Bly só veilig op die strand

vakansie-see-strand-mengeldrankie

Foto: Stokpic/Pexels.com

Die vakansieseisoen is hier en Suid-Afrikaners sien uit na ʼn welverdiende blaaskans. Misdadigers, aan die ander kant, is nooit met verlof nie en is altyd op soek na ʼn geleentheid om jou en jou hardverdiende kontant en besittings van mekaar te skei.

Die versekeringsmaatskappy Virseker het ʼn beroep op vakansiegangers gedoen om waaksaam te wees. “Selfone, tablette, kameras, beursies, juwele, sonbrille en selfs bykomstighede soos strandstoele en sambrele is waardevolle buit vir misdadigers wat ʼn vinnige geldjie wil maak,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.

“Dit kan veroorsaak dat jou vakansie in ʼn japtrap van vrolik na vrot gaan. Baie Suid-Afrikaners sien daarna uit om net vir ʼn rukkie af te skakel, maar dit is noodsaaklik om altyd op jou hoede te bly, of jy nou op die strand, op die rivieroewer of elders is,” sê Twilley.

Virseker het die volgende wenke gegee om te voorkom dat jy ʼn slagoffer word:

  • Net die nodigste: Neem slegs dit wat jy nodig het saam. Moenie ʼn beursie met jou kredietkaart en kontant, of jou hele handsak met ander waardevolle besittings en dokumente, saamneem as net ʼn klein hoeveelheid kontant, saam met die basiese strandbenodigdhede, sal deug nie.
  • Sluit toe: Maak gebruik van die openbare kluise wat by baie gewilde vakansie-uitspanplekke beskikbaar is.
  • Ligging, ligging, ligging: Kies ʼn plekkie wat naby aan die lewensredders of strandpatrollie is, aangesien dit as afskrikmiddel dien vir misdadigers. Wanneer jy strand toe ry, parkeer jou voertuig in ʼn area wat veilig bewaak word.
  • Wees op die uitkyk: Hou jou besittings ten alle tye onder oë – nooit weggebêre onder jou stoel of agter jou nie.
  • Moenie “adverteer” nie: Moenie jou besittings oop en bloot, of in ʼn sak wat nie behoorlik toe is, laat nie.
  • Hou jou besittings geselskap: Moet nooit waardevolle items sonder toesig laat nie.
  • Rus jouself toe: Belê in teen-diefstal strandsakke, toestelle soos die Beach Vault of ʼn waterdigte sakkie wat jy saam met jou in die water kan neem.
  • Swem in skofte: Neem beurte om in die water in te gaan, sodat iemand altyd daar is om ʼn ogie oor jou besittings te hou.
  • Vreemdelinge: Wees versigtig vir vreemdelinge wat gou ʼn geselsie aanknoop – hulle mag dalk probeer om jou aandag af te trek terwyl jou besittings agter jou rug gesteel word.
  • Vriendskapsversoek: Leer die mense wat naby jou sit ken sodat jy weet wie hulle is en hulle met vertroue kan vra om ʼn ogie oor jou besittings te hou indien nodig, en ook sodat jy weet wanneer iemand wat by hulle besittings rondhang nie daar hoort nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tiger ·

Vir my en manlief is dit veiliger,goedkoper en sonbrandloos by ons huis.Dankie maar nee dankie.Ons bly by die huis!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.