Bosveld-wegbreek om die draai van Pretoria

Foto: Marianne Styan

Foto: Marianne Styan

Ek onthou, as kind, hoe ons baie vroeg in die oggend uit Pretoria gery het om voor die Kruger-wildtuin se hek te gaan wag met ʼn koffie en beskuit in die hand, wagtend op die hekke om oop te maak sodat ons die meeste kon maak van ons dae (dikwels net ʼn naweek) in die wildtuin.

Deesdae moet mens ook soms buite die wildtuin oornag, aangesien dit al besiger begin word en dit maande vooruit vol bespreek is. Die kans om ʼn slaaphoekie vir jouself in een van die kampe te sien, is laer af op die besigtigings-afmerklysie as ʼn wildehond wat deur ʼn krokodil aangeval word…

Daarom is dit deesdae ʼn riem onder enige natuurliefhebber se hart om te weet daardie dae is verby. ʼn Stukkie bosveld, wat ʼn baie goeie plaasvervanger vir die Kruger is, het op ons voorstoep oopgemaak vir ʼn naweek se wegbreek. Dit kos ook nie, op die koop toe, ʼn kind se universiteitstoelaag nie.

Dinokeng Wildreservaat is 60 minute se ry vanaf Johannesburg (Rust de Winter-afdraai op die N1 net anderkant Pretoria) geleë en bied jou alles wat jy in die wildtuin kan kry, op ʼn kleiner, kompakter skaal. 18 500 hektaar om presies te wees.

Meeste van ons soek die bosveld vir ontspanning en dierebesigtiging. Dinokeng bied albei.

Vir die eerste keer in 150 jaar het Gauteng weereens vrylopende leeus. Saam met die res van die groot vyf en basies enige boksoort waaraan jy kan dink, is dit werklik ʼn wildtuin in die kleine.

Daar is verskeie akkommodasie-opsies om van te kies, van uiters luukse vierster-oorde tot bekostigbare selfbedienende eenhede (R350 per nag). Oorde bied onder andere swembaddens en restaurante. Indien jy net vir die dag wil kom, kan jy uitspan in die ruskamp vir dagbesoekers en gebruikmaak van hulle swembad en ablusiegeriewe.
Indien rus nie jou hoofprioriteit is nie, is daar oorgenoeg om jouself mee besig te hou in die park: van visvang en perdry tot skermsweef (paragliding) en bootritte op die groot dam.

Geen privaatmotors word toegelaat in die reservaat self nie en jy kan kies van ʼn verskeidenheid twee-uur wildsritte regdeur die dag, vanaf enige van die kampe, om die Groot Vyf van naby te besigtig. Die koste vir die ritte is R150pp.

Vir twee ure lank kan jy net onspan en diere help soek of wag dat die ander gaste hulle namens jou raaksien. Dis egter ʼn lieflike ervaring om net die bosveld te kan ervaar met elke moontlike sintuig sonder om op die pad te moet konsentreer. Tydens die wildsrit is daar ook ʼn beenstrekbeurt waar jy versnaperinge kan geniet.

Vir ʼn romantiese geleentheid kan jy selfs die bospiekniek-opsie bespreek: ʼn drie uur lange wildsrit teen R180pp. (As jou aanstaande van die bosveld hou… ek noem dit maar net.)

Ek is opreg hartseer toe ek moes huiswaarts keer en die bosveld agter laat, maar ʼn renoster en haar kalf kom groet my by die pad op pad uit en beur my sommer weer op. Hulle vertoef nie lank om ons te groet nie, so asof hulle weet dis net tot weersiens. Duidelik weet hulle ek gaan gou weer terug wees, dis mos net om die hoek.

Rits Gids
• Om die akkommodasie-opsie te kry wat jou die beste pas, skakel 012 711 4391 of stuur gerus ʼn e-pos na [email protected] waar die Dinokeng-ontvangs jou graag sal help.
• Vind sommer uit wat is die tye van die wildsritte by die kamp waar jy gaan oornag (om betyds daar te wees of om plek te bespreek) wanneer jy skakel om akkommodasie te bespreek sodat jy verseker is van ʼn plekkie.
• Bespreek ook vroegtydig die aktiwiteite waarin jy belangstel om teleurstelling te voorkom, veral oor vakansietye.
• Die moderne Kingfisher-restaurant by Mongena lodge se middag- en aandete is heerlik. Geniet die uitsig op die mensgemaakte dam. (Hulle hoenderburger is een van die bestes wat ek nog gehad het!)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marianne Styan ·

Baie dankie, Andre. Solank dit mense help en gelukkig maak om oor mooi en interessante plekke te lees is ek gelukkig.

PJ ·

Ek wil ook Swakopmund toe. Wonder wat is die huis pryse. Sal maar moet gaan uitvind.
Baie dankie vir die puik inligting.

Bobby Huysen ·

Ons het op Dinokeng ‘n spierwit Jakkals gesien tydens ons “gamedrive”. Een van 8 in die wereld!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.