verhoogstukke, kunssafari’s, langtafeletes, solovertonings en kinderproduksies. Die fees het onlangs opnuut gewildheid verwerf toe dit teruggeskuif is na die oorspronklike feesgrond op Die Bult, een van Potch se mees gesogte buurte, en om dit alles te kroon is die fees se ingangsfooie ook verminder! Ander gewilde feeste wat hier plaasvind sluit die Lentefees en Craftbierfees ─ laasgenoemde lok natuurlik ook al hoe meer besoekers te danke aan die craftbier-tendens.

Aardklop

Nog ’n groot trekpleister is Potch se puik sportgeriewe waar baie SA-kampioenskappe gehou word. Verlede jaar het die SA’s vir atletiek en landloop, asook groot hokkietoernooie byvoorbeeld in Potch plaasgevind wat atlete, hokkiespelers en ouers van heinde en verre gelok het.

Buiten die feeste, studente, sportgeriewe en ’n gerieflike ligging naby die Vredefortkoepel en Vaalrivier, het Potch ook puik restaurante en koffiewinkels wat gerieflik is vir gaste wat nie selfsorgverblyf bespreek nie. Die stad het as’t ware iets vir elke tipe reisiger ─ dis g’n wonder Potch word as die hartklop van Noordwes bestempel nie!

Pretfeit:

Die langste eikelaan in Suidelike Afrika kom in Potch voor. Dit is 6,48 km lank en strek van die Landbousentrum tot by die Lakeside Resort.

Langste eikelaan in Suidelike Afrika (Wikimedia)

Upington

Dié dorp aan die oewer van die Oranjerivier is met goeie rede ’n oase in die Groen Kalahari! Het jy byvoorbeeld geweet dat Upington van die land se beste uitvoerwyne oplewer? Buiten ’n florerende landboubedryf het die dorp ’n gerieflike ligging wat dit die poort na wêreldbekende bestemmings soos die Kgalagadi Oorgrenspark, die Richtersveld, Namakwaland, die Augrabies Nasionale Park en selfs Namibië maak. Daarom is dit veral ook gewild onder buitelanders wat Upington as basis gebruik om dié besienswaardighede en omliggende dorpies te verken.

African Vineyard Guesthouse (LekkeSlaap)

Volgens Henco Burger, eienaar van Kalahari Lion’s Rest, het besigheidsbesprekings veral toegeneem omdat daar so baie nuwe sonplase in die omgewing gestig word en omdat baie verteenwoordigers van besighede die dorp se sakekern besoek. As gastehuiseienaar het hy ook opgelet dat besoekers al hoe meer Upington as ’n lekker vinnige naweekwegbreekplek gebruik. Dis g’n wonder met die groot verskeidenheid ongewone doendinge wat die dorp bied nie ─ ons wed jou jy’t nie geweet jy kan brandewyn-, craftbier- en wynproe, op ’n bootrit gaan, museums besoek (Kalahari-Oranje Museum), by markies rondwandel, inkopies doen én aan avontuur- en watersport deelneem in dié dorp nie!

Upington (Wikimedia)

Laastens is daar ook ’n paar lekker feeste soos die Kalahari Kuierfees, Upingtonskou en !Naba Kos- en Wynfees wat meestal Noord-Kapenaars maar ook boere, musiekliefhebbers en smulpape van regoor die land Upington toe lok. As jy nou op soek was na ’n verskoning om dié dorp te besoek, is dié feeste rede genoeg!

Pretfeit:

  • Een van die gewildste doendinge in die dorp is ’n skemerkelkievaart op Sakkie se Arkie — ’n drywende kroeg op die rivier met plek vir 20 mense.

Oranjerivier (LekkeSlaap)

Gariepdam

Gariepdam deur South African Tourism (Flickr)

 

Weens die toenemende waterkrisis en veral die Wes-Kaap se droë damme, is die kans groot dat die land se grootste dam veral die afgelope jaar soveel aandag na dié streek getrek het.

Te danke aan die dorp se ligging naby die N1 en die feit dat dit as poort na die Ooskus dien, is dit altyd ’n gewilde oornagbestemming vir langpadreisigers wat ’n aand of twee wil vertoef. Die dorp is op die grens tussen nie net twee nie, maar drié provinsies, naamlik die Vrystaat, Noord-Kaap en Oos-Kaap geleë wat sy ligging selfs nog meer besonders maak.

