Brandvlei, ʼn Boere-Portugees en ’n joolblad

Rui Narciso van Brandvlei saam met sy opregte Kanadese woudwolf, Diego. Rui is ’n gebore Mosambieker wat op HJS in die Paarl op skool was. Foto: Verskaf.

Brandvlei, 9 September…

Vir ʼn joernalis om ʼn goeie storie te skryf, geld daar twee goue reëls: bemeestering van jou onderwerp en  ʼn nuussin. Jy moet jouself ontvanklik maak vir materiaal wat jy kan gebruik. Dit help ook as jy op die regte oomblik op die regte plek is, soos die fotograaf wat Churchill as krygsgevangene van die Boere afgeneem het.

Hierdie man lyk soos ʼn Bybelse figuur met sy volbaard en lang hare. Sy naam is Rui Narciso. Korrek, hy is ʼn Portugees. Rui praat aksentlose Afrikaans. Ek het eenkeer geskryf dat daar ʼn storie in elkeen van ons is. Rui het ook ʼn storie.

In 1976 vlug hy, sy ouma, sy ma en suster vir hul lewe uit die oorloggeteisterde Mosambiek. Hulle beland met net die spreekwoordelike klere aan die lyf in Suid-Afrika. Rui se pa, Jorgio, was ʼn kolonel in die Portugese weermag.

“Papa Jorgio was ʼn beroepsoldaat. Hy was heilig oortuig van die rol wat hy en sy medevegters in Mosambiek moes speel en dit was om te sorg dat daar vrede en stabiliteit heers.” Papa Jorgio het tot die bitter einde teen Frelimo geveg.

“Ons het ʼn goeie lewe in Mosambiek gehad. Ons het in die ou Lourenco Marques gewoon en het eiendom besit waarvoor my ouers hard gewerk het nadat hulle Portugal verlaat het. Om eerlik te wees, Mosambiek was idillies. Ons mense het net tot tweeuur gewerk, dan het ons gaan swem in die heerlike Indiese Oseaan. Vrydae was daar glad nie gewerk nie. Mosambiek in daardie dae was die naaste wat jy jou aan ʼn aardse paradys kon voorstel. Jy het al van LM-garnale gehoor, nè? Wel, ek kan jou nou sê daar is niks lekkerder nie.”

Rui is besig om gemsbok voor te berei by sy gastehuis op Brandvlei.

“Môre kom ʼn televisiespan van National Georgraphic hiernatoe. Hulle gaan vir die eerste keer proe hoe smaak gemsbok.

“Kom hulle ʼn dokumentêre program skiet oor skulpneerslae in die woestyn?”

“Skulpneerslae hier in hierdie horingdroë wêreld van julle, in die middel van nêrens?”

Brandvlei is op hierdie oomblik bitter droog.

“Ja. Jy sien, miljoene jare gelede was daar hier waar ons nou staan, seewater. Namate die see teruggetrek het, het skulpfossiele agtergebly wat vasgevang is in die Karooagtige sandsteen onder die grondoppervlakte. Dis waaragter die rolprentspan van New York is.”

En sal hy wat Rui is, ooit na Mosambiek terugkeer?

“Nee, nooit nie. Maar ek het steeds die titelaktes van die gesogte eiendomme wat ons daar teen die see besit het. Ek is nou 47. Maar teruggaan soontoe sal ek nooit weer nie. Ook nie Portugal toe nie.”

“Wat het jy teen Portugal?”

“Papa Jorgio en sy makkers moes ʼn alleenstryd teen Frelimo veg. Portugal het ons hand en mond belowe hulle sou versterkings stuur, maar hulle was meer bek as binnegoed. Hulle het ons skandaliglik in die steek gelaat. My pa en sy kamerade was ’n handjievol soldate wat teen ʼn oormag moes baklei. Hulle het tot die einde alles gegee. Ek is tot vandag toe baie verbitterd oor hoe Portugal ons verloën het .”

En die Afrikaanse verbintenis?

“Ek was van my eerste skooljaar tot in matriek aan die Hoër Jongenskool in die Paarl!”

En nou is dit Rui en die liefde van sy lewe, Jaci Farrel (“My opregte Boeremeisie wat ek op Paternoster raakgeloop het”) wat saam met hul vier honde en ʼn volbloed- Kanadese wolf  op Brandvlei in hul gastehuis bly.

Idilliese jare

Die spranklende Zachie Schwim van Huis Madelief op die Kovsiekampus was in 1973 die Ritsim, joolblad van die UOVS, se voorbladnooi. Madelief was ook die tuiste van Karen Scholtz, ster van ‘Die Winter van 14 Julie’. Foto: Verskaf.

