Braaidag: Jy mors nie met ʼn boer se vuur nie

Argieffoto (Foto: Snufkin, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Snufkin, Pixabay)

Met elke Braaidag (Erfenisdag, 24 September) lag ek nog lekker as ek terugdink aan een van my gunsteling braai-ervaringe.

“Vandag braai ons!”
“Wat gaan ons braai? Ons is in die middel van Oostenryk.”
“Hoender…”

Ons vriend, Nico, is vasbeslote om te braai ten spyte van ons “onakkommoderende” omstandighede. ʼn Groep van ons vriende het besluit om met fietse langs die Donau af te ry en in motorwoonwaens (“campers”) te bly in die gemaklike kampeerplekke wat oral in Oostenryk beskikbaar is.

So ry ons vir twee weke deur die pragtige klein dorpies met houthuisies en helder blommetjies wat onder die vensters in houtblombakke hang.

Ons nader die einde van ons vakansie. En die manne is besig om aan onttrekkingsimptome te begin ly vir een van die dinge wat naaste aan ʼn Suid-Afrikaner se hart lê… ʼn braai. Wat natuurlik nie noodwendig die maklikste ding in ʼn Europese land is nie. Oostenryk is nou nie regtig wêreldbekend vir sy lekker braaivleis nie. Dus moet ons sien kom klaar met wat ons ook al kan vind en bekostig. Dus hoender… Hoender is reeds nie die maklikste ding om op ʼn oop vuurtjie te braai nie, maar ʼn mens doen maar wat nodig is om ʼn braai moontlik te maak.

Ons het ons fietse en motorwoonwaens parkeer in die kampeerplek by Schlögen nadat ons ons inkopies in die pragtige dorpie gedoen het.

Die voorbereiding vir die “Groot Braai” het dus vroegdag al begin.

Ons het vir Helga, die opsigter van die kampeerplek, in gebroke Duits gevra vir braaihout en sy het aangebied om dit vir ons te bring. Na ʼn rukkie het sy met ʼn kruiwa met ʼn pragtige gestapelde hopie hout teruggekeer. Ons was hoogs beïndruk deur haar mooi vuurpakvermoë.

Ons vriend Nico het met die braaivoorstel gekom en dus was hy die afgevaardigde om te braai. Soos ʼn heilige offer het hy vir ʼn uur en ʼn half lank die Oostenrykse hoendertjie ontbeen en laat lê in die lekkerste selfgemaakte marinade.

Intussen het ons die perfekgepakte vuurtjie in die kruiwa aan die brand gesteek. Wat natuurlik ook vir ons ʼn bonus was, omdat ons dan nie na die tyd baie hoef te sukkel om van die oorblyfsels van die vuur ontslae te raak nie.

In lekker Suid-Afrikaanse tradisie het ons ons kampstoeltjies uitgehaal, om die kruiwa gepak en toe lekker agteroor gaan sit met ʼn glasie wyn of ʼn bier in die hand terwyl ons oor die besonderse Blou Donau, soos die wals dit noem, uitgestaar het.

Vrede.

Maar ons vrede was van korte duur… Die kole het net begin om die belofte van die perfekte vuur in te hou, toe ons vriendin Marlize se oë begin rek en sy fluister: “Ek dink ons het ‘n probleem…” en met haar kop in die rigting van Helga se huis beduie.

Soos ʼn wafferse drilsersant uit die Duitse Weermag kom Helga in volle vaart, met haar eg Duitse fyn blommetjiesrok met ʼn wit voorskot, soos ʼn seilboot se mas gebol agter haar, aangestoom in ons rigting. Sy lyk nie gelukkig nie… en nie een van ons is presies seker hoekom nie.

Sy bars deur ons vriendekring en pyl af op die vuur of op Nico, wat langs die vuur staan. Sy het vir die vuur gemik…

Terwyl sy herhaaldelik roep: “Kaput! Kaput!” gryp sy die kruiwa se handvatsels en met een beweging gooi sy die hele vuur met al sy perfekte kole op die fietspad langs die rivier uit.

Al mompelend, oor mense van Suid-Afrika wat haar kruiwa kom verwoes, draai Helga om met haar kruiwa en stoom terug huis toe.

Daar hang ʼn doodse stilte oor ons almal. Ek weet nie of dit uit vrees was vir wat Helga se volgende beweging kon wees en of ons bang was ons gaan in trane uitbars oor ons perfekte vuur wat sopas ʼn koue dood gesterf het op die harde bakstene nie.

Nadat ons Helga in haar huis sien verdwyn het, draai ons almal verslae terug na waar Nico nog steeds met sy bier in sy een hand en braaitang in die ander hand staan en staar na die oorblyfsels van sy Oostenrykse-braaidroom aan sy voete.

Toe kyk hy op en ek was seker daar was ʼn traan in sy oog toe hy sê: “ʼn Mens mors nie met nie met ʼn boer se vuur nie…”

Nodeloos om te se, ons het daardie aand die hoender maar op die stofie in die woonwa gebraai… Ons braai moes maar wag tot ons weer by die huis is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

ANDRE ·

Kan die prentjie vir myself voorstel , baie van daai mense dink ons is besig met een of ander onheilige ritueel as ons ietsie op die kole sit………

Ludwig Visser ·

Ek het self een Saterdagaand in Frankfurt in ‘n Duitse omie se agterplaas gebraai, te lekker, maar die omie het gewaarsku die vuurtjie moet maar kleinerig bly, want die gevaar bestaan dat die bure die brandweer sou ontbied! Hy het darem agterna heeslik saamgeëet aan die skaaptjops wat ek onder in my koffer uit Kaapstad saamgebring het!

Ansie ·

So jammer oor julle mislukte braai in Oostenrijk. .. ons het ooit met 2 campers deur Duitsland getoer en een aand laat bo in die berge ons campers geparkeer en ‘n lekker vuur gemaak om ons vleisie te braai. Dit was nie lank nie toe verskyn die boswagter met die vraag wat ons plan is met die “Bonfire” hier bo in die berge. Ons verduidelik toe dat ons daar wil oornag en ‘n vleisie wil braai. Hy het die spul so gekyk en gevra of ons bekend is met vuur maak, ons is tenslotte is ‘n bos , nadat ons hom verseker het dat ons weet wat ons doen, ons kom tenslotte van Suid Afrika, het hy dit toe gestaan, en gevra of ons tog net sal seker maak dat die vuur gedoof is voor ons die volgende dag vertrek. So gese so gedaan, dit was ‘n lekker nag in die berge met ‘n heerlike kampvuur en ‘n lekker braai.!!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.