Gariepdam (Wikimedia)

Robin van den Berg van die SunRose-verblyfgroep is van mening dat die toename in groot vragmotors en verkeer weens die gebrekkige spoorwegstelsel Gariep die ideale “halfweghuis” gemaak het, en daarom werk sy en talle ander gastehuiseienaars konstant om gerieflike gehalteverblyf teen kompeterende tariewe in ’n rustige omgewing te bied. Die dorp het ook onlangs nuwe restaurante en winkels bygekry wat dit meer as net ’n eenvoudige oornagbestemming maak!

Buiten gerief bied Gariep se verblyf ook eiesoortige ervarings omdat baie van die gastehuise op familieplase (skape, Nguni-beeste, inheemse veldbokke, renperde en wild) rondom die dorp geleë is waar gaste terselfdertyd die rus en vrede kan geniet, maar ook aan die daaglikse boerdery-aktiwiteite op die plaas kan deelneem. Marene van der Walt van Morning Glory Cottages stel dit so mooi:

“Hier waar kinders nog kinders kan wees en ons wat hier woon die stilte en veiligheid daagliks indrink, waar mense baie naby die natuur leef en ons almal ’n passie vir die Karoo het.”

Gariep A Forever Resort (LekkeSlaap)

Daar is natuurlik ook nie ’n tekort aan doendinge in Gariep nie. Bergfietsryers kom ry oor naweke die plaaspaadjies plat en gaan verken die Oviston-reservaat wat aan baie van die plase grens. Verder is daar ook fantastiese geleenthede vir sterrekyk en skouspelagtige sonsondergange om te bewonder.

Dinky Schultz van die gesogte De Stijl Hotel in die dorp lig verder uit dat Gariep die afgelope ruk veral blootstelling gekry het op TV-programme soos Vrydag4uur en Weg! Agterpaaie en by die Indaba Toerismeskou in Durban en dat talle Lilizella-toekennings onlangs aan die dorp en omliggende omgewing uitgedeel is. Sy wys ook uit dat kunstefeeste soos die Quena-fees en groot funksies soos die 50ste herdenking van Ferrari Suid-Afrika verseker dat klein plekke soos dié raakgesien word.

De Stijl Gariep Hotel (LekkeSlaap)

Gariep is duidelik baie meer as net ’n dorp en ’n dam ─ dis ’n hegte, gasvrye gemeenskap! Maak dit gerus jou volgende oornagbestemming as jy weer die langpad aanpak of kom vertoef ’n rukkie langer en verlustig jou in ware plattelandse gasvryheid.

Pretfeit: Gariep is afkomstig van die Khoekhoe-woord vir “rivier”, die oorspronklike naam van die Oranjerivier wat deur die Gariepdam vloei.

Gariepdam wat oorvloei in die rivier. Foto: Wikimedia

Hibberdene

Hibberdene (Wikimedia)

Hibberdene is ’n tipiese KwaZulu-Natalse kusdorpie halfpad tussen Scottburgh en die immergewilde Margate aan dié provinsie se Suidkus. Dit staan as die poort na die Hibiskuskus bekend en is ’n toevlugsoord vir plaaslike en internasionale toeriste wat nie kans sien vir Margate se gewoel nie. Die feit dat dit so naby van KwaZulu-Natal se bekendste bestemmings is, maak dit die perfekte kompromie as jy wil rondrits én rus ná die tyd.

Volgens LekkeSlaap-gaste wat laasjaar Hibberdene besoek het, het die dorp die afgelope drie jaar sigbaar verbeter. Daar is glo minder rommel in die bosse, op die strate en op die gras naby die strand, en die strande word ook nou beter beveilig en beman. Alhoewel hulle uitlig dat die dorp min winkels en eetplekke het, noem hulle ook dat daar soveel ander dorpe in die omtrek is dat dit geensins pla nie en dat dit juis tot die dorp se bekoring bydra.