Terug by die Rui se gastehuis in die voorhuis lê ʼn goed bewaarde tydskrif met ʼn stralende nooientjie op die voorblad. Dis ʼn Ritsim, gedateer 1973. Dieselfde jaar toe ek en my mede-uitverkorenes – ja, ons was uitverkore en onbeskryflik bevoorreg – ons as eerstejaars aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat ingeskryf het. En ons moes Ritsim’s verkoop…. Ja, die Ritsim was die joolblad. Dit was ʼn tyd toe ons tot in die vroeë oggendure sierwaens gebou het en groen boekies moes dra en die strate met blikkies ingevaar het om geld vir liefdadigheid in te samel… ’n tyd toe jy die seniors as “oom” moes aanspreek en moes ligloop vir “Prof. Parker” en sy parkeerkaartjies en geleer het dat die Shimlas die konings van die kampus was – en die Irawas die tweede span en die Ritsims die derde span.

Ek vou die Ritsim oop. Binne-in pryk die mooiste rose van Bloemfontein… Sandra Lategan, Joan Rodgers, Irma Kruger, Marietjie du Toit, Mariane Mostert, Esdé Olivier, Kiewiet Klopper, Marieta Pretorius… En die teerste bloeiseltjie van hulle almal verfraai die voorblad: Zachie Schwimm.

Ons het gerasie, ge-intervarsity en ons vergaap aan die joolkatte[1], trompoppies en ons beeldskone joolkoninginne. Ek sal tot my laaste lewensuur volhou dat daar in die sewentigerjare nie ʼn beter plek op aarde as ons geliefde UOVS was vir enige student nie. Tussen rugby, jool, sokkiejollie en die skone geslag[2] was daar beswaarlik enige tyd oor vir studeer.

Ja, as jy jou ore en jou oë oophou, vind jy altyd storiemateriaal.

Rui en Jaci se gastehuis heet Casablanca. Dis die tema van ʼn klassieke rolprent met dieselfde naam. Op die moment critique trek die hoofrolspelers Ingrid Bergman en Humphrey Bogart in Rick’s Café los met “La Marseillaise – die epiese, aangrypende Franse volkslied.

Is dit toevallig dat my selfoon se luitoon La Marseillaise is? Is dit toevallig dat ek en Tish moes tuisgaan in ʼn herberg met die naam Casablanca? En dat my pad kruis met dié van ʼn verafrikaansde Portugees? En dat ek in Casablanca ʼn Ritsim van 1973 optel wat my gemoed laat volskiet het?[3]

  • Pierre Massyn is ʼn oud-TV-joernalis en skrywer van Springbok Rugby-Vasvra.

Voetnote:

[1] Die joolkatte was goed afgerigte troupé-eerstejaars vermom in Pink Panther-kostuums wat op die maat van Henri Manzini se temalied vir die fliek met dieselfde naam die skares in Bloemfontein se strate met hul passies getrakteer het.

[2] Sien Maroela Media, “Van Skoonheidskoninginne tot TV-nuusverslaggewer” (11 Februarie 2019). Karin Scholz was ʼn tydgenoot van die skrywer en ster van Die Winter van 14 Julie. Pierre Massyn en latere rugbybaas Herold Verster was stigtersredaksielede van Kovsieland in 1977 toe Massyn met haar ʼn onderhoud gevoer het.

[3] Sien Maroela Media: “Glo jy in Toeval?” (1 Februarie 2019).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

10 Kommentare

Goeie jare ·

Ek hoop jy en jou boervroutjie en res van gesin het nog baie vreugdevolle jare. Die 70’s en 80’s was die beste en toe kom die 90’s en niks was ooit weer dieselfde nie.;

Faan ·

Rui is 47 .Met ander woorde gebore in 1972 . In 1973 is hy op Kovsies maar hy vlug eers in 1976 uit Mosambiek . Iets is duidelik nie pluis nie

Raakrustig ·

Faan, die skrywer van die artikel was 73 op Kovsies…

Faan ·

Dankie . In wie se idilliese herhinneringe van Mosambiek deel ek . Die jonger as 4 jarige Rui wat minder as 2 uur per dag werk en dan lekker in die see swem of die skrywer sn . Net so terloops Frelimo het in middel 1974 beheer oorgeneem en die Portugese magte het toe onttrek . Hoe pas dit in met Rui en sy familie se vlug na SA in 1976

Neville king ·

Ons het Rui en Jaci ontmoet toe ons by 2 geleenthede in hul gastehuis oorgebly (geslaap) het , n baie gasvrye en interresante paartjie met n baie unike gastehuis en wolwe , n belewenis wat ek vir almal aanbeveel

KrokodilBotha ·

Vandag se kinders verstaan nie wat die Portugese in Angola en Mosambiek moes deurgaan nie. Ons het rugby en n reenboog darem. Laat my dink as kind die visvang by Kariba in die goeie ou Rhodesia. Ook belangrik, ons is nou op die suidpunt van afrika. En hier sal ons bly.

lh ·

Wat ‘n pragtige verhaal . . .

Net jammer Faan is weer tegnies vandag met sy datums . . . ALMAL het seker nie op die spesifieke dag toe Frelimo oorgeneem het, kon vlug uit Mosambiek nie?

Boer-in-die-Wind ·

Ironie?
Ek is getroud met ‘n ’74 vlugteling wat hul veiligheid in SA kom vind het nadat Portugal hul burgers in Mosambiek verraai het.
Nou is ons besig om ons bates Portugal toe te skuif vir veiligheid en om moontlik later daar te vestig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.