Deurkruis die Crags

Foto: Carina Stander

Dis die gereelde afwisseling van sonskyn en reën dwarsdeur die jaar wat die Tuinroete in ʼn groen, geil tuin omtower. In die middel van die winter, wanneer die warm bergwinde waai, is dit soms soel genoeg dat jy in die see kan baljaar. In die somer warrel ʼn kouefront soms verby, dan brand die kaggelvure op Kersdag. As jy net ʼn week in die Tuinroete vertoef, is die kans goed dat jy iets van alles sal beleef: bewolkte weer én salige, windstil stranddae. Wanneer dit nie volmaakte strandweer is nie, is die Crags ʼn uitstekende omgewing om te verken. Die Crags is ʼn plaasgebied anderkant Plettenbergbaai wat wemel van verrassings. Digby mekaar is hier genoeg plesiere en natuuravonture om ʼn gesin vir ʼn week lank te vermaak. Ek lys vyf topklas ervarings in die Crags:

Bramon wynlandgoed

Foto: Carina Stander

Jy hoef nie in die Boland te wees om aan wonderlike Kaapse wyne te teug nie. Die Tuinroete is die laaste paar dekades ʼn groeiende wynstreek en daarvan is die jaarlikse Plett Wine & Bubbly Festival ʼn bewys. Bramon, ʼn boetiek-wynlandgoed met ʼn 250 ton-kelder, was in 2000 die heel eerste wynplaas so ver oos van die Boland. Bramon se pioniersgees en waagmoed met tradisionele en eksperimentele wyne is beloon met nasionale en internasionale toekennings, onder andere twee dubbele goue Gran d’Ors. Dit is veral hulle vonkelwyn, die Blanc de Blanc, met sy karakter van gebakte appel wat groot lof inoes. Die vonkelwyn is lig soos ʼn veertjie op die tong. Sag soos ʼn seebries. Dit sorg vir ʼn sjarmante vonkel in die oog. Die Crags Nectar het weer ʼn tropiese nuanse en is ʼn passievolle pasmaat saam met kos.

By Bramon kan jy al dié wyne by die proekamer uitprobeer, maar dit bly tog die heel lekkerste om dit saam met die eksotiese geregte in hulle restaurant te geniet. Die diens in die restaurant is vriendelik, flink en Afrikaans. Daniel die wynkenner deel sy kennis met gemak, Jan die bestuurder draai ʼn paar keer by al die tafels om seker te maak al die gaste is so gelukkig soos wat hulle lyk en Nicole is die skakel wat sorg vir besprekings. Op ʼn sonnige dag kan mens ʼn tafel reg in die wingerd met ʼn uitsig oor die Tsitsikammaberge bespreek, maar toe ons daar was, was dit reënerig en daarom het ons onsselwers tuisgemaak by ʼn tafel knus langs die kaggel. Op die spyskaart stel Bramon voor dat elke mens so twee of drie van die tapas-styl geregte kies en dit eet saam met hulle oondwarm brood. Die geregte is geurig en die porsies is gul. Ons smul behoorlik aan die peerslaai-met-neute-en-bloukaas, die dolmades, dadels toegedraai in spek, romerige mossels, Spaanse frikkadelle en waatlemoenskilkonfyt. Dan is daar die koninklike kase! Camembert-met-vye-en-neute. Gebakte-brie-met-bosbessies. Ook die poeding is van so aard dat jy dit met die res van jou tafelgenote kan deel: blokkies tiramisu-fudge, saadryke koekies. Om so kuier-kuier aan dieselfde kos te peusel, sorg vir groot geselligheid. By Bramon kry jy nie net ʼn ete nie – jy kry ʼn kosherinnering. Skakel: 073 833 8183 of 060 997 1299 tussen 10:00 en 16:00. Vonkpos: [email protected]. Webwerf: https://www.bramonwines.com/

Birds of Eden Sanctuary

Foto: Carina Stander

Skaars vyf minute se ry vanaf Bramon is die grootste vryvlug voëlpark ter wêreld. ʼn Koepel van fyn draad span twee hektaar ver bo-oor ʼn inheemse woud en kloof. Daarbinne is 3 500 voëls van meer as 220 spesies wat vroeër in aanhouding geleef het. Hulle deel dié habitat met ‘n troppie blouduikers. Dit is verstommend wonderlik dat die geveerdes ʼn armlengte van mens af kom sit, maar steeds wild leef – ʼn nuwe kans ná ʼn vorige lewe van gevangeneskap. Jy kan op jou eie tyd deur die woud met sy watervalle wandel, oor die betowerende hangbrug en verby die poele met watervoëls. Jy doen die roete sonder ʼn gids en kan so lank as wat jou hart begeer op die bankies langs die paadjie rus en jou verluister en verkyk aan al die kleurrykheid. Die voëlpark is rolstoelvriendelik en stootwaentjievriendelik, reg vir oud en jonk. Skakel: 044 534 8906 of 082 9795683. Webwerf: www.birdsofeden.co.za

Monkeyland

Foto: Carina Stander

Monkeyland is reg langs die voëlpark geleë. Hulle behoort aan dieselfde eienaars en werk op dieselfde beginsel van ʼn vrye lewe vir wilde diere wat voorheen in aanhouding was. Meer as 700 ape van elf spesies wat gered is uit laboratoriums, sirkusse en huise waar hulle as troeteldiere aangehou is, geniet hier ʼn lewe sonder hokke of die aanraking van mense. ‘n Goed-opgeleide gids begelei jou vir ʼn uur lank deur die inheemse woud en oor ʼn reusehangbrug tussen die takke. Daar is ‘n kombo-pakket vir toegangskaartjies na die aappark en voëlpark. Saam het die parke al talle toekennings ingepalm, onder andere die Skål International Sustainable Tourism Award vir Beste Toerismebestemming, die Beste Dierewelsyninisiatief en Wenner van die World Responsible Tourism Awards. Skakel 044 534 8906. Vonkpos: [email protected] Webwerf: www.monkeyland.co.za

The Mohair Mill Shop

Foto: Carina Stander

Het jy geweet Suid-Afrika is die grootste produsent van Angora-bokhaarprodukte ter wêreld? Verkyk jou by The Mohair Mill Shop aan ʼn magdom kleurmal bokhaarkomberse, truie, handskoene, sokkies, serpe en geweefde matte. Jy kan natuurlik ook wol hier koop. Hier is leerprodukte en dekor. Die sjiek winkel is geleë in ʼn ou meulefabriek. Kinders kan die angorabokkies kosgee. Skakel: 044 534 8997. Webwerf: www.mohairmillshop.com

Porcupine

By dié kunsateljee word Raku-keramiek gemaak. Dit is in dieselfde gebou as die bokhaarwinkel. As jy op soek is na ʼn eg plaaslike geskenk, maak gerus ʼn draai by Porcupine. Met ʼn verskeidenheid van ongeveer 140 handgemaakte wasbakke, kershouers, borde en kleibeelde in die Afrika-tema, is hier iets vir elke smaak. Skakel: 044 534 8910. Webwerf: www.porcupineceramics.com en www.porcupinebasins.com

As jy ná al die genoemde vermaak nóg energie en tyd het om die Crags verder te deurkruis, besoek gerus die webwerf https://www.cruisethecrags.co.za/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Erick ·

Ons was dié langnaweek by Monkeyland en dit was wonderlik gewees. Ek sal dit definitief aanraai!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.