Bouganvilla Hibberdene Vakansie Woonstel (LekkeSlaap)

Jenine Hamilton van Amanzi Beach House sê die dorpie se grootste trekpleister is sy lekker sakpasverblyf en egte kusdorpie-atmosfeer wat reisigers nostalgies aan vakansies uit hul kinderdae laat terugdink. Die dorp het ook vyf strande waarvan vier veilige swemstrande is, so besoekers kom baljaar, branderplankry, duik, snorkel en skubaduik graag hier in die warm Indiese Oseaan. Daar is ook ’n waterwurm en die Jolly Roger Putt-Putt-baan om die kinders besig te hou en avonturiers kan Oribikloof toe ry om te gaan abseil, witriviervlotvaar en kloofspring. Visvang is ook gewild in dié geweste en een van die dorp se bekendste wegneemeetplekke, Fifi’s Fresh Fish, verkoop glo van die lekkerste vis aan die Suidkus!

Branderplankry voor Khaya La Manzi Guest Lodge (LekkeSlaap)

Inwoners meen Mei tot Junie is die beste tyd om Hibberdene te besoek aangesien dit steeds matig warm is. Dit is ook die begin van walvisseisoen en jy sal selfs dalk die indrukwekkende sardientjieloop van jou voorstoep af kan bewonder. Stel jou nou dít voor!

Pretfeit:

Die beste plek om sonsopkomsfoto’s te neem is óf van die strand óf van Khaya La Manzi se dek op die heuwel.

Khaya La Manzi Guest Lodge (LekkeSlaap)

Dullstroom

Dullstroom. Foto: Stephan van Vuuren

Dullstroom is op die skouspelagtige Highlands Meander in Mpumalanga geleë wat baie reisigers aan Noord-Skotland se golwende heuwels laat dink. Die dorp is hoofsaaklik bekend as ’n kunsvlieghengelparadys met tientalle damme waar hengelaars kan kom lyn natmaak en die koue water en klimaat maak dit ook ideaal vir forelvang ─ iets wat jy nie sommer oral in Suid-Afrika kan doen nie. Dullstroom bied verskeie visvanggeleenthede ─ of jy nou ’n gesoute hengelaar is wat trofeehengel, of sommer jou eie aandete wil probeer vang!

Visvang in Dullstroom. Foto: Stephan van Vuuren

Ons het met Bronwen Meurig-Evans van Dullstroom Accommodation gesels om te hoor wat besoekers hier kom doen buiten hengel. Sy sê baie gaste kies om op plase buite die dorp te bly, waar hulle kan ontspan in die natuurskoon, rondwandel en bergfietsry. Blyplekke soos Dunkeld Estate en Walkersons Estate raak byvoorbeeld ook al hoe gewilder vir die verskeidenheid avontuursport en perdrygeleenthede wat hulle bied en daar is ook ’n paar goeie gholfbane in die omgewing.

Natuurskoon in Dullstroom. Foto: Stephan van Vuuren

Selfs as jy nie van ’n sportiewe vakansie hou nie, het Dullstroom oorgenoeg om jou vir ’n hele paar dae besig te hou! Die dorp is gewild vir naweekwegbreke omdat dit net sowat 2 tot 3 uur se ry van Johannesburg en Pretoria af is en kan selfs as ’n oornagbestemming vir reisigers op pad na KwaZulu-Natal, Mosambiek en ander noordelike bestemmings dien. Daarom ontsnap baie Gautengers maklik vir ’n naweek uit die stad om te ontspan, whisky en gin by Wild About Whisky te proe en aan sjokolade by Shautany Chocolates te smul, rustig inkopies te doen sonder die skares, ’n spa te besoek, by die dorp se topklasrestaurante te eet of net rustig piekniek te hou by die dam.

Winkels in Dullstroom Foto: Stephan van Vuuren

Dullstroom is ook ’n uiters gesinsvriendelike bestemming en spog met ’n reuse-verskeidenheid verblyfopsies wat wissel van selfsorghuise tot luukse plaasverblyf en rugsakreisigerslosies, wat veral onder internasionale besoekers gewild is. Loer gerus hier om jou eie wegbreek in Dullstroom te bespreek!

Pretfeite: Dullstroom is die dorp met die hoogste ligging in Suid-Afrika en weens die unieke klimaat is dit die enigste plek in die land waar beuk- en elmbome groei.

Watter van dié bestemmings het jy die minste op die lys verwag?

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Ankia Wolf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.