Chicago – my tipe stad

Stap langs Michigan-meer Foto: Marianne Styan

Stap langs Michigan-meer Foto: Marianne Styan

“Moenie regs kyk tot ek so sê nie…” Ek hoor nog steeds my vriend se stem elke keer as ek terugdink aan Chicago. Hy het my opgelaai by die lughawe en ons het in Lake Shore Drive gery. Dit was net ná sonsondergang en die lug was nog steeds ʼn blou-pienk skakering. Ek het oor Lake Michigan uitgekyk, aangesien die stad aan my regterkant “off-limits” was – vir die oomblik.

“Goed… kyk nou!”

Ek weet nog steeds nie wat ek verwag het nie, maar ek sal nooit die uitsig vergeet wat my begroet het nie. Ons was reg bo-op die brug oor die Chicago-rivier, wat in die stad invloei vanaf Lake Michigan. En aan my regterkant het dit gevoel of ek reg in die hart van Chicago ingekyk het.

Die ongelooflike wolkekrabbers se donker silhoeëtte afgeëts teen die pers lug; hulle lig-gevulde strukture wat die rivier omarm wat teen hulle voete vloei. Tronend en amper oorweldigend, het dit my laat voel of ek in ʼn ware 3D-film is – sonder die brille!

Hoe ek oor Chicago voel is heel moontlik een van die moeilikste dinge vir my om te verduidelik aan iemand anders… Hoekom? Sekere dinge in die lewe moet net self ervaar word.

Vir my is Chicago sinoniem met vriendelik, blou en lig. Ja, kan jy glo, geen wind! Ek dink die naweek wat ek in Chicago was, was die enigste naweek sonder wind. Ooit.

Baie van die pragtige geboue in die stad is gebou in die 60’s. As mens vandag na hulle kyk sal mens sukkel om te onderskei tussen die moderne en die ou geboue.  Meeste van die geboue het groot, glas fasades en dit reflekteer die blou lig tot reg onder in die beskermde strate en paadjies langs die rivier wat deur die stad kronkel. Die argitektuur in die stad is elke argitek se droom. Dit was ook die tuisdorp van die baie bekende argitek Frank Lloyd Wright en sy baie gewilde ontwerp, Fallingwater, is steeds hier te sien en kan afgeneem word – wat ek toe wel op my laaste dag gedoen het.

Vroeg die volgende oggend, na my eerste ontmoeting met die stad van my drome, was ek buite, besig om die strate te bewandel.

Chicago is ʼn stad propvol wêreldgehalte museums en kulturele ervaringe. Mens kan die energie voel wanneer jy in die strate af stap. Dit is ʼn groot stad om binne een naweek te verken, maar ek is nie bang vir ʼn uitdaging nie en dus het ek die strate sommer so hardloop-hardloop aangedurf.

Die beste manier om die stad te ontdek, is met ʼn City Pass. Dit gee mens toegang teen halfprys tot vyf van die bekendste besienswaardighede in die stad. Wat ʼn winskopie. Met museums en kunsgalerye galore moet jy mooi beplan of mens kan verlore raak in tyd en dalk iets mis!

In Chicago gee die Pass jou toegang tot die volgende: Die Shedd Aquarium (die grootste akwarium in die wêreld), die Skydeck Chicago, die Field Museum en dan twee kaartjies met ʼn keuse tussen die 360 Chicago of die Museum of Science en die Adler Planetarium of die Art Institute of Chicago.   

Om die stad te besigtig vanaf die Wallis Tower Skydeck  (vroeër bekend as die Sears Tower) met ʼn 360 grade uitsig en geleentheid om op ʼn glaslysie, 412 m in die lug, te staan, is absoluut asemrowend. Ek is nie ʼn groot belangstelling in die wetenskap nie en het dus eerder besluit om nog ʼn stadbesigtiging te doen by die 360 Chicago (vroeër bekend as John Hancock Observatory). Miskien het dit te doen met my belangstelling in argitektuur dat ek so mal is oor al die mooi, ou geboue of om in die vinnigste (ek is mal daaroor hoe alles in Amerika die vinnigste, hoogste, beste en grootste is!) hysbak in Noord Amerika te ry – vanaf die grond tot die 94ste vloer binne 40 sekondes! Hier kan mens ʼn multimediatoer doen wat uitkyk oor die Magnificent Mile (Michigan Avenue) met al sy bekende restaurante, winkels en museums.

Vir my was die moeilike keuse tussen die Planetarium en die Art Institute. Bang dat ek dalk ʼn tou gaan moet deel met skoolkinders, het ek toe besluit op die Art Institute, wat ek baie geniet het. Wat ʼn eer om bekende skilderye, soos “A Sunday on la Grande Jatte” deur Georges Seurat te kan besigtig! Onthou om genoeg tyd toe te laat om tydsaam jou gang te gaan. Ek moes baie vinnig daar deur, wat ʼn jammerte was.

Geen besoek aan Chicago is volmaak voordat mens nie ʼn myl gestap het nie – die Magnificent Mile. Om inkopies te doen en ʼn koffie te geniet by die straatkafeetjies is verslawend. Ons het ook by die bekende Millennium Park aangegaan wat die stad se leuse: “Urbs in Horto” [Stad in ʼn tuin] na die volgende vlak neem. Ongelukkig het ek nie tyd gehad vir ʼn Broadway-optrede nie, maar het wel ʼn rit geneem op die legendariese Chicago “L” (verhoogde treine).

Vir ʼn groot finaal tydens sonsondergang, het ons ʼn wandeling geneem al langs Lake Michigan en die besoek afgeëindig met ʼn heerlike aandete by een van die restaurante naby die Navy Pier, met ʼn jazz-orkes wat in die agtergrond speel. Ek begin neurie…

“My kind of town, Chicago is my kind of town,
Chicago is my kind of razzmatazz and it has all that jazz…”

Frank Sinatra het dit geweet… nou weet ek beslis ook dis my tipe stad…
Kom en besluit self of dit joune is…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Cathy Kotze ·

Chicago IS ‘n pragtige stad. Dis egter goed om maar ‘n bietjie elders te gaan kuier in Desember/Januarie en Julie/Augustus.

Winters is vrek koud en die warmste wat ek ooit gekry het was een jaar in Augustus in Chicago.

Johan ·

Wonderlike stad – in die somer.
Maar jy moes in die Chicago “L” (verhoogde treine) bly sit het tot in die slumgebiede met die honderde leë geboue!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.