Die afdraai na Kerkstraat om van ons mooiste bruide te ontmoet

Foto: Die Tuishuise & Victoria Manor)

In die verte is dit altyd sigbaar, die opmerklike hoë torings. Die klokke lui, en as die dorpie betree word, voel dit asof jou vader jou inwag, amper soos die lang verlore seun wat huis toe keer. Elke dorpie het só ’n vader-, oftewel moederfiguur, en dis iets wat uitstaan vir die meeste toeriste of besoekers wat hulself in enige van Suid-Afrika se dorpies bevind.

Dit is dikwels die gebou met die meeste karakter en as jy by die poorte instap, weergalm ’n stem tussen die pilare wat die dorpie regop hou en die reuk van kiaathout treusel nog in jou onderbewussyn. Die lig val skuins op die kanselkleed en die boodskap tref jou bors met mening.

Daar is min beweging en die Psalms sing melodies soos ’n straattroebadoer, ’n wildsbok wat wandel en die sondaars word met die beste wyn bedien, want hiér is almal welkom. In Suid-Afrika se kleiner dorpies is die lewe dikwels in die bruid se skoonheid. In die woorde van die Sjinees-Amerikaanse argitek, I. M. Pei, is argitektuur die spieël van die lewe. Jy hoef slegs jou oë op die gebou te rig om die teenwoordigheid van die verlede en die gees van die plek te voel; dis die refleksie van ’n samelewing.

Ná die opspraakwekkende Afrikaanse rolprent Dominee Tienie besef ’n mens watter outoriteit in ’n kerkgebou sit en dat ons land met heelwat van hierdie praggeboue kan spog. LekkeSlaap het deur die land heen na kerkgeboue gekyk, sodat gaste die mooistes kan besoek terwyl hulle op reis is.

  1. Bredasdorp

Bredasdorp lê aan die voet van die Heuningberge teen Preekstoel-heuwel tussen wilde fynbos en die rooi Bredasdorp-lelie. Toe die gemeentelede van die suidelike deel van Swellendam wou afstig, was daar ’n dispuut tussen Pieter van der Byl en Michiel van Breda oor waar die kerk moes wees. As gevolg van dié onopgeloste argument is daar toe twee nuwe gemeentes gestig waarvan die NG Gemeente Bredasdorp op 22 Maart 1839 in Lange Fontein gestig is ─ die 23ste bestaande NG gemeente in Suid-Afrika. Vandag spog dié ouwêreldse dorp met ’n uitsonderlike kerk wat in 1860 in ’n Neo-Gotiese styl gebou is en deel van die Skeepswrakmuseum-kompleks vorm.

(Foto: Elna Geldenhuys)

Klik hier as jy die proteas van Bredasdorp vir jou kombuistoonbank by die huis wil koop.

  1. Philippolis

Dié tuisdorp van liedjieskrywer Stef Kruger het die nodige stilte vir hom gebied om talle liedjies te skryf waarvoor ons vandag só lief is. Die kans is goed dat Philippolis ’n groot aandeel in treffers soos “Tussen jou en my” en “Pennies op die spoor” het. Dié kerkgebou het die ou Griekwa-kerkie vervang en die hoeksteen is deur dominee Fraser gelê. Die kerk se toring is tydens die Anglo-Boereoorlog as uitkyktoring gebruik en dié gewelddadige gebeurtenis het ook die oorspronklike orrel se laaste pyp gekelder. Kort daarna, in 1907, is ’n nuwe orrel ingesit en vandag beskou musikante dié orrel as een van die beste in die land.

Die NG kerk in dié dorp is vol interessanthede en is as ’n erfenisterrein benoem. Die preekstoel het ’n unieke ontwerp en bevat geen spykers of skroewe nie, en die amptelike klokluier is ook die plaaslike kroegman ─ voorwaar ’n rock ’n roll-dorpie.

(Foto: Kanon Guest House)

’n Nag in die Vrystaat se oudste dorp is beslis nie te versmaai nie, so klik gerus hier om ’n nag of twee in Philippolis af te saal.

  1. Graaff-Reinet

Wat vandag as die Grootkerk en die Nuwekerk in Graaff-Reinet bekend staan, het oorspronklik weens ’n verdeeldheid in die gemeente as gevolg van dienste wat in Afrikaans gehou is, ontstaan. ’n Gedeelte van die gemeente, onder leiding van dominee Naudé, het afgestig en aanvanklik dienste in die stadsaal gehou. Die Grootkerk is later in ’n Gotiese herlewingstyl gebou en is die enigste NG kerk wat ’n kaggel het. Vandag word die Grootkerk as die dorp se simbool gesien en dit is moeilik om nie te stop om ’n foto te neem nie.

(Foto: NG Grootkerk – Graaff-Reinet)

Die Grootkerk is maar een van vele monumentale strukture in Graaff-Reinet, so klik hier as jy dié dorp se verskeidenheid argitektoniese style wil beleef.

  1. Lady Grey

Lady Grey is as gevolg van die afstigting van ’n deel van die NG Gemeente Aliwal-Noord gestig. Die plaas Waaihoek is oorgekoop om die kerk te bou en Lady Grey is na die vrou van die destydse goewerneur, sir George Grey, vernoem. Dié sandsteen-kerk is vandag ’n Nasionale Monument.

(Foto: WikiMedia)

Klik hier as jy ’n skaaptjoppie oor die kole wil gooi in Lady Grey.

  1. Vosburg

Vosburg is in 1895 as ’n nuwe nedersetting gestig en die NG gemeente het ook in daardie tyd ontstaan. Die Australiese argitek, William Henry Ford, het die kerk ontwerp en die eerste predikant, dominee J.D. Louw, het op 27 November 1909 die hoeksteen gelê. Vandag spog dié dorpie met 22 nasionale monumente en die kerkgebou word as ’n merkwaardige landmerk gesien.

(Foto: WikiMedia)

Klik hier as jy in Vosburg wil oornag en die San-rotskuns van nader wil aanskou.

  1. Cradock

Dié besondere kerkgebou in Cradock is in 1868 opgerig en die invloed van St. Martins-in-the-Field in Londen kan duidelik in die ontwerp raakgesien word. Cradock het ’n ryk geskiedenis ─ dit is in dié einste gemeente waar Paul Kruger in 1826 gedoop is en dis ook een van die distrikte waar die Groot Trek begin het. Die inwyding van dié kerk was ’n omstrede kwessie, omdat die bouer nie die sleutels wou oorhandig totdat die volle bedrag betaal is nie. Die gemeente het gou-gou ’n hoed omgestuur en die nodige fondse is ingesamel.

Foto: Die Tuishuise & Victoria Manor)

Die Groot-Visrivier staan altyd reg vir ’n visvang-wegbreek, so klik hier om in Cradock af te saal en ’n bietjie lyn nat te maak.

So seker soos ’n amen in die kerk waar die laaste orrelpyp sing, kan jy maar wees om ’n paar pragfoto’s in dié dorpe te neem en die kerke beloof om jou met ope arms te verwelkom.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Altus Booysen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.